in

Minimumbewerking: AST/Matic skep 'n perfekte saadbed

’n Uitblinker-werktuig in Valtrac se stal het minimumbewerkingboere sowel as konvensionele boere regoor die land gaande. ProAgri het by boere in Natal, die Oos-Vrystaat en Noord-Vrystaat gaan hoor hoe die werktuig berge op hulle plase versit.

Die AST/Matic 450 is ’n knap stukkie ingenieurshulp vir die minimumbewerkingboer wat ’n goed deurlugte, vogabsorberende, ongekompakteerde saadbed vir sy gewasse wil skep. Hierdie diepwerkende beitelwerktuig skep die gewenste saadbed met sy stel groot skyfkouters wat netjies deur plantreste sny, opgevolg deur ’n stel beitels wat die grond tot op 450 mm losbreek en afrond met rollers wat die grond tot ’n snoesige saadbed omskep.

Die geheim van die werktuig lê in die ontwerp van die tand met sy unieke uitskopaksie. Die hoek waarteen die tand in die grond insteek verseker dat die grond losgemaak word sonder om kluite te breek. Die uitskopaksie is nie veerbelaai nie, wat beteken dat hierdie kritieke hoek konstant bly, tot in die hardste grond.

Waar die AST/Matic 450 gewerk het, bly daar geen kors of ploegsool oor nie en die grond is regdeur netjies losgemaak vir beter benutting van bemesting, beter waterbenutting en -bewaring, en ’n ferm, maar deurdringbare tekstuur waarin plante nie kan wag om hulle wortels behaaglik uit te skop nie.

AST/Matic 450 kan met ’n sleepstang getrek word of aan die trekker se driepunt haak vir beter kragtoediening en beheer. Die beiteltande se skagte is ontwerp om onder die grond in te haak en deurgaans op die gewenste diepte te bly.

Weidingsbelugter en grondvoorbereider
Gideon Human is bestuurder op Wessel Campher se plaas, Highlands Farm, aan die onderpunt van die Van Reenenspas, aan Natal se kant. “Ons het die werktuig om twee redes gekoop. Op ons gevestigde weiding is dit nodig om so nou en dan die grond wat die diere vasgetrap het net so bietjie los te maak en te belug sonder om dit te veel te versteur. Daar is niks wat gras weer so lekker laat groei soos wortels wat weer ruimte vir vog en suurstof het nie,” sê Gideon.

Gideon Human, plaasbestuurder van Wessel Campher, is baie trots op Valtrac se AST/Matic 450 wat hulle minimumbewerkingproses baie ligter en doeltreffender maak.

“Die groot taak van die AST/Matic is egter om die gestroopte mielielande, wat ook deur die diere vasgetrap is, in een bewerking gereed te kry vir planttyd. Die kouter slaag daarin om die boonste kompaksielaag en plantmateriaal netjies deur te sny sodat daar niks aan die tande kan vassit en saamsleep nie.

“Ons doen al vir baie jare minimumbewerking en het saam met ’n klomp ander plaaslike boere in die gebied gevind dat die grond wel oor ’n tydperk effens vasgetrap word deur die diere, stroper en trekkers. Die AST/Matic 450 help net om die grondtoestand weer vinnig en goedkoop op te knap.”

Wessel het ’n wye spektrum van sand, Hutton en Avalon tot turfgrond, maar die AST/Matic se tande werk perfek in elke tipe. Vir gekompakteerde weiding het die werktuig 20 kW per tand nodig, maar vir algemene werk bereken Gideon 15 kW trekkerkrag per tand. Met ligter grondtipes kan hy met 10 kW wegkom. Hulle gebruik net Valtra-trekkers op die plaas en ’n Valtra 171 wat 136 kW lewer, het net daardie ekstra bietjie krag om die sewetand AST/Matic in enige omstandighede te trek.
 

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Aantree! Wen met LEMKEN aan jou sy

Plant vir Afrika met Great Plains