in

Mbulelo Sikade sing die kroon los by Agri’s got Talent

Mbulelo Sikade

Mbulelo Sikade, ’n algemene landbouwerker van Diemersfontein Landgoed buite Wellington, het Vrydagaand die vierde wenner van Agri’s got Talent geword, toe hy die beoordelaars en ondersteuners se harte verower het met sy towerstem en lewendige verhoogpersoonlikheid tydens ’n glansgeleentheid in die Paarl.

Sikade wat vroeër nie kon glo dat hy die Top 10 gehaal het nie, was Vrydagaand oorstelp met vreugde. “Ek het amper begin huil toe ek gehoor het ek is in die Top 10. Hierdie is van God.”

Sikade moes Vrydagaand uithaal en wys na stywe mededinging van tien ander talentvolle finaliste in ’n kompetisie wat beskryf word as landbou se Idols. Die briljante Afrikaanse rymkletser van Panorama-landgoed by Tulbagh, Jason Baartman, was in die tweede plek, terwyl Jason Tiras, ook van Diemersfontein derde was.

Unathi Mantshongo, uitvoerende hoof van die VinPro Stigting, het gesê die landbousektor is gelukkig om soveel talentvolle indiwidue te hê. “Agri’s got Talent is ’n platform wat talent vier, maar wat meer belangrik is, is dat dit mense van verskillende groepe saambring om mekaar te ondersteun. Dit is ’n tema wat sterk met die VinPro Stigting resoneer omdat ons hard daaraan werk om ’n inklusiewe bedryf te bou met ruimte vir almal se talente.”

Anton Rabe, HORTGRO se uitvoerende direkteur, het gesê dat hy telkens verstom staan oor die wonderlike talente wat landbouwerkers het en die mate van selfvertroue waarmee hulle optree. “Dit is asof hulle dit al jare lank doen. Ek kry elke keer hoendervleis en ’n knop in die keel as ek hierdie geleentheid beleef.”  Volgens Rabe is dit geleenthede soos Agri’s got Talent wat die multi-dimensionele aard van die landboubedryf illustreer. “Die vrugtebedryf gaan nie net oor produkte, produksie en prosessering nie, maar dit gaan oor mense.”

Die 2005 Idols wenner en gaskunstenaar Karin Kortje, wat ook een van die beoordelaars was, het aan die finaliste gesê as musiek in hulle harte is, moet hulle nooit opgee nie. “Ek was ‘n appelpakker van Grabouw, maar ek het geglo dat musiek my geroep het. Moet nooit opgee op julle drome nie.” Die ander beoordelaars was die sangster, Sima Mashazi, die akteur, Maurice Paige, en die stemkunstenaar Eurica Scholtz.

Die Top 10 finaliste het ’n intensiewe opleidingsweek onder die ervare hande van die bekende kunstenaars, Frieda van den Heever en Hein Poole, agter die rug. Petra Nel van PROCARE was hul lewensvaardigheidsafrigter. Agri’s got Talent is die voorste sangkompetisie in die landboubedryf en word gesamentlik deur HORTGRO, die VinPro Stigting en die Wes-Kaapse Departement van Landbou, aangebied. Hierdie jaarlikse kompetisie bied aan talentvolle plaas-, pakhuis- en kelderwerkers in die vrugte- en wynbedryf die geleentheid om groot pryse te wen en hulle sangtalent te ontwikkel.

Vir al die nuus, foto’s en aksie, besoek:: http://agrisgottalent.wordpress.com of Facebook: www.facebook.com/agrisgottalent.

Bron: Hortgro

Agri's got Talent
Die Afrikaanse rymkletser Jason Baartman van Panorama Farms in Tulbagh was tweede. Mbulelo Sikade (in die middel) van Diemersfontein in Wellington dra die Agri’s got Talent 2017-kroon en Jason Tiras (ook van Diemersfontein) was in die derde plek.

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

bees

Hoe bestuur jy jou vervangingsverse?

Stara

Stara spuit/strooier-kombinasie