in

Mark vir medisinale sampioene gereed vir volgehoue groei

Craig Fourie met Mushroom Guru se Reishi-sampioene.

This post is also available in: Afrikaans

Kan selfs groter as medisinale daggabedryf word

Die mark vir medisinale sampioene toon tekens van beduidende toekomspotensiaal, met groei vir die volgende vyf tot sewe jaar wat na raming die mediese daggabedryf sal ewenaar of selfs oorskry.

Craig Fourie, ʼn sampioen-deskundige met meer as 24 jaar ervaring, sê die groei sal grootliks gedryf word deur Ganoderma lucidim, oftewel Reishi, en deur sampioene wat Psilosibien bevat.

Ganoderma lucidum, bekend as Lingzhi in Sjina en Reishi in Japan, is ʼn oeroue spesie met die oudste bekende medisinale gebruike, insluitend die ondersteuning van kardiovaskulêre gesondheid, die bestryding van kankerselle en bakteriese infeksies, beskerming teen virusse, verhoogde energievlakke en breinfunksie, die verlaging van cholesterol en asemhalingsprobleme, verligting van allergieë, en meer. ʼn Vinnige soektog na die voordele van ‘Ganoderma lucidum’ op Google Scholar, ʼn platform vir eweknie-geëvalueerde studies, lewer 11 500 artikels.

Fourie meen: “Die grootste voordeel van die Reishi-sampioen lê in sy vermoë om immuunfunksie te verbeter. ʼn Pre-kliniese proefneming wat op MG-LZ8, ons Reishi-ekstrak, uitgevoer is, het binne 48 uur ʼn 43% toename in immuunfunksie getoon, wat buitengewoon is. Ons ekstrak is na die Medical University in Louisville, Kentucky gestuur waar dit ontleed is deur die wêreld se voorste deskundige op die gebied van glukaantegnologieë, doktor Vaclav Vetvicka, professor van patologie en laboratorium-geneeskunde, navorsingsdirekteur en visevoorsitter van navorsing.”

Fourie sê een van die vele ongelooflike bevindinge wat onmiddellik sy aandag getrek het, was dat die ekstrak beide in vitro sowel as in vivo (in laboratoriumtoetse en in lewende stelsels) nie giftig is nie. “Die gevolge hiervan maak ʼn wêreld van geleenthede vir hierdie besonder sterk ekstrak oop,” sê hy.

Fourie stem saam en voeg by dat, nadat die uitwerking van MG-LZ8 eerstehands ervaar is, baie van sy kliënte meer bewus geword het van die kos wat hulle eet en die medikasie wat hulle neem. “Dit is deurslaggewend belangrik dat ʼn mens na die bioom van jou ingewande omsien, en dat as jy werklik medikasie soos antibiotika moet neem, jy ook ʼn probiotikum daarmee saam gebruik om jou delikate ingewand-flora te herbou,” verduidelik hy.

Psigedeliese sampioene het die potensiaal om die behandeling van depressie te bevorder

Anders as die medisinale sampioene, is die sogenaamde ‘magic mushrooms’ of psilosibien-bevattende sampioene onwettig in Suid-Afrika en baie lande regoor die wêreld. Die rede hiervoor is dat die spesie beheerde stowwe soos psilosibien en psilosien bevat. Op grond van navorsing en proefnemings wat by vooraanstaande instellings soos Johns Hopkins University School of Medicine gedoen is, toon hierdie selfde stowwe die potensiaal om te help met die behandeling van toestande insluitend depressie, posttraumatiese stresversteuring (PTSV), obsessiewe kompulsiewe versteuring, troshoofpyne, asook die behandeling van verslawings soos alkohol en rook.

Psilosibien en psilosien verteenwoordig ʼn klas van chemiese verbindings wat ʼn primêre uitwerking op serotonienreseptors het, insluitend veranderinge in persepsie en bewustheid. In farmakologiese literatuur word na hierdie klas van middels verwys as ‘hallusinogene’, ongeag die feit dat die stowwe selde tot hallusinasies lei (in die sin dat dit mense dinge laat sien of hoor wat nie daar is nie). In ander akademiese vakgebiede word die term ‘enteogeen’, wat min of meer ‘gees-fasiliterend’ beteken, toenemend vir hierdie klas van stowwe gebruik.

Internasionale navorsing toon die afgelope aantal jare ʼn volgehoue toename in die vraag na medisinale sampioene, met ʼn onlangse verslag wat ʼn verwagte saamgestelde jaarlikse groeikoers van bykans 13% vir die tydperk 2017 tot 2023 toon.

Mushroom Guru se Reishi-sampioene.

Plaaslik ontwikkelde groeistelsel verleen meer krag aan ‘bonatuurlike sampioen’

Fourie sê daar is baie maniere waarop Reishi-sampioene verbou kan word. Hy verkies egter om metodes te verken wat die natuurlike produksie van farmakologies aktiewe bestanddele in die sampioen verbeter. Sy maatskappy, Mushroom Guru, verbou sedert 2013 hul eie unieke Reishi-sampioene en het ʼn ekstraksiemetode ontwikkel wat die aktiewe samestellings in die sampioen verbeter. Mushroom Guru se MG-LZ8-ekstrak is in vier produkte ontwikkel – ʼn kapsule, velserum, geteikende terapiedruppels (tinktuur), en ʼn heuningsakkie (sien www.mushroomguru.co.za).

“MG-LZ8 is die eerste produk in Suid-Afrika wat uit suiwer en heel Reishi-sampioenekstrak bestaan en ek glo daar sal binnekort bewys word dat dit die mees aktiewe medisinale sampioenekstrak in die wêreld is,” sê Fourie.

Voordele uitgebrei na veebedryf, en verder

Mushroom Guru ondersoek tans die moontlikheid om MG-LZ8 in die veebedryf te gebruik vir die skepping van immuunversterkende produkte. Fourie het reeds sukses behaal met die verligting van koliek onder perde, mastitis (bakteriële uierinfeksie) in koeie, gewasse in honde en selfs chroniese obstruktiewe longsiekte in katte. Mushroom Guru se oogmerk is om die ontwikkeling en gebruik van medisinale sampioenekstrakte in hierdie bedryf deur middel van samewerkingsondernemings te bevorder.

Die Suid-Afrikaanse mark vir medisinale sampioene is nog jonk. En dit, sê Schalk van Rooyen – ʼn natuurwetenskaplike en tegniese konsultant vir Laeveld Agrochem op die gebied van botaniese ektraksies, plantvoeding en die alternatiewe gebruik van plante – dra by tot ʼn stigma rondom sampioene en die genesende voordele daarvan. “Ons sien ʼn soortgelyke stigma rondom die medisinale gebruik van kruie, hoewel daar reeds toenemende aanvaarding op hierdie gebied is,” sê Van Rooyen.

Van Rooyen, wat omvattende ervaring het in natuurlike produkchemie wat spruit uit sy loopbaanervaring by die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR), sê die mark vir natuurlike medisinale produkte soos medisinale sampioene hou enorme potensiaal in. “Om ʼn enkele voorbeeld te noem, Mushroom Guru het daarin geslaag om ʼn hoogs gekonsentreerde ekstrak van die Reishi-sampioen te ontwikkel. Dié ekstrak het ʼn verhoogde medisinale aktiwiteit wat die regulering van die immuunstelsel bevorder en ook baie sterk anti-inflammatoriese eienskappe bevat,” verduidelik hy.

Toekomsfokus op skaalbare boerdery

Nis- en mikroboerdery-ondernemings soos Mushroom Guru groei die afgelope paar jaar hand oor hand in Suid-Afrika. Baie van hierdie ondernemings, insluitend Mushroom Guru, het op Laeveld Agrochem se bekroonde Nisboere TV-reeks op DStv se VIA-kanaal verskyn. Die program is tans besig met die verfilming van die vyfde seisoen wat vroeg in 2020 uitgesaai sal word.

Corné Liebenberg, Laeveld Agrochem se bemarkingsdirekteur, sê hoewel die groep se fokus primêr op die kommersiële kant van landbou is, hulle ook poog om betrokke te raak by nisboerderypraktyke wat vir gewone mense die geleentheid bied om deel te neem en wat nie noodwendig groot kapitaaluitleg of boerderyruimte verg nie.

“Nisboerdery is die antwoord vir boerdery in Suid-Afrika en weliswaar wêreldwyd, veral teen die agtergrond van klimaatverandering en die onvoorspelbaarheid wat daaruit spruit, en wat toenemend boerdery op ʼn groter skaal sal belemmer. Nisboerdery behels gewoonlik groter skaalbaarheid op ʼn kleiner area, en ek glo dit sal toenemend die model vir toekomstige boerdery word,” is Van Rooyen se slotsom.

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

ProAgri

ProAgri 238

Kristaltegnologie kry woema: Beheer insekte en plae nou nog beter