in

Manna vir die Boere

“Die boere is naby aan ons hart en dit is tyd om vir hulle iets terug te gee,” sê Carel Theron, bemarkingsbestuurder van John Deere. Carel sê John Deere is ‘n maatskappy wat daaraan glo om terug te ploeg in die gemeenskap en daarom het hulle besluit om as hoofborg op te tree vir die konsert wat gereël is om geld in te samel vir boere wat in die nood is as gevolg van die droogte. “Boere is immers ons grootste kliënte,” sê Carel. Die Manna vir die Boere-konsert is op ‘n snikheet Saterdagmiddag by die Voortrekkermonument in Pretoria gehou en van die land se voorste Afrikaanse kunstenaars het gratis opgetree as hulle bydrae tot droogtehulp. Duisende mense het die amfiteater met hulle sambrele ingestroom, simbolies gereed vir reën. Die kunstenaar, Adam Tas, was die brein agter die konsert en hy het dit in samewerking met die Caring Daisieshulpgroep aangepak. Hy het ook spesiaal ‘n liedjie vir die boere geskryf, Manna vir die Boere, wat hy by die konsert gesing het.

Met die opening van die konsert het Adam gesê: “Hierdie is seker die enigste vertoning in die land waar niemand gaan omgee as dit begin reën nie.” Adam se woorde het teen die einde van die konsert waar geword. Laurika Rauch was besig om haar bekende liedjie, Stuur groete aan Mannetjies Roux, te sing. Saam met die refrein: “O stuur ons net so bietjie reën,” het die sluise oopgegaan en die sambrele was skielik nie meer simbolies nie, maar noodsaaklik. “Ná die eerste twee verse was daar skielik ’n vreeslike rukwind nadat die wind die hele middag nie geroer het nie. Toe ons die refrein sing, het ek druppels op my arm gevoel. Ek het eers gedink ek verbeel my, maar toe sien ek reëndruppels op die verhoog spat,” sê Laurika Rauch.

Volgens Laurika het dit ook verlede jaar op een van die Afrikaans is Grootkonserte in Pretoria tydens die sing van dieselfde liedjie begin reën. Van die konsertgangers het onder mekaar bespiegel dat sy miskien maar die treffende liedjie in elke droë dorp moet gaan sing. Carel sê ook die reën was ongelooflik: “Ek kan dit amper nie glo nie. As dit maar net orals wil uitsak.” Daar was ongeveer 10 000 mense by die groot geleentheid wat in drie kort weke gereël en bemark is. Soos Pieter Koen sê: “In enkele weke is die konsert bymekaar gesit en kyk nou net!”

Kaartjies het R200 per volwassene gekos en R100 per kind. Omri van Zyl van Agri SA, wat ook die konsert ondersteun het, het gesê: “Dit is wonderlik; in my wildste drome het ek nie gedink daar sal soveel mense hier wees nie. Almal wat hier is maak ‘n verskil. En as die droogte ‘n teken is van hoe ons kan saamwerk, kan niks ons dop nie.”

Net uit kaartjieverkope sal minstens R1-miljoen ingesamel word, het Anria van Heerden, hoof van Caring Daisies, gesê. Borgskappe, skenkings en ‘n veiling by die konsert het die beursie nog voller gemaak. Caring Daisies is in 2010 gestig deur ‘n groep vriendinne met net een doel voor oë – om mense bewus te maak van die wonderlike gawe en voorreg om te kan gee en in die proses lewens te verander. Elke sent wat hulle ontvang, word bestuur en aangewend waar dit werklik ‘n verskil maak, in hierdie geval die boere. Die inkomste uit die konsert sal ook net so na die droogtegeteisterde boere gaan. Sangers soos André Venter, Pieter Koen, Jak de Priester, Juanita du Plessis, Kurt Darren, Corlea Botha, Jannie Moolman, Steve Hofmeyr, Pieter Smith, Laurika Rauch, Joseph Clarke, Dr Victor en Beeskraal het by die konsert opgetree. Thys die Bosveldklong het ‘n model van ‘n windpomp, waarop al die sangers hulle name geteken het, opgeveil en R30 000 daarvoor behaal. Verder het Bakkies Botha R400 000 geskenk en Adam Tas het R50 000, wat hy uit vorige vertonings bymekaar gemaak het, gegee. Bakkies het gesê: “Naas rugby is boer een van my passies.”

Manna vir die Boere-T-hemde was ook te koop om ekstra geld in te vorder. Daar is ‘n projek bekend gestel waardeur ondersteuners R20 vir ‘n liedjie van ’n sanger betaal, wat dan van die internet afgetrek kan word. 75% van dié geld gaan ook vir die boere. Verder het Caring Daisies R800 000 ingekry van ‘n swart rooibok wat opgeveil is. Steve Hofmeyr het die borge en elke persoon wat die konsert bygewoon het, bedank. “Elkeen wat hier is, het ‘n bydrae gemaak. Jy wat hier is, is my held vandag.” Hy sê ook hy dink daar kan maar elke jaar so ‘n konsert vir die boere gehou word.

Jak de Priester sê daar is net een rede hoekom Suid-Afrika mooi is en dit is die boere wat die mooi landskap skep. Hy sê as hoofborg het John Deere bygedra om hierdie mooi landskap te help red en om boere se las te verlig. Juanita du Plessis het met hom saamgestem en gesê: “Saam maak ons ‘n verskil.”

Brad Butler van Real Xposure sê: “As bemarkingsmaatskappy met verskeie landboukliënte was dit vir Real Xposure ‘n voorreg om saam met John Deere die Manna vir die Boere-konsert te ondersteun. Ons waardeer alles wat boere vir hierdie land beteken en dit was ons manier om iets terug te gee.

Adam Tas het die konsert gereël en self ook R50 000 tot die fonds vir boere bygedra.
Adam Tas het die konsert gereël en self ook R50 000 tot die fonds vir boere bygedra.

Real Xposure was ook betrokke by die aanlynbemarking van die konsert en ons is dankbaar vir die goeie reaksie van die publiek se kant af.” Real Xposure bied werklike waarde, diens en gehalte aan die landboubedryf. Kontak Real Xposure om jou maatskappy of dienste aanlyn of in die media te bemark. Besoek www.realxposure.co.za.

manna vir boere 2

Daar is nog baie boere wat hulp benodig, veral met voer vir hulle diere. Om by te dra tot die Caring Daisies se veldtog, skakel hulle by 086-155-3333 of besoek www.caringdaisies.co.za.

manna vir boere naam

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Leave a Reply

Your email address will not be published.

Monsanto is veel meer as ‘n saadsmous

Damme, tenkstaanders en uitkyktorings: Staalboer vir stewige strukture in ‘n japtrap