in , , ,

Maak hooi van hoë gehalte

Hooi word reeds van die vroegste tye af gesny. Literatuurstudies dui aan dat daar reeds 750 jaar voor Christus se geboorte hooi gemaak is. So sê prof Chris Dannhauser, weidingskonsultant.

 In Suid-Afrika is daar reeds in 1674 in die Kaap hooi gesny. Dit was nog lank voor daar hooibalers beskikbaar was, maar die boere het met die hand gesny en miedens gepak om hooi vir die winter te voorsien. Al is dit een van die oudste bedrywe in boerdery, vind ‘n mens soms dat almal nie noodwendig weet wat die kenmerke van goeie gehalte hooi is nie. Oor die wêreld heen, en ook in Suid-Afrika, is daar reeds graderingstelsels in gebruik vir hooi en veral vir
lusern.
Goeie gehalte hooi het die volgende uitwendige kenmerke:
• Dit moet ‘n mooi, groen kleur hê. Geel of bruin hooi is ‘n teken van swak gehalte as gevolg van te laat sny of reën of muf.
• Dit moet blaarryk wees met die minimum stingels.
• Dit moet ‘n aangename aroma hê. Goeie gehalte hooi het nie noodwendig ‘n kenmerkende reuk nie, maar vreemde reuke soos ‘n muwwe of suur reuk skrik diere af.

Hooi is onaanvaarbaar vir die dier as dit:
• Hoofsaaklik uit stingels bestaan.
• As dit vreemde geure of reuke het.
• Vreemde materiaal soos onkruid, grond, klippe, baaltou of drade bevat.

Chemiese ontledings kan gedoen word om die gehalte te bepaal. Die voedingswaarde van goeie gehalte hooi word in Tabel 1 aangedui. Dit is belangrik om te onthou dat diere se inname verminder as grashooi se ruproteïn laer as 6 tot 8% daal en dat hulle dan gewig sal verloor. Bepaalde faktore wat die gehalte van hooi beïnvloed moet deeglik in gedagte gehou word tydens hooimaak.

Bemesting
Dit moet altyd in gedagte gehou word dat voedingstowwe (soos N, P & K en ander mikro- en mikro-elemente)
voortdurend van hooilande verwyder word, omdat hooi gesny en weggeneem word en nie bewei word nie. Daar word dus geen voedingstowwe deur middel van mis en urine teruggeplaas soos weidende diere sou doen nie. Daarom moet die korrekte bemesting, soos deur grondontledings bepaal, jaarliks toegedien word.

Groeistadium
Sny van hooi op die regte stadium is die heel belangrikste faktor wat gehalte beïnvloed. Dikwels word eensydige
klem op maksimum hoeveelheid gelê (t/ha) deurdat die snysels langer gerek word om hoër produksie te kry. Om die maksimum hoeveelheid hooi as enigste mikpunt te stel, word oneindig baie gehalte verloor. Volwasse plante is stingelrig met lae voedingswaarde. In Tabel 2 word voorbeelde gegee van oulandsgras en Smutsvingergras wat op twee verskillende stadia gesny is. Uit hierdie tabel is dit duidelik dat hooi wat in die volwasse stadium gesny word ‘n laer gehalte het. Volgens die gegewens in die tabel blyk dit dat gras gesny moet word voordat bloeiwyses, met ander
woorde so min as moontlik stingels, teenwoordig is. Indien dit in volle blom of saad is, is daar reeds baie stingels en die gehalte is dan te laag. Lusern moet ook gesny word voordat die blomstadium te ver vorder. Per slot van reke-ning is ‘n gunstige blaar/stingelverhouding die vereiste, aangesien die hoë voorkoms van blare die hoogste gehalte hooi verseker.

Drogingstydperk
Jong groeiende gras kan soveel as 70 tot 80% vog bevat. Om dit suksesvol te baal, moet dit afdroog na ‘n voginhoud
van ongeveer 10 tot 20%. Grassoorte soos oulandsgras en tef kan binne een dag droog genoeg word om gebaal te word. Ander spesies soos Smutsvingergras, Rhodes en witbuffelsgras moet tot drie dae in die son lê om droog te word voordat dit gereed is om te baal. Groei-aktiwiteite soos fotosintese en respirasie kom tot stilstand by ‘n
voginhoud van 35%. Hierdie punt moet so gou as moontlik bereik word. Hooi wat te lank aan sonlig blootgestel
is, verbleik en sekere voedingstowwe soos vitamines word vernietig. Dit is dus raadsaam om gewasse wat stadig
droog word met ‘n snymasjien wat met ‘n kneuser toegerus is, te sny. Dit is net so belangrik om op een dag soveel hooi te sny as wat op dieselfde dag of die daaropvolgende dag of twee gebaal kan word, sodat gras nie onnodig lank in die son hoef te lê nie. Reën gedurende die drogingsperiode is ook een van die grootste probleme met hooimaak, maar daaraan kan min gedoen word anders as om die weervoorspellings dop te hou en te hoop dit is akkuraat.

Spesie
Daar is al van snaakse gewasse hooi gemaak, maar daar is ‘n paar spesifieke hooigewasse wat algemeen gebruik word. Lusern sal altyd as die koning van die hooigewasse beskou word, aangesien die gehalte daarvan baie hoog kan wees wanneer goeie hooimaakpraktyke gevolg word. Die enigste groot probleem met lusern is dat dit blare kan verloor as dit te lank ongebaal lê of te veel hanteer word. Die grasse wat bekend is vir hulle hooiwaarde, is oulandsgras en tef in die hoër reënvaldele en bloubuffelsgras in die droër dele. Soos reeds voorheen gesê is, daar
ook geen fout met grassoorte soos Smutsvinger-, witbuffel- en Rhodesgras nie, behalwe dat hulle bietjie moeiliker droog. Deesdae is daar ook spesifieke kultivars van sekere spesies vir hooiproduksie, soos oulandsgras se American leafy- en PUK 436-kultivars en Rhodesgras se Finecut-kultivar.

Werktuie
Die volgende werktuie vergemaklik die hooimaakproses en word sterk aanbeveel:

Snymasjiene
Verskillende soorte snymasjiene is beskikbaar, naamlik swaailemsnyers, balksnyers, skyf- of tolsnyers en snymasjiene met kneusers. ‘n Snyer met ‘n kneuser is noodsaaklik indien gou gebaal moet word of indien materiaal met ‘n hoë voginhoud gesny word, soos voersorghum of lusern. Die swaailem is ‘n veeldoelige masjien wat die hooi tot ‘n redelike groot mate ook opkerf, wat soms voordele en soms nadele inhou.

Hark
Die mees algemene hooihark is die sogenaamde skuinshark met die draaiwiele. Dit is baie doeltreffend om hooi in windrye te plaas sodat die baler dit kan optel, maar nie regtig geskik om die hooi oop te sprei nie. ‘n Hark is ‘n werktuig wat min meganiese probleme oplewer.

Hooiklitser, belugter of “tedder”
Die hooiklitser kom nie op elke plaas voor nie. Dit is baie nuttig om die hooi in die windrye te plaas, maar kan ook
gebruik word om die hooi uit te sprei, om meer lug deur te laat en sodoende droging te versnel. Dit is wel ‘n duur
werktuig, maar word sterk aanbeveel om hoë gehalte hooi te produseer. Dikwels sny boere hulle hooi te laat (met baie stingels en lae gehalte) juis om dit gouer te kan baal. Met die hooiklitser kan groener, vroeggesnyde hooi gereeld omgedraai en deurlug word en dus gouer gebaal word. Voeg hierby ‘n snyer met ‘n kneuser en goeie gehalte hooi kan gouer in die skuur beland.

Baler
Die baler kan baie keer ‘n kopseer wees, aangesien dit ‘n gespesialiseerde werktuig is. Die tradisionele vierkantige baler word steeds gereeld gebruik, want sommige boere wil graag die bale onderdak berg en vierkantige bale word maklik hanteer. Die ronde baler raak natuurlik ook meer gewild. Dit werk vinnig en die bale hoef nie noodwendig onderdak te wees nie. Voordele wat die ronde baler inhou, is dat die digtheid of kompaksie van die hooi in die bale verander kan word. Dit beteken dat lug deur die hooi kan beweeg en dit verder kan droog. Die bale kan ook met plastiek toegerol word om van “natter” hooi hooikuilvoer te maak.

'n Baal van gras wat vroeg gesny is en 'n baal waarvan die gras te laat
gesny is.
‘n Baal van gras wat vroeg gesny is en ‘n baal waarvan die gras te laat gesny is.
'n Hooiklitser (tedder) in aksie.
‘n Hooiklitser (tedder) in aksie.

Vir meer inligting, kontak prof Chris Dannhauser by chriswei@vodamail.co.za

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Sorg vir jou werktuie en hulle sorg vir jou

Franse slaaisous