in

Lexus IS-reeks vir 2017 bekendgestel

Lexus se IS-modelreeks is pas opgeknap en gedurende Desember  2016 plaaslik bekendgestel. Met ‘n veel aggressiewer voorkoms en varser binneruim is die nuwe reeks gereed om die C-klas, 3-reeks en A4 uit Duitsland die stryd aan te sê.

Buitekant tref die nuutontwerpte sierrooster en nuwe hoofligontwerp onmiddellik. Groter luggate in die voorste buffer laat die neus ook nou veel meer sportiewer vertoon.  Die F-Sport se sierrooster het ‘n driedimensionele ontwerp wat Lexus “F-mesh” noem en is afgewerk in ‘n treffende spesiale swart verf. Agter is die herontwerpte buffer opvallend, terwyl die L-vormige LED ligte en herontwerpte uitlaatpype ook bydra tot ‘n meer moderne voorkoms .

Twee modelle is beskikbaar, met die IS200T wat uit ‘n keuse van “E”of “ES” afwerkingsvlakke gekies kan word. Die vlagskip IS350 is slegs met die sportiewe F-Sport afwerking te koop. Lexus stel met die opgekikkerde reeks ook nuwe bakverfkleure bekend waar ondermeer Grafiet Swart nou op beide modelle beskikbaar is, asook ‘n pragtige “Deep Blue” wat slegs vir die F-Sport gereserveer word.

Met die nuwe hoofligontwerp word LED’s gebruik. Die “E “en “EX” afwerkingsvlakke op die IS200t kry ‘n enkelry LED’s in die hoofligte met domp/skerp funksies terwyl die flikkerligte  egter steeds die konvensionele inskroef gloeilampies gebruik.

Die 2017 F-Sport model se hoofligte kom met drie lampies wat kan domp asook ‘n aparte ry LED lampies in ‘n L-uitleg onder die hoofligte. Die flikkerligte gebruik egter LED lampies.

Lexus

Binnekant het Lexus die kajuit subtiel verbeter. Dit vertoon en voel luukser, meer verfynd en vriendeliker. Klein verbeteringe aan sommige skakelaars, die afwerking van sekere areas asook nuwe stiksels in die bekleedsel dra alles by tot ‘n weelderiger ambiaans in die kajuit. Die multimedia hoë definisie LCD skerm in die middel van die voorpaneel is nou 10,3” in die EX en F-Sport modelle. Hierdie twee modelle kan ook met ‘n diepdonkerooi leerafwerking bestel word, bekend as “Chateau”. Tydens die bekendstelling rondom Dullstroom in die pragtige Laeveld het ek ‘n loodgrys metaalkleur IS350 F-Sport bestuur met die “Chateau” binneruim en dit is my gunsteling kleurkombinasie in die nuwe model.

Plaaslik het Lexus twee petrolenjins beskikbaar gestel vir die 2017 modelreeks,  met die IS200t wat die relatief nuwe 2.0 liter turbo enjin gebruik in beide die “E” en “ES” modelle. Vir die flagskip IS350 wat in die meer sportiewe F-Sport afgewerk is, word die bekende en kragtige 3.5 liter V6 petrolenjin gebruik. Die 2.0 liter turboaangedrewe  viersilinderenjin met tussenverkoeler in die IS200t lewer 180 kW piekkrag en 350 Nm wringkrag teen 4000 rpm.   Die IS350 F-Sport se 3.5 liter V6 lewer 233 kW en 378 Nm vir lewendige verrigting as jy die regtervoet plant.

Lexus

Beide modelle stuur die krag na die agterwiele via ‘n 8-spoed outomatiese ratkas met spane agter die stuurwiel as jy, soos ek verkies om self die ratte te wissel. Met Lexus se “Drive Mode Select” bied die ratkas drie ritopsies, naamlik Eko, Normaal en Sport. Die F-Sport model kry egter ook ‘n bykomende  Sport+ opsie. Kies jy hierdie verstelling, ervaar jy aanpasbare vering en ‘n veranderbare stuurratio vir ‘n sportiewer rit met verbeterde padinamika en hantering. Die IS350 geniet om deur die toere gejaag te word met ‘n verslawende enjinklank.

Op die pad het beide modelle beïndruk met goeie hantering, ‘n lekker stuurgevoel en uitstekende dinamika. Lexus het, met die verbeterde onderstel van die nuwe reeks en veral met die F-Sport pakket,  baie naby die maatstaf gekom wat BMW byvoorbeeld stel wanneer hoëspoed paddinamika gemeet word. Deur die pragtige bergpasse in die Nelspruit/Sabie/Lydenburg-omgewing het hantering beïndruk selfs deur uitdagende draaie en swiepe.

Die IS200t is egter my keuse, met die “twin scroll turbo” wat vir uitstekende kraglewering in die IS200t sorg. Net jammer die pragtige F-Sport afwerking is vir nou slegs op die IS350 beskikbaar.

 

VERKOOPPRYSE

Lexus IS 200t E – R601 900
Lexus IS 200t EX – R659 100
Lexus IS 350 F Sport –  R728 800

‘n 4 jaar/100 km diensplan is ingesluit by die koopprys.

ultimate drive

DEUR DIRK GALLOWITZ van Ultimate Drive

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Bacon and beef soup

Beef & Bacon Soup

Nasie in Gesprek

Nasie in Gesprek praat vrymoedig oor die ware effek van grondonteiening sonder kompensasie