in , ,

LEMKEN se groot Gigant maak kleingeld van groot werk

This post is also available in: Afrikaans

Kassie Coetzee van Koster se wêreld speel nie wanneer daar gewerk moet word nie en sy masjiene durf ook nie lyf wegsteek nie.
Na omtrent 6 000 hektaar se grondvoorbereidingswerk op verskillende plase in die omgewing, is hy hoogs tevrede met die Gigant van LEMKEN. Die Gigant 10 is ’n stewige agt meter breë drabalk met sy eie twee driepunte waaraan LEMKEN se ander uitstekende bewerkingstoerusting gehaak kan word.
Kassie het sy twee vier-meter Rubin 9-skottelêe gehaak en gesny dat die distels en oesreste so spat. Hy het sy eie lande bewerk en kontrakwerk in die omgewing gedoen.
“Ek het by sesduisend hektaar opgehou tel, maar ek kan vir jou sê dat ek deur die hele seisoen dieselfde stel skottels en laers gebruik het, net soos ek dit by Nampo gekoop het,” sê Kassie.
Daarby is sy brandstofrekening omtrent met die helfte gesny terwyl hy dubbeld so vinnig kon werk.
Die graansorghumreste wat in liederlike droë grond ingesny moes word, was die grootste uitdaging en hy reken niks anders as die Gigant met sy Rubins sou dit kon doen nie.
Kassie vertel dat sy groot knaktrekker in ’n stadium gelol het en dat hy een van sy ou bestaande eenrigtings ingestoot het om aan te gaan met die werk. Dit was egter nie moontlik om daarna in die grond te plant nie en die Rubins moes dit in elk geval oordoen.
Hy sê dit is so dat elke werktuig sy eie plek het, maar die Rubin is voorwaar uniek. Mense moenie dink dat dit maar net ’n eenrigting of ’n kontrasnyeg (offset) is nie; dit is ’n saadbedvoorbereider. ’n Paar van die eienskappe wat hom beïndruk is die volgende:
– Dit het ’n unieke veerstelsel sodat elke skottel indiwidueel kan wegbreek en self herstel.
– Geen aste of skottels is in groepe aan mekaar vas nie. Materiaal kan dus vrylik tussen die skottels deurvloei.
– Die skottels self is teen ’n unieke hoek na vorentoe gemonteer, wat beteken dat dit makliker in die grond insny en deur stoppels sny – dit maak nie soos ander skottelwerktuie op gewig staat om die grond in te dring nie.
– Die harkies tussen die rye skottels dwing die materiaal weer af sodat die agterste stel skottels dit nog fyner kan sny en dit breek ook kluite wat opspring.
– Die rollers pak nie aan nie en maak ’n ongelooflike fyn en gelyke saadbed.
– Wanneer die Rubins aan die Gigant gekoppel word, is dit maklik om die 8-meter werktuig op te vou en te vervoer.
Aangesien daar in wese twee werktuie aan een balk is, is dit belangrik dat alles reg en fyn ingestel word. Kassie sê LEMKEN se tegniese man, Christo Prinsloo, het die kennis, geduld en ywer om ’n werktuig behoorlik in te stel en dit lyk of hy elke soort trekker ook goed ken.
Hy praat ook met groot lof oor die res van die LEMKEN-span, onder leiding van Karel Munnik: “Karel kon maar oom Lemken se eie seun gewees het, want hy is in liggaam en siel oortuig van hierdie produk. As hy met jou gepraat het, sien jy net LEMKEN-blou!”
Kassie het die LEMKEN-fabriek in Duitsland gaan besoek en hy sê dit is duidelik dat gehalte as uiters belangrik geag word: Vir LEMKEN is daar geen ander opsie as net die beste nie.
Hy wil nou ook vir hom twee Smarag-saadbedvoorbereiders laat kom. Die Smarag doen ’n tandbewerking in plaas van ’n skottelbewerking en skep ook ’n saadbed perfek vir plant.

What do you think?

1 point
Upvote Downvote

Total votes: 1

Upvotes: 1

Upvotes percentage: 100.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Die geenbewerking-rewolusie: Pierobon plant heel voor

Word ‘n boonstroop-spesialis met Vitamech