in

Landbou in Suidelike Afrika (SACAU) in die kollig

Die Suidelike Afrika Konfederasie van Landbou-unies (SACAU) gaan van 1 tot 3 Oktober landbouleiers uit die hele streek bymekaar trek om te gesels oor gedeelde probleme en oplossings. Die presidente en adjunk-presidente van landbou-unies sal onder andere gesels oor die toekoms van landbou in hulle onderskeie lande, handelsooreenkomste, dienste, vroue en die jeug in landbou, goeie regering en die ontwikkeling van boere. 

Die lande wat verteenwoordig word, is Lesotho, Madagaskar, Malawi, Mosambiek, Namibië, Seychelles, Suid-Afrika, Swaziland, Tanzanië en Zimbabwe. Die byeenkoms is by die Centurion Legacy Lake Hotel in Pretoria en dit geskied onder die leiding van dr Theo de Jager, voorsitter van SACAU. 

Mnr Ishmael Sunga, hoofuitvoerende beampte van SACAU sê die wêreld verander, landbou verander en daar is nuwe oplossings nodig om die nuwe uitdagings die hoof te bied. Van die uitdagings wat ‘n invloed op landbou in die streek het, is klimaatsverandering, meer monde wat gevoed moet word, verandering in verbruikersvoorkeure, gebrek aan toegang tot grond en die behoefte om jong mense te laat boer. 

Die Verenigde Nasies het 2014 as die Internasionale Jaar vir Familieboerdery verklaar wat die aandag opnuut gevestig het op familiehoewes en kleinboergesinne in Afrika. 

Regeringshoofde van Afrika het ook onlangs ‘n verklaring, die Malabo-deklarasie, onderteken wat ten doel het om landbou te laat groei en kwesbare groepe te ondersteun deur die bevordering van die gebruik van plaaslike voedsel.

What do you think?

-1 points
Upvote Downvote

Total votes: 1

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 1

Downvotes percentage: 100.000000%

Boer slim met vee!

Woede na kommissaris se uitsprake