in ,

Land Cruiser 300: Die “Groot meneer” van Afrika

This post is also available in: Afrikaans

Deur DIRK GALLOWITZ van Ultimate Drive

Die laaste nuwe Land Cruiser het in 2014 op plaaslike bodem gebuig. Geen wonder die nuwe 300 was met soveel verwagting begroet nie toe dit middel September aan plaaslike motormedia in die mooiste Kaap bekend gestel is nie.

Veral omdat die nuweling bekend as LC300  totaal nuut ontwerp, met Toyota se veelgeroemde TNGA argitektuur gebou en met Kleiner kragtiger enjins toegerus is.

Voorkoms en Ontwerp

Wat voorkoms betref vertoon die nuwe LC300 groter, forser met veral die vooraansig indrukwekkend in vergeleke met die uitgaande ‘200’- model. Sterk aksentlyne, skerp hoeke en nuwe  LED ligontwerpe voor en agter laat die LC300 egter ook vars en modern op die oog val. Tog is daar ook geleen uit die verlede met die gewilde Land Cruiser 80 se klassieke 2-boksie ontwerp wat in die kantprofiel sigbaar is.

Dis egter die ontwerp van die groot sierrooster en nuwe ligte wat die koppe laat draai en sorg vir ‘n aggressiewe en intimiderende teenwoordigheid op die pad. Die Land Cruiser 300 is Toyota se vlagskip model en het oor jare heen die reputasie opgebou as die ‘Master of Africa’ om Toyota se woorde te gebruik.  Die LC300 is totaal ‘n nuwe ontwerp gebou op Toyota se heel nuwe TNGA (Toyota New Global Architecture) platvorm bekend as TNGA-F waar die “F” verwys na die leerraam ontwerp wat uiters gewild is onder die 4×4 ghoeroes en entoesiaste.

Kajuit en Toerusting

Die ruim kajuit is uiters luuks, omvattend toegerus en bied afwerking van hoë gehalte.

Toyota het die LC300 met drie afwerkingsvlakke bekendgestel naamlik die intree GX-R, die luukser ZX wat gerig is op die Range Rover -tipe koper en dan vir die eerste keer in die Land Cruiser stal, die sportiewer GR-S. Waar die intree GX-R model grootliks fokus op die veldry, avontuurgerigte koper is die ZX model weer luuks en hoogs gespesialiseer  toegerus vir die koper wie luuksheid en gerieflikheid as prioriteit in sy stedelike SUV plaas.

Alle modelle kom standaard toegerus met Appel Carplay/Android Auto koppeling, sleutelose aanskakel en toegang wat ook outomatiese sluit van die deure insluit. Verder is daar parkeergonsers, ‘n elektriese parkeerrem en klimaatbeheer wat ook ‘n afsonderlike beheersone bied vir die agterste passasiers bied.

Die voorste insittendes kry elektriesbeheerde sitplekke ‘n groot infotainment skerm (MID) met toegang tot SatNav wat ook  onderskikte grond- en plaaspaaie bied (Tracks 4 Africa by die GX-R). ook is daar verskeie kragpunte asook laaipunte vir allerlei elektroniese katoetertjies.Die permanete 4-trek aandrywingstelsel word beheer deur ‘n “Drive Mode Select” wat ook oor ‘n indrukwekkende Kruipbeheer beskik – veral handig wanneer daar vasgeval word in die boedoes.

Die ZX en GR-S modelle kom ondermeer toegerus met ‘n addisionele 3de ry sitplekke wat kan platvou, elektriese beheer vir die agterklap en verhitting vir die stuurwiel. Verder is daar ‘n uitstekende 14-luidspreker JBL klankstelsel wat ook DVD’s kan speel op die 12.3″ hoë definisie skerms asook ‘n Multi-Terrain Monitor met kameras vir ‘n 360˚ panoramiese beeld. Daar is ook verhitting en verkoeling vir die voorste en tweede ry sitplekke, koordlose laaiblad vir slimfone en ‘n banddruk monitor.

Die ZX model kry boonop Wi-Fi gekoppelde infotainment skerms met koordlose oorfone, terwyl die GR-S model met ‘n innoverende E-KDSS* stelsel vir die onderstel toegerus is om uitdagende veldrytoestande baas te raak. Dan kry alle modelle ook Toyota Connect, waar eienaars via MyToyota App toegang kry tot ‘n magdom inligting. Die toepassing sluit ‘n Wi-Fi module in wat vooraf gelaai is met ‘n komplimentere 15Gb data wat aangevul kan word met databundels vanaf “MyToyota App”.

Enjin en Verrigting

Die uitgaande Land Cruiser 200 het ‘n byna kultus status onder eienaars en bewonderaars gekry, veral met die laaste model opdatering se 4.0 liter V8 turbodiesel. Onder hardebaard Land Cruiser aanhangers is daar twyfel of die LC 300 se nuwe V6 turbokragbronne dieselfde oemf gaan hê as die betroubare 4500EFI en V8 4.0l turbodiesel.

Die nuwe LC 300 word toegerus met splinternuwe kragbronne wat krag na al die wiele stuur met behulp van ‘n seepgladde 10-spoed outomatiese ratkas met blitsvinnige oorskakelings.

‘n Petrol 3.5-liter V6 Twin Turbo vervang die uitgaande 4500EFi enjin en die V8 4.0 liter turbodiesel maak plek vir ‘n nuwe generasie 3.3-liter V6 turbodiesel met 2 spoed funksionaliteit. Beide enjins lewer meer krag en wringkrag by laer toere en teen beter brandstofverbruik as die vorige enjins, weeg minder en is uiteraard meer gesofistikeerd danksy nuwer tegnologie.

My gunsteling is die 3.3 V6 Diesel wat met 225 kW @ 4000 rpm en ‘n indrukwekkende 700 Nm maksimum wringkrag lewer tussen 1600 and 2600 rpm. Dis ‘n heerlike soepele krag in die veld en op die oop pad. 

Die nuwe petrol V6 lewer 305 kW @ 5200 rpm en 650 Nm maksimum wringkarg vanaf 2000 rpm. Hierdie enjin maak gebruik van Toyota se veelgeroemde D-4ST brandstofinspuiting stelsel in samewerking met die vervaardiger se blitsige dubbel VVT-i stelsel vir seepgladde kraglewering.

Die enjin gaan meeste van die kritici se harte verower met ongelooflike versnelling en uiters soepele kraglewering wanneer dit benodig word. Topspoed by beide modelle word by 210kpu beperk.

Toyota se amptelike brandstofverbruik word aangegee as 12.1 l/100 km vir die 3.5l V6 Petrol en ‘n indrukwekkende 8.9 l/100 km vir die 3.3l V6 turbodiesel met CO₂ uitlate teen 291 en 238 onderskeidelik.

Veldry Paddinamika

Tydens die media bekendstelling oor 3 dae was ons bevoorreg om die LC 300 in ZX V6 petrol en GR-Sport(GR-S) dieselturbo mondering te ry – laasgenoemde die eerste Gazoo Racing Sport weergawe in die Land Cruiser modelreeks.

Die GR Sport model is die veldry sportiewe boetie in die LC300 stal en is maklik uitkenbaar met swart 19” allooiwiele en hoër profiel bande en swart afwerking vir die sierrooste en kantskorte. Die GR-S kom ook standaard toegerus met ‘n lys van spesifieke veldry toerusting, maar sonder om die Land Cruiser se gerekende luuksheid en geriefseienskappe in te boet.. 

As die LC300 GR-Sport die avonturier en buitelug boetie is wat die wereld wil verken, word die LC300 ZX model geposioneer as die gym goefende blink Stefaans stadsboetie in ontwerpersklere.

Met 20″ allooiwiele en laer profiel bande, blink kroom afwerking vir die sierrooster en insignia en ‘n groter fokus op weelde in die kajuit, sal die ZX model groter byval vind by die koper wat nie juis op die ongebaande weë wil toer nie. Vir diegene wat so oorle Stanley Livingstone Afrika se onweergaanbaarheid wil gaan tem, sal die intree GX-R die regte model wees. Ons kon egter nie tydens die bekendstelling met hierdie model kennis maak nie.

My keuse val op die GR-Sport met diesel aandrywing. Ek verkies die hoër profieltekkies bo die lae proefiel fênsie ontwerpersskoene, maar dan is ek liewer vir grondpaaie as teer. En man, het die GR-S diesel my mateloos in die sandduine, grondpaaie en klipklouterplekke tydens die bekendstellingsritte beïndruk!

Danksy Toyota se innoverende E-KDSS (Kinetic Dynamic Suspension System) wat danksy elektroniese  beheer die wiele met hidrolies ondersteunde stabiliseer arms aan die veerstelsel verbind, bied die GR-S uitstekende en veilige hantering, bakkontrole en wiel-artikulasie (30mm  meer as met die huidige model) tydens uitdagende veldrytoestande.  Dit tesame met Toyota se “All-wheel Drive Integrated Management (AIM)”, elektries ondersteunde kragstuur, rembeheer asook slim enjin en ratkasprogramering wat deur die “Multi-Terrain Select” (MTS) -stelsel met die druk van ‘n knop geaktiveer en beheer word, maak dit moeilike veldrytoestande baie maklik.

Met die MTS-stelsel kan die bestuurder kies tussen Diep sneeu, Modder, Grond en Sand ten einde die beste moontlike kraglewering en traksie uit jou LC300 te haal met lae strek wat ‘n addisionele “Auto” modus bied waar die voertuig self die bes moontlike modus vir die rytoestande kies en dan, danksy die“3D Multi Terrain Monitor” (in die ZX en GR-S modelle) verskeie sensors en kameras rondom en onder die voertuig, aktiveer om die terrein onder en langs die voertuig sigbaar te maak.

Die ZX model het ons in V6 petrolgewaad beproef. Die versnelling en soepele kraglewering het ons beindruk op die ooppad. Op teer en veral deur die bergpasse was hierdie wa foutloos in greep, hantering en dinamika, ten spite van sy groot 2,6 ton lyf. Die remme was ook indrukwekkend.

Veiligheid

Danksy “Toyota Safety Sense” in beide die ZX en GR-S modelle kan bestuurder die hulp van verskeie tegnologiese stelsels geniet wat die veiligheidsvlakke vir insittendes baie verhoog, ondermeer stelse soos “Lane Trace Assist”, “All-speed radar” spoedbeheer asook funksies soos Blindekol monitering,

“Lane Depart Alert” en “Rear Cross Traffic Alert (RCTA)” wat outomaties rem wanneer aankomende verkeer opgemerk word. Daar is ook nog vele ander standaard veiligheids en bestuurderhulp stelsel soos stabiliteits beheer (VSC), traksiebeheer (ATRC), heuwel wegtrekbeheer (HAC), sleepwa anti-swaai beheer(TSC), Heuwel-af beheer (DAC) asook die gewone ABS, EBD remhulp.

Opsomming

Toyota doop die nuwe LC300 die “Master of Africa”. Die uitgaande model het legendariese stories oor Afrika se stof- en klippaaie geskryf en het deur die jare diep spore deur modder, sand en oënskynlik onbegaanbare plekke gelos in hierdie uitdagende meedoënlose kontinent.

Die nuwe LC300 gaan definitief voortbou op die legendariese Land Cruiser nalatenskap.

Ek vermoed dit gaan selfs ‘n groter legend word.

Pryse

Land Cruiser 300 GX-R 3.3D –      R 1 283 200

Land Cruiser 300 ZX 3.3D –          R 1 765 500

Land Cruiser 300 ZX 3.5T –           R 1 797 100

Land Cruiser 300 GR-S 3.3D –      R 1 811 900

Land Cruiser 300 GR-S 3.5T –       R 1 842 900

Ingesluit in die aankoopprys kry kopers ‘n 9 diens / 90 000 km diensplan met dienste elke 12-maande of 10 000 km (wat ook al eerste kom). ‘n 3-jaar/100 000 km waarborg is ook ingesluit by alle modelle en eienaars kan ekstra dienste, verlengde onderhoudplan of selfs langer waarborg tyd aanskaf by hulle gunsteling Toyota handelaar.

What do you think?

1 point
Upvote Downvote

Total votes: 1

Upvotes: 1

Upvotes percentage: 100.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Die Wynboer en OK vat hande om familiewynboere se wyne te verkoop

1st Crane, Mining & Transport (Pty) Ltd: For your crane needs