in ,

Kyk na ons grond(ll)

In die reeks
Kyk na ons grond (l)

Wortelontwikkeling wat belofte van ’n goeie opbrengs inhou.
In die vorige artikel het ons gekyk na die rol wat die grondsoort speel in die keuse van grondbewerking. In hierdie artikel kyk ons na faktore soos die diepte van bewerking, die invloed van langtermynproewe op aanbevelings, asook die koste van verskillende bewerkings.
 
Diepte van bewerking
 
Die diepte van grondbewerking op verskillende gronde staan regstreeks in verband met die grondsoort en kleipersentasie daarvan. Indien nie ag gegee word op die verband nie of verkeerde werktuie aangewend word, kan opbrengsverliese gely word.
 
Die skrywer van hierdie artikel en kollegas het verskeie dieptebewerkingsproewe uitgevoer op twee grondsoorte, naamlik ’n sandgrond van 10 tot 15% klei en ’n sandleem van 15 tot 20% klei.
 
Verskillende klimaatstoestande is gedurende die vier seisoene ondervind. Tog het die resultate duidelike tendense getoon. Uit die proef-werk het twee feite duidelik na vore gekom:
  • Elke grondsoort het ’n optimum bewerkingsdiepte
  • Te aggresiewe bewerkings kan net so nadelig wees as te vlak bewerkings. 
Die vier jaar se gemiddelde resultate word soos volg opgesom.
  • Vir die grondgroep waarvan die kleipersentasie tussen 10 en 15% wissel, was die gemiddelde opbrengste in die algemeen } 0,45 ton/ha beter as by die hoer kleipersentasie grond. Dit dui op ’n beter vogberging- en vogleweringvermoe van die gronde vir benutting deur die oes in kritieke fases.
  • Soos die kleipersentasie van die gronde daal, so vermeerder die behoefte aan ’n dieper bewerking om maksimum opbrengste te bereik. Die resultaat was baie duidelik deurdat by die 10 – 15% klei die optimum diepte van bewerking en opbrengs eers tussen 350 – 400 mm bereik word, terwyl die ooreenstemmende optimum op die 15 – 20% klei reeds op 275 – 325 mm diepte bereik word.
  • Baie aggressiewe bewerkings soos wat verkry is met die skeurtand toegerus met ’n groot vlerkskaar (deltaskaar) het opbrengste laat daal, veral op die grond met ’n laer kleipersentasie. ’n Moontlike verklaring is die volgende: Die plantontwikkeling op die persele is baie gestimuleer en het hoe plante met groot blaaroppervlaktes en groot wortelstelsels ontwikkel, wat baie rojaal vog verbruik het. Tydens die kritieke fase van bestuiwing en pitvul en ’n gesamentlike afname in reenval, was die persele se vogreserwe gevolglik reeds so uitgeput dat stremmings ontstaan het wat in die opbrengste weerspieel word.
  • Dieselfde tendens is verkry met bewerkings wat dieper as die optimum uitgevoer is en waar laer of dieselfde opbrengste verkry is. Die bykomende koste wat aangegaan is om sulke aggressiewe of dieper-asoptimum bewerkings uit te voer, is nie in verhoogde opbrengste verhaal nie en het, inteendeel, ’n laer inkomste tot gevolg gehad.
Met hierdie verdeling as grondslag, is daar deur die jare verskillende grondbewerkingstelsels op hierdie grondsoorte getoets. Met die resultate wat verkry is, is grondbewerkingsriglyne vir die verskillende grondsoorte opgestel.
 
Koste van bewerking
 
Die keuse van ’n grondbewerkingspraktyk sal nie voltooi wees as die koste van die verskillende bewerkings nie met mekaar vergelyk is nie. In die Meganisasiegids 2011 wat deur die skrywer van hierdie artikel opgestel is, word die koste van die verskillende praktyke en verskillende trekker-kombinasies in vergelykende tabelle aangetoon.
 
Die Meganisasiegids kan bestel word by koosleroux@absamail.co.za of skakel 082-828-9531.
 
Aanbeveling
 
Om ’n gevolgtrekking te maak dat een bewerking (wat reg uitgevoer word) beter as ’n ander bewerking is (wat reg uitgevoer word) is dus nie moontlik nie.
 
Ander faktore speel ’n rol in die keuse van ’n spesifieke grondbewerkingstelsel. ’n Paar van hierdie faktore word hier genoem.
  • Spesifieke voorkeur van die boer.
  • Die koste van ’n stelsel.
  • Die invloed wat die stelsel op die totale kapitale belegging in masjinerie het. Sommige stelsels benodig beslis minder trekkers.
  • Faktore soos grond- en winderosie kan ’n bydrae lewer tot ’n sekere keuse.
  • Kontoerwalle en veral die spasiering van die walle speel ’n rol.
Dit word dus aanbeveel dat, indien u op ’n sekere grondbewerkingstelsel besluit, u seker moet maak dat dit reg uitgevoer word. Die grondbewerkingsdiepte speel ’n belangrike rol in die sukses van die stelsel en spesiale aandag moet hieraan gegee word.
 
Wanneer u dit oorweeg om na ’n ander bewerkingstelsel oor te slaan, moet u seker maak dat u dit om die regte redes doen. Ontleed alle faktore voordat u ’n besluit neem.
 
In die volgende artikel gaan ons die grondbewerkingstelsel van geenbewerking bespreek.
 
In Tabel 1 word hierdie riglyne vir u gerief saamgevat. Let veral op na die aanbevelings vir bewerkingsdiepte en ander waarskuwings oor die toepassing van sekere praktyke.
 

 

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Landbounavorsing moet verbeter

Boere boer lekker met nuwe trekkers