in ,

Kyk na ons grond(III)- Is geenbewerking ’n oplossing?

In die twee vorige artikels is die belangrikheid van grondtipe vir die keuse van bewerking bespreek en ook hoe grondbewerkingnavorsing uitgeloop het op grondbewerkingaanbevelings vir verskillende grondtipes. In hierdie laaste artikel word daar naderby gekyk na geenbewerking omdat dit voorgehou word as ’n oplossing, veral vir die hoë koste van graanproduksie.
 
Daar is al baie geskryf oor die voordele wat verminderde en geenbewerking vir die landbou inhou. Die verbetering van grondstruktuur, beter vogindringing en natuurlik ook dat dit goedkoper is as konvensionele bewerking, is maar enkele standpunte wat gehuldig word.
 
Met die huidige stygende brandstofpryse, gryp boere maklik daarna ter wille van die aansienlike brandstofbesparing, maar dit behoort nie die enigste oorweging te wees nie. As jy oorweeg om na geenbewerking oor te slaan, moet jy beslis ook besin oor alle ander faktore voordat die stap gedoen word. Die volgende faktore speel ’n rol by die besluit. 
  • Grondtipe.
  • Beperkende lae.
  • Die pH van die grond.
  • Korrekte toerusting, soos doeltreffende spuittoerusting en ’n geenbewerkingsplanter.
  • Wees bedag op vermeerdering van onkruid, siektes en insekte.
  • Hoeveelheid materiaal wat op lande gelaat moet word.
Grondtipe
In die keuse van enige bewerking, maar veral by die besluit om geenbewerking toe te pas, is kennis van grond uiters belangrik. Dit sal elke boer baat om sy kennis oor grond op te knap, nie net om keuses van bewerking te kan maak nie, maar ook vir ander besluite soos die toediening van onkruiddoder en indringingsvermoe van water met besproeiing.
 
Dit word algemeen aanvaar dat geenbewerking beter werk en groot sukses behaal op swaarder grond. Dit beteken nie dat die stelsel nie suksesvol op ligte of sandgrond toegepas kan word nie, maar die boer moet hier meer bedag wees op verdigting wat na ’n jaar of drie kan intree. Die maak van profielgate sal die boer help om so ’n probleem betyds reg te stel.
 
Beperkende lae
Dit is ontwrigtend om ’n jaar nadat die stelsel in werking gestel is, te besef dat daar ’n keerlaag of beperkende laag voorkom. Voordat daar met die stelsel begin word, behoort alle keerlae met ’n diepbewerking opgehef te word.
 
Wanneer beperkende lae opgehef moet word, is dit veral belangrik om presies vas te stel hoe diep hierdie lae voorkom sodat ’n werktuig gekies kan word wat die grond diep genoeg kan indring en dat die tande so gespasieer is dat keerlae volledig opgebreek word.
 
Grondsuurheid
Voordat daar met die stelsel begin word, moet die grond skeikundig ontleed word en indien nodig moet die pH-vlakke reggestel word.
 
Grondsuurheid is ongetwyfeld een van die belangrikste produksiebeperkende faktore by graanproduksie. Suurheid onderdruk nie net gewasgroei en opbrengs nie, maar kan ook die grond totaal onproduktief maak deur giftige elemente wat in die grond vrygestel word en wortelgroei beperk. Hierdie probleem kos boere jaarliks miljoene rande aan opbrengsverlies. Hoe ernstig is die versuringsprobleem?
 
Dit word landwyd en wereldwyd aanvaar dat die grond-pH-waardes, die maatstaf vir die meting van grondsuurheid, so reggestel behoort te word dat dit vir graangewasverbouing minstens tussen 4,5 en 5,0 pH (KCI) of 5,5 en 6,0 pH (H2O) moet val.
 
By pH-waardes laer as 4,5 pH (KCI) of 5,5 pH (H2O) kan ernstige probleme op suurgrond begin voorkom; veral omdat KCI-pH-dalings van 4,5 tot 4,2 of H2O-pH-dalings van 5,5 tot 5,2 in ‘n enkel seisoen kan voorkom. Dit geld veral by goed gedreineerde hoe-potensiaal grond waar goeie oeste met hoe stikstofbemesting behaal word.
 
Gedurende die 1980/81-seisoen het 51% van die 20 000 grondmonsters wat by OTK se laboratorium ontleed is, ’n pH (KCI) laer as 4,5 gehad. Hierdie grond het dus onmiddellik ’n bekalkingsprogram nodig gehad.
 
Die toestande het vanaf 1981 tot 1994 nie veel in die Oostelike Hoeveld verander nie, want 48% van die monsters wat toe ontleed is se pH (KCI) was nog steeds laer as 4,5. Die jaarlikse gegewens oor kalkverkope wys uit dat die toestand sedert 1994 nie veel verbeter het nie.
 
In die onlangse opname is vasgestel dat ongeveer 75% van die grond in die Oos-Vrystaat ’n pH (KCI) van 4,5 of laer het. Na raming bestaan ongeveer 365 000 ha in die Oos-Vrystaat en 134 000 in ander koringgebiede van Suid-Afrika uit suur grond.
 
Swak voedingstofopname
Die nadele van grondsuurheid le in ’n groot mate in die vaslegging van voedingstowwe. Die meeste voedingstowwe soos stikstof, kalium, swael, kalsium, magnesium en molibdeen word minder toeganklik wanneer suurtoestande toeneem.
 
Omdat kalk se beweging in grond stadig of selfs gering is, behoort die pH van grond wat na geenbewerking oorgeskakel word, reggestel te word voor daar met die stelsel begin word.
 
As grond se pH reggestel is, kan dit besparings aan bemesting teweeg bring.
 
Wanneer kalk aangekoop word, maak seker dat dit van ’n betroubare bron afkomstig is met ’n hoe fynheid en neutraliseringswaarde.
 
Gehalte van spuittoerusting
Die sukses van ’n geenbewerkingstelsel hang baie af van die doeltreffende beheer van onkruid en plae. Daarom is die aanskaf van ’n goeie spuit en veral die korrekte kalibrering daarvan onontbeerlik vir sukses.
 
Geenbewerkingplanter
Net soos met die keuse van ’n spuit, moet daar verkieslik vanuit die staanspoor met die regte planter begin word. Die planter moet swaar genoeg wees om behoorlik deur die materiaal te sny, die saad op die regte diepte in die grond te plaas en vas te trap sodat goeie saad-grond kontak bewerkstellig word.
 
Die planter moet ook in staat wees om die kunsmis op die regte diepte en naby genoeg aan die saad te plaas. So word verseker dat daar ’n goeie stand op die land is. Daar is heelwat geenbewerkingplanters op die mark wat reeds suksesvol in die stelsel gebruik word.
 
Wees bedag op probleme
Dit is bekend dat veral gras met verminderde bewerking op landerye toeneem. Gelukkig is daar vandag goeie onkruiddoders beskikbaar wat hierdie indringing kan beheer.
 
Die toestande wat deur ’n geenbewerkingstelsel geskep word kan, in sekere weersomstandighede, bydra tot vemeerdering van kopvrot. Kultivars wat meer bestand is teen kopvrot, moet dus oorweeg word.
 
Hoeveel materiaal moet op lande gelaat word?
Daar is diegene wat verkies dat gestroopte lande by geenbewerkingstelsels glad nie bewei moet word nie. Daar is egter ook die gebiede in ons land waar vee nie maklik oorwinter sonder om op gestroopte lande te wei nie. Die skrywer se aanbeveling op grond van heelwat proewe, is dat indien daar met oorleg bewei word, daar nog genoeg materiaal oorbly om die stelsel behoorlik te laat werk.
 
Voordele van materiaal op lande
Geenbewerking het aanvanklik ontstaan om erosie teen te werk en om grondvog te bewaar. Dit verhoog vogindringing en verminder afloop en verdamping van water, wat die grootste oorsaak van vogverlies in die eerste helfte van ’n seisoen is. Gevolglik is meer grondwater in die grondprofiel beskikbaar vir hoer oesopbrengste in laereenval gebiede.
 
Faktore wat ’n rol speel by grondverliese en afloop
Wanneer grondverlies en afloop van water op bewerkte landerye ter sprake kom, is die belangrikste faktor bedekking in die vorm van stoppels op die grond. Verminderde bewerkingspraktyke kan sorg vir verbeterde grondbedekking. Dit skakel dus van die oorsake van erosie uit en is nie net ’n behandeling van erosiesimptome nie.
 
Reenvalintensiteit en duurte, grondtekstuur en -bewerking en veral helling speel ook ’n rol, maar dit is heeltemal ondergeskik aan die van stoppelbedekking.
 
Resultate
In verskeie proewe dwarsdeur die Republiek is ongeveer 1 800 perseelresultate ingewin en verwerk. Die resultate dui daarop dat grondbedekking ’n baie belangrike rol speel by die bekamping van grondverliese en afloop.
 
Ten slotte
Wanneer ’n geenbewerkingstelsel oorweeg word, behoort al die voordele wat so ’n stelsel inhou oorweeg te word en nie net brandstofbesparing nie.
 
Daar is ander maniere om brandstof op plase te bespaar soos deur behoorlike instandhouding van toerusting en die bestuur van dieselverbruik. Met ’n deeglike ontleding van ’n boer se huidige bewerkingstelsel kan daar ook sekere aksies uitgeskakel word, terwyl die samevoeging van ander ook ’n besparing kan meebring.
 
Eers as al hierdie opsies oorweeg is, kan die besluit geneem word om na ’n geenbewerkingstelsel oor te skakel.
 
Boere word egter aangeraai om voldoende kennis van die stelsel in te win, te let op die aanwysers wat hierbo genoem is en met persone te praat wat ondervinding van die stelsel het of self ook proewe gedoen het.

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Parmalat verleng winteraansporing

Boere-moet-hulleself-beveilig-na-Malema-se-uitsprake