in

Kuilvoer: Beheer die proses om gehalte te behou

kuilvoer

deur Albert van Rensburg, Biomin

Goeie kuilvoer is goud werd – maar dan moet dit reg gemaak word om gehalte te verseker. Goeie bestuur en aandag aan besonderhede is noodsaaklik om deurlopend kuilvoer van die beste gehalte te maak.

Die spoed waarteen die gewas ingekuil word, die voginhoud, snylengte en samepersing kan alles ’n groot invloed hê op die gistingsproses en bergingsverliese.

Algemene foute met die maak van goeie kuilvoer is:

Die materiaal is te nat (die voginhoud is bo 75%). Die gewas moet teen die regte voginhoud (60 tot 75%) gekuil word om goeie kuilvoergisting te bewerkstellig. Kuilvoer wat te nat is, veroorsaak verliese via loging en die groei van ongewenste mikroörganismes, wat tot onsmaaklike kuilvoer lei. Oormatig droë (<50% vogtigheid) kuilvoer verhoog egter droëmateriaal- (DM) -verliese weens respirasie en verhitting, en bied minder geleentheid vir die groei van die gewenste melksuurbakterieë.

  • Swak samepersing (minder as 600 kg/m3) belemmer die gistingsproses. ’n Minimum snitlengte van 20 tot 25 mm maak samepersing makliker.
  • Ondoeltreffende gisting weens ondoeltreffende melksuurbakterieë en te min suikers om die gistingsproses te versnel.
  • Swak verseëling stel kuilvoer aan lug bloot. Behoorlike toesig moet gehou word dat rotte, voëls en vee nie die plastiek beskadig nie.
  • Stadige uitvoertempo, veral in warm somermaande.

Dit is belangrik om te verstaan hoe die biologiese en chemiese proses wat gedurende inkuiling voorkom plaasvind, wat die uitwerking daarvan op kuilvoergehalte is en hoe dit beheer en gemanipuleer kan word.

Gistingsproses

Inkuiling is in wese die preservering van ’n gewas deur die uitsluiting van lug (suurstof), waarna gisting plaasvind en suikers na melksuur verander word deur melksuurbakterieë. Die lae pH-vlak laat mikrobe-aktiwiteite ophou en die materiaal bly stabiel, mits dit nie met water of lug in aanraking kom nie.

Hoë-gehalte kuilvoer word verkry wannneer meer melksuur geproduseer word. Dit is die doeltreffendste fermentasiesuur wat die kuilvoer se pH die vinnigste laat daal. Hoe vinniger die gistingsproses voltooi word, hoe meer voedingstowwe sal in die kuilvoer behoue bly.

Beperk verliese

Die inkuilproses se sukses word gedurende die eerste twee weke bepaal. Veral die eerste drie tot vyf dae is baie belangrik. Proteïene breek die vinnigste af op die eerste dag na verseëling, maar neem vinnig af soos die suurstof opgebruik word. ’n Week na behoorlike inkuiling is daar baie min proteïen-afbreking.

Dit is baie belangrik dat die pH binne vier dae van 6 tot 4 daal. Genoeg suiker en doeltreffende melksuurbakterieë is nodig, want die melksuurbakterieë sit die suikers om in melksuur. Die wenslikste eindprodukte is asynsuur en melksuur. Droëmateriaal (DM) gaan tydens hierdie proses verlore, maar die mikpunt is om hierdie verliese te beperk en die voedingstowwe in die kuilvoer te bewaar. Hoe vinniger die pH daal, hoe minder die voedingstofverliese. Goeie samepersing is noodsaaklik om suurstof vinnig te verwyder sodat die bakterieë wat asynsuur en melksuur produseer dadelik na inkuiling begin groei en vermeerder. Doeltreffende gisting verseker smaakliker en verteerbaarder kuilvoer, wat diereprestasie verbeter.

Sukses

Binne 15 tot 20 dae is daar ’n stabiele stadium met ’n geleidelike verhoging in melksuur aangesien melksuurproduse-rende bakterieë die eenvoudige suikers afbreek. Wanneer melksuurbakterieë al die suiker uitgeput het of wanneer die pH-vlakke laag genoeg daal om groei te beëindig (4 tot 4,2 of laer), begin die stabiele fase.

Solank as wat die bunker verseël en anaërobies bly, vind min biologiese aktiwiteit plaas. Soos wat suurstof egter stadig deur die bedekkings binnedring, kan dit die groei van giste, muf en aërobiese bakterieë veroorsaak. As die voer te droog is, is gisting beperk en die pH-vlak kan nie voldoende daal nie. Dan sal verrotting plaasvind.

Wanneer daar aan hierdie beginsels voldoen word, kan kuilvoer se gehalte verder verbeter word deur kuilvoerinokulante.

Kuilvoerinokulante

Daar is gewoonlik geen beheer oor die tipe en getalle bakterieë wat natuurlik op groen kuilvoermateriaal voorkom nie. Daarom kan kuilvoer soms ongewensthede bevat wat die waarde daarvan verminder. Kuilvoerinokulante kan bygevoeg word om sowel die spoed as die patroon van gisting te beïnvloed. So word gisting beheer om voedingstofverliese te beperk.

Melksuurbakterieë moet tydens die kerfproses bygevoeg word om doeltreffende kontak van bakterieë met die materiaal te verseker.

’n Doeltreffende entstof kan help om goeie kuilvoer beter te maak, maar dit sal nie swak kuilvoer goed maak nie. Bakteriële inokulante kan die aantal melksuurbakterieë in die kuilvoer verhoog, en ’n drastiese vinnige verlaging in die pH lei tot stabiele, hoë gehalte kuilvoer met die minimum voedingstofverliese.

Bakteriële kuilvoerinokulante verhoog die spoed en omvang van die primêre gisting. Kuilvoerinokulante word geklassifiseer volgens hulle uitwerking op die materiaal wat ingekuil word of volgens die eindprodukte wat hulle produseer. Die twee hoofkategorieë is homofermentatiewe en heterofermentatiewe kuilvoerinokulante.

Homofermenteerders produseer slegs melksuur van suiker. Bakteriële stamme wat aan hierdie groep behoort, is Enterococcus faecium, Lactobacillus plantarum, L. acidophilus, L. coryneformis, L. salivarius, Pediococcus acidilatictici en P. damnosus. Hulle is die gewildste inokulante, aangesien hulle nie DM-verliese veroorsaak nie en hoogs doeltreffend werk. Hulle verbeter gisting en verhoog DM-herwinning.

Heterofermenteerders produseer koolstofdioksied, etanol, asynsuur en melksuur. Bakteriële stamme wat aan hierdie groep behoort, is Lactobacillus brevis, L. kefiri, L. buchneri, L. cellobiosus, L. fermentum en L. viridescens.

Die nadele van heterofermentatiewe kuilvoerstamme is dat die asynsuurproduksie tot energie- en droëmateriaalverliese lei. Hoewel asynsuur (vanaf heterofermenteerders) bederfbare organismes inhibeer, verlaag ’n oormaat daarvan (>30g/kg DM) voer se smaaklikheid, voerinname en diereprestasie.

In goeie kuilvoer is melksuur en asynsuur gebalanseer sodat die lae pH-waarde, tesame met die asynsuur, die bederfbare organismes kan inhibeer. Die feit dat al hoe meer heterofermentatiewe kuilvoerstamme te koop is, maak die keuse van die regte stam moeilik.

Verbeterde smaaklikheid

Melksuur is die enigste metaboliet wat kuilvoer se smaaklikheid verbeter. Ongelukkig maak hoë melksuurvlakke kuilvoer vatbaarder vir aërobiese bederf. Die ideaal is dus om homofermenteerders en heterofermenteerders te kombineer om voedingstofverliese te beperk en ’n balans tussen melk- en asynsuur te handhaaf vir goeie smaaklikheid en goeie aërobiese stabiliteit. Kuilvoerinokulante wat sowel homofermenteerders as heterofermenteerders bevat, word dus aanbeveel.

Mielies en sorghum kuil maklik in omdat dit baie suiker, stysel en genoeg wateroplosbare koolhidrate (10 tot 12%) bevat. Mielies en heelplant-graankuilvoer is onstabiel sodra die bunker oopgemaak word (dit word warm). Meer heterofermentatiewe bakterieë in kuilvoerinokulante verminder aërobiese bederf en verleng die raklewe van hierdie tipe kuilvoer (produksie van sowel melksuur as asynsuur).

Peulgewasse soos lusern kuil moeiliker in omdat dit min suikers bevat (gemiddeld 5%) en dit het ’n hoë proteïeninhoud. Die belangrikste mikpunt is om so gou as moontlik ’n lae en stabiele pH te bereik, met melksuur as die vernaamste gistingsproduk. Daarom bevoordeel ’n kuilvoerinokulant met meer homofermentatiewe bakterieë hierdie tipe kuilvoer en beperk verliese (produseer hoofsaaklik melksuur).

Uithaalfase

Kuilvoer word warm wanneer dit uit die kuil verwyder word en met lug in aanraking kom, omdat dit begin gis en swamme groei. Veral voer wat nog heelwat oorblywende suikers bevat, soos mieliekuilvoer, is dikwels onstabiel. Hierdie organismes omskep oorblywende plantsuikers, melksuur en ander energieryke voedingstowwe in die kuilvoer in koolstofdioksied, water en hitte. Dit veroorsaak DM-verliese en ’n hoër risiko van giftige organismes. Asynsuur (afkomstig vanaf heterofermenteerders) vertraag die groei van swamme en gisting.

Aërobiese bederf is veral erg wanneer kuilvoer stadig verwyder word omdat die bunker te wyd is, en wanneer kuilvoer in warm en/of vogtige weerstoestande verwyder word. Verwyder minstens 150 mm kuilvoer per dag in die winter en 450 mm in die somer vanuit die kuilvoergesig (voorkant van bunker). Verhitting kan voorkom word deur twee tot vier kleiner porsies per dag te verwyder, pleks van een groot porsie.

Kuilvoerinokulante kan nie goeie inkuilingspraktyke vervang nie, maar dit kan die gehalte van kuilvoer aansienlik verbeter, aërobiese stabiliteit verbeter en verliese beperk om die boerdery se winste aansienlik te verhoog. Die belangrikste aspek om hier in ag te neem is nie die prys nie, maar die opbrengs op belegging.

Vir meer inligting, kontak Albert van Rensburg van Biomin by 018-468-1455 of 083-409-5315.

kuilvoer

kuilvoer

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

ProAgri

ProAgri 204 – Februarie 2017

Balfour hooidag

Balfour se hooidag groei geil