in

KragDag:

Solidariteit KragDag by Diamantvallei Landgoed was vanjaar weer ‘n fees van vindingryke oplossings wat die boer (en dorpsjapies) kan help om meer selfstandig te leef, minder elektrisiteit te gebruik of selfs onafhanklik vanaf Eskom te wees. ProAgri het ‘n paar van die uitstallers met skitterplanne besoek:

Akwaponika

Hennie Steyn (13) is ‘n geesdriftige jong ondernemer wat verlede jaar by KragDag die idee gekry het om klein akwaponiese stelsels te bou en te verkoop om mense te help om voedselselfstandig te word.

Hennie het oor akwaponika gaan oplees, kundiges geraadpleeg en self die gedagte in ‘n daad omgesit. Hy sal die stelsel op bestelling vir mense maak vir hulle eie gebruik.

“Daar is vissies in die water en ek voer die visse. Die water gaan uit die vistenk deur ‘n filterstelsel waar bakterieë die visse se afvalstowwe omskakel in voedingstowwe vir plante. Die plante is in bakke in klippies en maak weer die water vir die visse skoon,” sê Hennie oor die akwaponiese stelsel.

Hy is besig om ‘n tonnel by sy huis op te rig sodat hy sy gesin volledig van groente en vis kan voorsien. Hennie leer uit elke fout wat hy maak en wil graag eendag sonkrag inspan om heeltemal onafhanklik van Eskom te wees.

DSC_0767

Leon Labuschagne en Seuns Boorkontrakteurs

Water is ‘n belangrike lewensmiddel wat jy nie kan koop indien die grondwater op is nie, daarom moet water bewaar word.

Collin Pennel, ‘n werknemer van Leon Labuschagne en Seuns Boukontrakteurs, sê hulle boor boorgate en verskaf pompe en toerusting terwyl Fred Labuschagne die installasie en toetse vir hulle doen. Boere wie se water in die droogtetyd skaars is, kan op hulle knoppie druk.

“Dit is ons eerste KragDag,” sê Collin. “Dis beslis die moeite werd.” Hulle boor net boorgate vir mense in die omgewing en nie regoor Suid-Afrika nie. Hulle is daarop ingestel om die beste diens te verskaf en sal jou nie in die steek laat wanneer jy vir water boor nie.

DSC_0779

Keer Dieseldiefstal

Keer Dieseldiefstal vervaardig ‘n staalsif of ‘n antiheweltoestel (“Anti Siphoning Device”) wat in of op die nek van die dieseltenk geïnstalleer word. Dit verhoed dat diewe die diesel met ‘n pyp uit die tenk kan suig. Hulle installeer dit in trekkers, vragmotors en plaaswerktuie. Volgens Chris Davel gaan hy na die boer se plaas en installeer dit self. Die installasie neem so tussen 4 en 20 minute. Hy doen dit regoor die land en die staalsif hou vir ewig. “Die idee is dat dit nie maklik uitgehaal kan word nie, daarom moet ‘n boer maar nuwes laat installeer as hy nuwe trekkers of voertuie koop,” voeg Chris by. Navorsing het bewys dat meer as 70% van alle dieseldiefstal deur die boer se eie operateurs, werkers en veiligheidswagte gepleeg word. Hulle steel gewoonlik gereeld klein hoeveelhede, maar Keer Dieseldiefstal fnuik hulle planne.

DSC_0782

DSC_0784

Crime Stop Systems

Crime Stop Systems bied verskeie toestelle wat die boer help waarsku wanneer indringers by hom probeer inbreek:

RBG-pynbalmasjien

Die pynbalmasjien word in ‘n bepaalde rigting opgestel en as indringers daar verby beweeg, skiet dit hulle met vyftig verf- of peperbalmissiele per sarsie van vyf sekondes. Terselfdertyd word ‘n alarm geaktiveer. Die pynbalmasjien kan vyf keer afvuur voor jy hom weer moet laai. Dit kan van jou slimfoon af gemonitor word en skiet in die rigting waar die beweging opgetel is. Hy het ook ‘n battery en laaier en kan met ander alarms skakel.

DSC_0789

Klankgrensalarm

Die klankgrens-alarm maak die naarste geluid wat enige mens disoriënteer en summier op die vlug laat slaan. Dit lyk soos die luidspreker van ‘n radio en kan as ‘n paniek-alarm gebruik word in huise, skure en pakhuise.

Die “slim” vuurwapenkluis

As die inbreker die kluis oopmaak om die vuurwapens binne die kluis te steel, skiet die kluis die inbreker met traangas of pepersproei en sit terselfdertyd ‘n alarm aan die skree. Die doel hiermee is om vir die boer misdaadreaksietyd te gee. Die kluis kan ook die bure of gewapende reaksiemag bel.

DSC_0785

Kontak Roy Adcock by 079 489 1243 indien jy as boer hierdie sekuriteitstoestelle vir jou plaas wil aanskaf.

The Sun Pays

The Sun Pays het ‘n groot verskeidenheid sonkrag-warmwatertoestelle. Die laedrukstelsel is die helfte goedkoper ander en het warmer water asook voorafbetaalde meters in. Die stelsel betaal vir homself binne agt tot nege maande. Die tenk is dunner, het nie hitteoordragstelsels binne die buis nie en die druk by die stort is swaartekragdruk. Dit masseer jou rug en “veral vir boere is die laedruk ‘n goedkoper manier”, sê Johan Cloete. The Sun Pays het ook sonpanele en Johan sê dat ‘n haelsteen van 38 mm nie sy sonpanele kan seermaak nie.

DSC_0795

SunGenius Solar Cooking

Volgens Johan van Wyk koop niemand ‘n ding wat ongerieflik is nie, daarom het SunGenius gerieflike sonoonde wat baie maklik werk. Die oonde kan ook met elektrisiteit werk vir die dag as dit bewolk is, dan kan dit net verder met krag gebruik word. Die patio-sonoond kan nie jou kos brand nie, dit is perfek vir vroue wat die oggend vroeg al hulle skaapboud in die oond sit en dit eers die middag laat wil uithaal. Die oonde is baie stewig en maklik om skoon te maak.

DSC_0823

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Waterbeperkings moontlik ingestel vir boere

Boere gewaarsku teen Zamas en besetting van leë geboue op plase