in ,

Kragdag vul 'n pikdonker gat

Nadat beurtkrag in 2008 sy verskyning gemaak en weer verbygegaan het, kon mens dit nog met ’n paar grappe en kritiek verwerk, maar rondte twee is op ons en dit is lankal nie meer snaaks nie.

Dit blyk ook dat die skrif teen die muur is vir aanvaarbare kraglewering in die nabye toekoms. “Eskom is reeds R35-miljoen agter met hulle onderhoud. Sommige van die kragstasies is al meer as 80 jaar oud en voldoen nie meer aan ons eie veiligheidswetgewing nie,” sê Henning Holm van Holm en Seuns. Hy was  een van die hoofsprekers tydens die groenenergieskou en seminaar wat oor twee dae gestrek het.

Die sewende Kragdag wat vanjaar op 30 en 31 Junie plaasgevind het, was weer ’n reuse sukses en die hinderlike beurtkrag moes beslis ’n bydrae gelewer het dat bekommerde kragafhanklikes tot 13:00 die middag nog tougestaan het om by die skouterrein in te kom. Solidariteit, wat vanjaar die bestuur van die dag behartig het, se doeltreffende bemarking het ook ’n groot bydrae gelewer tot die rekordgetal bywoners.
Carel Ballack, ’n ou bekende by die Kragdag, het soos altyd die meer ingewikkelde vrae van die belangstellendes beantwoord en vanjaar was Henning Holm die tweede keer daar om te praat oor die groter prentjie van kragonafhanklikheid in Suid-Afrika en wêreldwyd.

Henning Holm van Holms en Seuns

Koot Naude van die Energy Club het in die amfiteater vertel hoe hulle poog om volhoubare energie ’n werklikheid kan maak.
 
Solidariteit het ook ’n eenbladsynoodplan uitgegee wat op ’n huishouding se yskas geplak kan word vir indien daar dalk vir langer as twee weke ’n kragonderbreking mag plaasvind.

Daar was ’n oorgenoeg uitstallers om die belangstelling van nuwelinge en veterane in kragopwekking te prikkel. Kosbare inligting is ingewin en kontakte is opgebou.

’n Paar uitstallers het ProAgri se oog getrek:

Kobus Aucamp van Avant Suid-Afrika bied ’n Finse kruiptrekker met 130 verskillende aanhegsels wat ’n boer vir amper enige taak kan inspan. Die gewildstes waarin die boere belangstel is die baallaaier, baalvurk, grondbore en laaigrawe. Remi Friebus van ProAgri sit agter die Avant se stuur.

 

Daar sal altyd stadsjapies wees wat hunker na ’n hoewe of plaas op die platteland om hulle hande in die grond te steek. Pieter Strydom van Realnet Plotte en Plase sê: “Daar is baie navraag van mense wat uit die stad wil kom om op ’n stukkie grond te kom woon en die misdaad skrik hulle nie regtig af nie –  dit is maar net so erg soos in die stede.” Remi Friebus van ProAgri staan langs Pieter.

“Eco Truss Africa het ’n alternatief vir konvensionele houtkappe gevind. “Ons liggewig versinkte staalkappe sal stewig bly vir 550 jaar. Ons het al ’n kap met ’n span van 28 meter sonder enige ondersteuning gebou, wat slegs 280 kg weeg teenoor gewone staalkappe wat tussen 500 en 600 kg kan weeg. Jy bespaar ook installasietyd en van ons installeerders kan 300m² per dag doen,” sê Robert Wagner. By hom staan Lauren Cooke, Debbie van der Merwe en Remi Friebus van ProAgri.

Noeleen van den Heever en Rina Stemmet werk vir Africa Thermal Insulations wat isolasiemateriaal vir geboue verkoop om hitte binne of buite te hou. Baie boere sit nou van die borrelmateriaal onderaan hulle skure se dakke. Dit lyk mooi, bied weerstand teen statiese elektrisiteit en water kondenseer nie daaraan nie.

Peter Gill van Survcor is ’n landmeter en hy meet boere se plase op met sy hommels. Hy neem foto’s met multi-spektrum kameras wat sekere ligfrekwensies meet wat deur die gewasse teruggekaats word. Die foto’s word dan met gespesialiseerde programme geredigeer om probleme in die grond of gewasse raak te sien. Langs hom staan Jacques Lourens van EasyUAV, wat volledige hommelpakkette vir boere bied om enigiets soos wild, silo’s of skuurdakke te moniteer.

 

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Geesdrif is die sukses agter Bielie Bonsmaras

MPO nuus: Melkprodusente sluk swaar aan prysverlagings