in

Kluite en stoppels verdwyn onder Jupidex se Qualidisc

As ’n boer die wilde en droë Prieska- halfwoestynstreek wil tem, moet hy baie water hê. Die Oranje is nie verniet die lewensaar vir die omgewing se besproeiingsboere nie, want “as jy hier iets wil laat groei moet jy dit deurlopend natmaak” sê Cloete Coetzee van Mahobeboerdery, maar dit is duur en insette is hoog en tyd is min en onvergewensgesind. ’n Boer kan dus nie grondbewerkingstoerusting inspan wat wil gaan lê of harde werk halfhartig afhandel nie.
 
Vir Cloete, sy broer Hannes en sy pa Henry is dit niks snaaks om 18 ton mielies van ’n hektaar af te stroop nie, maar om dit reg te kry is hulle baie kieskeurig oor die grondbewerkingstoerusting wat op hulle lande mag werk, want 18 ton mielies beteken immers ongeveer 18 ton reste wat weggewerk moet word.
 
Jupidex, qualidisc
Die Qualidisc skep ’n droomsaadbed terwyl dit oor die lande swiep.
 
Nampo is maar die plek waarheen boere gaan om kennis en inligting bymekaar te maak. Die Jupidex-stalletjie was een van die punte waar die Coetzees vasgehaak het toe hulle Kverneland se Qualidisc gesien het. “Jupidex was so gaaf om na Nampo die 5-metermodel op ons plaas te kom demonstreer en ons het gesien dat dit pragtig in ons omstandighede werk,” sê Cloete. Wanneer ’n Qualidisk jou land stormloop, gebeur daar ’n paar interessante dinge. Die skottels wat die grond eerste tref, is in paartjies oor twee dwarsbalke versprei, sodat die agterste skottel die werk van die voorste een mooi afrond om die kaf en mieliereste te sny en onder die grond in te vou. Die harktande wat agterna kom, breek die laaste weerstandige kluite en stoppels wat hulle koppe mag uitsteek. Laastens draf die roller oor die varsbewerkte grond om ’n pragtige, knus saadbed te vorm wat jou uitnooi om jou planter te gaan haak.
 
Jupidex, Qualidisc 
Ettiene Burger is heelgoederebemarker by OVK Hopetown, Dirk Kotze is Jupidex se agent in die Prieska-streek en Cloete Coetzee is ’n boer wat baie ingenome is met die Qualidisc.
 
Elke skottel het ’n eie rubberskokbrekerstelsel wat 90 grade oor die vierkantige dwarsbalk terugskop as dit ’n klip tref. Die res van die werktuig bly dan steeds op sy plek, stewig in die grond. Die skottel kan dan net losgemaak en teruggesit word om verder te werk. Cloete het al 380 hektaar besproeiingslande kafgedraf en is baie tevrede. Waar die reste baie hardnekkig is, ry hulle net ’n tweede keer oor. “Die skottels sny 150 mm diep en met die tweede rondte moet jy net dieselfde diepte of vlakker handhaaf.”
 
Cloete het ook gevind dat die masjien die tweede keer beter werk as hy in dieselfde rigting oor die grond ry. “Teen 13 km/u werk die Qualidisk die beste vir ons en ons trekker van 165 kW kom maklik die mas op. Dan kry ons ook ons optimale werkdiepte gehandhaaf,” sê Cloete.
 
Die Qualidisc se laers het geen onderhoud nodig nie en is vir twee jaar gewaarborg. As ’n skottel se laers die gees gee, vervang jy dit daar en dan in die skottel sonder om die hele as uit te haal. Jy kan kies: Die Qualidisc is beskikbaar in ’n driepuntmodel van 3,5 meter of in sleepmodelle van 5, 6 of 7 meter. Die werktuig knak in die middel om tot ’n skrale 3 meter op te vou as Cloete met die teerpad na hulle ander grond moet ry.
 
As jy ’n Qualidisc in jou grond wil sien werk, kan jy gerus vir Terry Alexander by 082-383-6700 of José de Nobrega by 079-885-7902 kontak.
 
 
 
 
 

 

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Ontmoet Suid~Afrika se Meneer Werktuie

Biltongjagters skrik nie vir Noordwes se prysverhogings nie