in

Jupidex waarsku teen McHale-grysprodukte

McHale

This post is also available in: Afrikaans

Werktuigvervaardigers weet nie altyd watter rigting hulle gaan inslaan of waar hulle gaan eindig as hulle die dag besluit om die reuse bul by die horings te pak nie. Toe Martin en Padraic McHale in 1978 begin het om tweedehandse werktuie uit die Verenigde Koningkryk in te voer en te herstel vir verkoop in Ierland, het hulle ook nooit gedink dat hulle binne 30 jaar die beste kombinasiebaler/toedraaier in die wêreld sal vervaardig nie.

McHale het sedertdien gegroei tot ’n handelaarskap vir verskeie nuwe werktuie en trekkers en ’n gewilde handelsmerk in die Weste van Ierland gevestig.

In 1990 is hulle eerste rondebaaltoedraaier gebore en daarna het ander rondebaalhanteringstoerusting gevolg. In 2002 het hulle die eerste Fusion-kombinasiewerktuig gebou, wat ook die eerste van sy soort in die wêreld was: “Ons het met niks begin nie en om ’n voet in die deur te kry, moes ons iets nuuts uitdink. Ons het toe ook die eerste uitvalvloer en outomatiese ghriesstelsel gepatenteer en bygesit. Ons fokus op die boonste marksegment en van die begin af was ons toerusting volgens kontrakteurstandaarde gebou,” sê Martin McHale.

Ierland se nat weer is nie die gunstigste vir baalwerk nie. ’n Baler wat daar kan baal moet sy sout deeglik werd wees. McHale moes toe uithaal en wys met hulle ontwerp en daarom het hulle balers maklik posgevat in die res van Europa. Hulle balers hou maklik twee tot drie keer langer as die mededingers s’n. Vandag besit die Fusion 50% van die wêreldmarkaandeel.

McHale se fabriek is buite Ballinrobe en later is ook ’n fabriek in Hongarye gebou om ’n voetspoor in SentraalEuropa te kry. Vandag het hulle altesaam 550 mense in diens.

Baal in Suid-Afrika is nog taaier

“By ons is balers net in die Europese somermaande besig en daarom het ons ’n mark in die Suidelike Halfrond gesoek vir die ander maande. Ek het NAMPO in 1996 en 1997 besoek. Ons het geen verbintenisse in Suid-Afrika gehad nie, maar ons het ’n behoueringskrat vol toerusting gepak en dit saamgebring. Ek het die boere by NAMPO genooi en demonstrasies gehou. Net daar het ek ons eerste agent ontmoet.”

Jupidex is McHale se derde agent waarmee hulle twee-en-’n-half jaar gelede ’n kontrak gesluit het en die verkoopsyfers maak dat die verstandhouding net verbeter.

In Europa word merendeels hooi, strooi of graskuilvoer gebaal, oftewel  “sagte gewasse”. Die gras is ook sagter en korter. In Suid-Afrika baal die boere ook mielies, sojabone en sorghum, wat baie harder en moeiliker is om saam te pers. Maar met die hulp van Jupidex se tegnici en die Suid-Afrikaanse boere kon McHale ’n uithaler Afrika-masjien bou wat vandag lag-lag 20 000 bale per jaar kan uitspoeg.

McHale se plaaslike markaandeel het oor die laaste agt jaar aansienlik gegroei en vandag is Suid-Afrika een van hulle belangrikste afsetgebiede in die Suidelike Halfrond.

Martin McHale het vanjaar weer NAMPO toe gekom om met die boere en Jupidex se personeel skouers te skuur. “Die boere hier by NAMPO is steeds baie tevrede met die masjien wat met gemak 20 000 bale per jaar maak. Maar ons het ’n groot probleem met grys produkte uit die McHale-fabriek wat hulle pad hierheen vind.

“’n McHale wat vir Europa ontwerp en vervaardig is, is nie dieselfde as een wat vir Suid-Afrika se toestande gemaak is nie. Daardie produkte is nie vir Suid-Afrikaanse standaarde aangepas nie en die boere sukkel geweldig daarmee, wat ons naam baie skade aandoen.”

Buiten dat hulle slegs die regte produkte aanhou, bewys Jupidex ook dat hulle die boer se belange op die hart dra. Hulle hou meer as 200 000 euro se McHale-onderdele op hulle perseel in Pietermaritzburg. “Ons hou ook heelwat volledige werktuie, so daar is nie ’n kans dat ’n boer sal staan en wag nie,” sê Piet Vorster, verkoopsbestuurder van Jupidex. Jupidex se tegnici vlieg ook jaarliks na Ierland om regstreeks in die fabriek opleiding te ondergaan.

Vermy McHale se grys produkte. Skakel vir Johan Claassen by 072-190-9110 of e-pos johan.claassen@jupidex.co.za om jou McHale-produk wat spesiaal vir Afrika gemaak is te koop.

Hooffoto: Johan Claassen, Martin McHale en Piet Vorster is trots op die McHale Fusion wat by NAMPO vertoon was.

McHale
McHale-balers was goed verteenwoordig
in die Jupidex-uitstalling by NAMPO.

McHale
Die McHale Fusion is die vlagskip van McHale se produkte en die eerste van sy soort in die wêreld, wat hulle ’n stewige vastrapplek in die mark besorg het.

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

manitou

Manitou se veeldoelige masjiene doen sommer gou-gou alles op die plaas

Zimbabwiese werkspermitte