in

Jong-Vrystater-boer-flink

Vrystaat Landbou het op ‘n heerlike spoggeleentheid, vir Boeboe Louw van Wesselsbron, as dié jaar se Vrystaatse Jongboer van die Jaar, aangewys! Die organisasie se Jongboer-komitee bied die kompetisie jaarliks aan in samewerking met borge en ander vennote soos Standard Bank (hoofborg), Toyota SA, Santam Landbou, OVK, Welkom Nissan en Francolin Creek Gasteplaas. 

Jongboere wat vir die kompetisie benoem word, is almal reeds op ’n baie hoë standaard, wat die beoordelingsproses baie uitdagend maak, aldus Prof Pieter Fourie, medeprofessor aan die Departement van Landbou by die Sentrale Universiteit van Tegnologie in die Vrystaat en sameroeper van die beoordelaars. Hy sê Boeboe het in al die kategorieë goed presteer en ’n baie hoë gemiddelde punt behaal. 

“Hy was ’n sterk kandidaat met ’n netjiese boerdery en hy is baie betrokke by georganiseerde landbou.” 

Prof Fourie meen die kompetisie bied ’n belangrike leerkurwe aan die betrokke boere, maar ook aan die beoordelaarspan. “Ander jongboere is ook geïntereseerd in hoe die wenner en kandidate uitdagings aanpak, en hulle leer ook by hulle.” 

Wessel Hattingh, voorsitter van Vrystaat Landbou se Jongboer-komitee en ook ’n beoordelaar, stem saam met prof Fourie dat dit baie uitdagend was om vanjaar ’n wenner te kies. “Ons het drie goeie kandidate met uiteenlopende boerderye gehad, en ons het redelik kop gekrap.” 

Wessel het vir Boeboe geluk gewens met ’n “netjiese boerdery.” Hy sê wat hom die meeste opgeval het, was die goeie verhouding wat tussen Boeboe en sy werkers bestaan. “Hy het lojale werkers, en dit wat op die plaas gedoen word, word die eerste keer reg gedoen.” 

Op sy beurt sê Henk Vermeulen, hoofuitvoerende beampte van Vrystaat Landbou: “Baie geluk, Boeboe – jy verdien dit en ons is trots dat jy die Vrystaat se jongboere op ’n nasionale vlak gaan verteenwoordig in hierdie kompetisie.” 

Hy meen die standaarde wat die kandidate op hulle plase volhou moet in die jare wat kom, die reël word, en nie die uitsondering nie, sodat die landboubedryf meer winsgewend en volhoubaar kan word. “Mededingendheid, nasionaal en internasionaal, is die sleutelgedagte vir landbou in die toekoms.” 

Die provinsiale wenners van die kompetisie sal later die jaar meeding om as die Toyota SA/Agri SA Jongboer van die Jaar aangewys word. Die jaar se prys is ’n Hilux 3.0 D-4D Raised Body Raider SC.

Boeboe boer die afgelope drie jaar saam met sy vrou, Annelize, en hulle twee kinders op die plaas Bloudrif, in die Wesselsbron-distrik. Hy is al 15 jaar lank ’n boer. Hy meen jongboere moet nie vergeet dat hulle die volgende geslag boere is wat die land moet voed nie. “’n Positiewe bydrae tot die beeld van die boer in Suid-Afrika is een van die belangrike aspekte waarop jongboere moet fokus binne die land se ekonomiese sektor.” 

Sy boerderyvertakkings bestaan uit: Mielies (droëland en besproeiing), koring (besproeiing), sonneblom, lusern, skaap, veldbees en kontrakteurswerk (spuit en stroop). Hy beplan groot veranderinge vir die boerdery die jaar, soos; die uitbreiding van die skaapvertakking, om natuurlike weiding te verbeter deur die bekamping van slangbos en die doeltreffende bestuur van besproeiingskostes.

 

 

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Effektiewe-mikroörganismes-(EM)-vermeerder-oor-die-wêreld.

Agri-SA-sê-50-persent-vir-plaaswerkers-is-onwerkbaar