in ,

John Deere 15FX is gemaak vir SA: Plant wyd, vinnig en akkuraat

This post is also available in: Afrikaans

“Ons het nie tyd vir eksperimenteer wanneer ons plant nie en ons ken John Deere se planters en
diens,” vertel Dolf Du Bruyn van Bultfontein. Toe hy en sy seun, Theuns, besluit het hulle moet belê in ’n groter planter wat meer doeltreffend in ’n korter tyd kan werk, was hulle keuse dus ’n besliste John Deere 15FX. Die nuwe 15FX-planter spog nie net met die jongste tegnologie op die plantermark nie, maar is inderwaarheid na intensiewe navorsing oor plaaslike behoeftes pasmaak ontwikkel vir Suid-Afrikaanse boere.

“Sjoe, ons het omtrent wyd en syd vir boere gevra wat hulle in ’n grootraamplanter wil hê,” sê Philip du Plessis, John Deere se gebiedsbestuurder in die westelike somergraangewasstreek.

Hy sê een van die behoeftes wat duidelik na vore gekom het, is dat boere wil sien wat aangaan wanneer hulle plant. Hulle wil nie hê ’n reuse kunsmisbak moet hulle uitsig op die plantereenhede versper nie. Dit is waarom die 15FX se kunsmisbak agter loop – omdat die boere daarvoor gevra het.

Nog ’n vereiste was dat alles aanmekaar moet wees: boere wil nie ’n los kunsmiskar hê wat teen elke helling of om elke hoek sy eie kop volg nie. Die 15FX is van sy kroon tot sy toon op een vastebalk.

Betroubaarheid is natuurlik ’n gegewe, maar saam met betroubaarheid moet die planter ook sukkelvry wees.

Werk maklik; sonder sukkel

Oom Dolf sê: “Ek het ’n planter gesoek wat maklik werk en dit moet ook maklik wees om aan hom te werk, en dit het ons gekry in die 15FX.”

Hy sê daar is minder kettings en goed wat lol en verstel moet word – alles werk hidroulies en as hy eers ingestel is, hanteer jy alles verder vanuit die kajuit.

Dit was nou die tweede seisoen dat die Du Bruyns met die 15FX geplant het en Theuns sê wat hom veral beïndruk, is die planter se werkvermoë. “Jy kan hom maar druk – hy plant so vinnig as wat jou stand en omstandighede toelaat en dan werk hy letterlik dag en nag met werkskofspanne wat by mekaar oorneem.”

In die besproeiingslande kan ’n 12 kmu-plantspoed maklik gehandhaaf word. Hulle het in ’n dagskof gemiddeld 120 tot 150 hektaar geplant en deurgaans was die pit- en kunsmisplasing meetbaar akkuraat.

Bespaar brandstof

Die besparing aan brandstof en arbeid is die ander groot voordeel wat Theuns en oom Dolf breed laat glimlag. Hulle sê hulle werk nou baie meer doeltreffend met die een groot planter as met hulle vorige vloot klein planters, want hulle is minder afhanklik van arbeid en daar word nou net een trekker op ’n slag ingespan, naamlik ’n John Deere 8345R.

Die gebruik van die 15FX bied besparings van tot 4 of selfs 5 liter per hektaar indien dit vergelyk word met planters in dieselfde klas.

Theuns skryf dit toe aan die feit dat die planter semi-gemonteer is (semi-mounted) met koppeling aan die onderste arms van die driepunt en twee yslike hoëflottasiewiele onder die kunsmisbak. Dit beteken maklike oplig van die plantereenhede, goeie gewigsverspreiding en Theuns sê as die eenheid eers momentum opgebou het, sleep hy baie lig.

Met kleiner wiele is daar dikwels ’n stootskraper-effek, maar die groot wiele rol bo-oor hindernisse. Theuns sê die enigste bewerking wat hulle doen, is om voor planttyd die skeurploeg deur te stuur (te rip) en die planter moet dus deur die stoppels kan werk. Hulle het gevind dat die plantwerk steeds baie akkuraat is, selfs in minimumbewerkingslande.

Perfekte plantdiepte

Philip verduidelik die rede hiervoor is lugdrukkussingbeheer (pneumatic down force) op elke plantereenheid. Die druk kan van 0 tot 181 kg gestel word, afhangende van die planttoestande. Dit verseker dat die saad deurgaans presies ewe diep geplaas word.

Terselfdertyd sorg die kunsmistoedieners, wat aan die parallelle arms van die plantereenhede gemonteer word, in plaas van aan die raam (soos by baie ander grootraamplanters), dat die kunsmis presies op die regte plek in verhouding tot die saad geplaas word.

Die kunsmisuitmeting geskied reeds in die kunsmistenk waar elke ry-eenheid se afgemete hoeveelheid kunsmis deur ’n awegaar uitgevoer word voordat dit deur positiewe lugdruk vanaf ’n blaser na die eenheid gestuur word. Van die eenheid af neem swaartekrag oor sodat die kunsmis nie in ’n verkeerde koers geblaas kan word nie.

Die planter is spesiaal ontwikkel om Suid-Afrikaners wat grootliks korrelkunsmis gebruik, te help met massahantering. Die kunsmisbak is maklik bereikbaar en het ’n lekker groot bek waarin massasakke leeggemaak kan word.

Daar is ook ’n opsie om met die nodige aanpassings deur John Deere vloeibare kunsmis met die 15FX-planter toe te dien.

Presisiegereed

Die akkurate uitmeting van saad en kunsmis maak presisieplantwerk moontlik en die planter is ten volle ISOBUS-gereed. In die kajuit kan jy onder meer op die skerm sien of die vakuumuitmeetstelsel die regte aantal pitte per ry plaas en jy kan ook sien presies hoeveel kunsmis uitgemeet word en oorbly in die tenk, sodat jy ook betyds kan bepaal wanneer dit nodig gaan wees om te stop vir aanvulling.

Met die reuse kunsmisbak, wat 5 443 kg kunsmis kan hanteer, word staantyd natuurlik tot die minimum beperk. Oom Dolf-hulle se planter het ook groot saadbakke van 106 liter waarin hulle 3,5 sakke mieliesaad kan leegmaak, wat sommer ’n hele klomp hektare sonder stop beteken.

Vir nog meer ernstige volmaakgemak bied John Deere ook die CCS (Central Commodity System) as ’n opsie aan. Dit bestaan uit ’n sentrale saadtenk van 2 470 liter vir die 12-ry planters of 3 520 liter vir die 16- en 24-ry planters. Die saadtenk word so na as moontlik aan die driepunt ge-plaas vir goeie balans en die saadbakke word dan met positiewe lugdruk uit die tenk uit gevul.

Vir presisieplantwerk kan die eenhede seksie vir seksie of selfs ry vir ry beheer word en as jy eers die land se grense in die masjien ingevoer het, kan jy maar weet, die hele land word beplant met niks buite die soom nie.

Die slim ontwerp sorg dat die grootraam kort kan krink met ’n klein draaisirkel. Die plantvlerke kan 8 grade op en af beweeg om die landoppervlak te volg om sodoende egalige plantdiepte te handhaaf. Wanneer die planter vervoer moet word, vou die buitenste seksies reguit vorentoe en lig dan op om bo-oor die middelste seksie te pas. Dit staan bekend as stapelvou (stackfold). Die saadbakke bly dus deurgaans regop.

Oom Dolf sê hulle kan sien daar is sommer baie dinkwerk in die ontwikkeling van die planter: “Die planter is gebou vir HIER, vir ons!”

Die 15FX-kitsgids:

– Modelle:

1512FX – 12-ry (76 of 91 cm ryspasie), 3 seksies, benodig 168 kW-trekker

1516FX – 16-ry (76 of 91 cm ryspasie), 3 seksies, benodig 250 kW-trekker

1524FX – 24-ry (76 cm ryspasie), 5 seksies, benodig 276 kW-trekker

– MaxEmerge 5TM-plantereenhede met ProMax 40-plaat

– Saadbakke: 56 of 106 liter

– Gifbakopsie ook beskikbaar saam met 56 liter saadbakke

– CCS (sentralesaadbak)-opsie: 2 470 ℓ (12-ry) of 3 520 ℓ (16- en 24-ry)

– Kunsmistenk: 5 443 kg

– Plantwydte wissel van 9,26 (12-ry, 76 cm) tot 17,92 (24-ry, 76 cm) meter.

Vou op na 4,16 tot 7,24 meter, afhangende van die model.

Vir meer inligting oor die 15FX, kontak die produkbestuurder, Freddie Rupping, by 082-809-8403 of RuppingFreddie@JohnDeere.com of kontak jou naaste John Deere-handelaar.

Freddie Rupping, produkbestuurder van John Deere, Dolf en Theuns du Bruyn van Bultfontein en Philip du Plessis, gebiedsbestuurder van John Deere, moes die dag met ProAgri se besoek op die stoep skuiling soek vanweë die welkome winterreën wat oor die Vrystaat uitgesak het.
Freddie Rupping, produkbestuurder van John Deere, Dolf en Theuns du Bruyn van Bultfontein en Philip du Plessis, gebiedsbestuurder van John Deere, moes die dag met ProAgri se besoek op die stoep skuiling soek vanweë die welkome winterreën wat oor die Vrystaat uitgesak het.

 

Die stapelvou maak padvervoer of verskuiwing tussen lande sonder dat ’n enkele pit uit ’n bak kan val, maklik.
Die stapelvou maak padvervoer of verskuiwing tussen lande sonder dat ’n enkele pit uit ’n bak kan val, maklik.
Lugdrukkussingbeheer aan die MaxEmerge5TM-plan-tereenhede sorg vir volgehoue perfekte plantdiepte.
Lugdrukkussingbeheer aan die MaxEmerge5TM-plan-tereenhede sorg vir volgehoue perfekte plantdiepte.
Die planter is semi-gemonteer (inlas) en die plantereenhede kan dus voor met die driepunt opgelig word terwyl die groot wiele agter die stutwerk doen vir minimum vastrap.
Die planter is semi-gemonteer en die plantereenhede kan dus voor met die driepunt opgelig word terwyl die groot wiele agter die stutwerk doen vir minimum vastrap.

 

Die planter se punte kan 8 grade oplig en die hele eenheid kan kort krink om so min as moontlik plantplek op die wenakker te vermors.
Die planter se punte kan 8 grade oplig en die hele eenheid kan kort krink om so min as moontlik plantplek op die wenakker te vermors.

 

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Hoe boere digitale landbou gebruik om meer gewasse te groei

Scania ry die lekkerste