in ,

Isuzu stel X-Rider Black Edition bekend

isuzu

This post is also available in: Afrikaans

Deur Dirk Gallowitz

Met die onlangse bekendstelling van die eksklusiewe X-Rider Black Edition model, het Isuzu Motors Suid- Afrika (IMSA) ‘n verdere model bygevoeg tot sy gewilde reeks dubbelkajuitbakkies. Terwyl die X-Rider model tydens die bekendstelling in 2016 as ‘n beperkte model met net  700 eenhede bedoel was, het die gewildheid egter so gegroei dat Isuzu in Suid-Afrika sedert dan besluit het om die X-Rider as ‘n permanente model in die Isuzu –bakkiereeks te vestig. Nou het die vervaardiger besluit dat ‘n spesiale X-Rider dubbelkajuitmodel met unieke kenmerke en eksklusiewe stilering, verdere stukrag tot die reeks se gewildheid kan voeg.

Die nuwe X-Rider Black Edition dubbelkajuit se bakwerk word afgewerk met die eksklusiewe “Black Meet Kettle” – verfkleur wat ook op die B-pilare gebruik is en bydra tot die spesiale model se aggressiewe en unieke voorkoms. Die unieke bakkleur word verder gekomplimenteer deur die X-Rider stileringspakket. Ingesluit in hierdie pakket is ondermeer  swart beskerming vir die voorste buffer, hoofligte met LED dagryliggies geїntegreer,  sowel as misligte in die voorste  lugskort. Die sierrooster is ook swart met ‘n prominente rooi Isuzu kenteken in die middel.

Die laaiklap agter kry die “X-Rider”- logo terwyl die laaibak met  ‘n swart seilbedekking toegemaak word. Verder is ‘n fris swart rolstaaf waarop die “X-Rider” logo duidelik sigbaar is, op die laaibak agter die kajuit gemonteer. Swart kantskorte onder die deure rond die die sykant se prentjie netjies af.

Die Black Edition ry op 18” swart allooiwiele met 255/60 bande.

isuzu

Ook die kajuit is spesiaal afgewerk om die Black Edition eksklusief te maak. Swart leerafwerking met rooi stiksels vir die sitplekke, ratkierieomhulsel en deurpanele asook op die stuurwiel met die rooi Isuzu kenteken, tref die oog. Die “X-Rider’-logo is op elke koprus van die voorste sitplekke aangebring wat ‘n sportiewe voorkoms aan die kajuit verleen, terwyl die glansswart afwerking om die luggate, radio en in die voorste instrumentepaneel die kajuitafwerking komplimenteer.

Die Isuzu X-Rider Black Edition is toegerus met Isuzu se betroubare 2,5 liter dieselenjin. Piek kraglewering is 100 kW met 320 Nm maksimum trekkrag wat reeds vanaf 1800 rpm beskikbaar is en die  X-Rider in staat stel om 2,1 ton met gemak te sleep. Aandrywing by die nuwe model  bied kopers ‘n keuse van 4×2 of 4×4 , maar slegs ‘n 5-spoed handratkas word aangebied.

isuzu

Die Isuzu bakkiereeks word verkoop met Isuzu Motors SA se “Isuzu Complete Care” pakket standaard ingesluit by die prys. Dit bied aan kopers ‘n 5-jaar/120 000 km omvattende waarborg en Isuzu padbystand, ‘n 5-jaar/onbeperkte kilometer roeswaarborg asook ‘n 5-jaar/90 000 km diensplan.

Diensintervalle is 15 000 km of 12 maande.

isuzu

Modelreeks en prys:

–        KB250 Dubbelkajuit  X-Rider Black 4×2 H/R         R426 300

–        KB250 Dubbelkajuit  X-Rider 4×2 HR                      R407 800

–        KB250 Dubbelkajuit  X-Rider 4×4 HR                      R454 100

isuzu

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

bokhaar

Bokhaarmark sluit op ‘n hoё noot

Dom Boer se lag vir die dag: