in

Huldeblyk:-Martin-Coetzee-van-Staalmeester

Mnr Martin Coetzee van Staalmeester by Hartbeesfontein is verlede week oorlede. ProAgri en Staalmeester loop ‘n lang pad saam en ons bring hulde aan Martin wat nie net diep spore in die landboumasjineriebedryf getrap het nie, maar ook as familieman onthou sal word.

Sy pa, mnr PML Coetzee, het Staalmeester in 1951 begin en volgens die familie was dit altyd Martin se ideaal om sy pa se legende lewend te hou. Martin het ‘n tyd gelede twee van die heel eerste Staalmeester-modelle wat sy pa gebou het, teruggekoop, naamlik ‘n mobiele stroper en ‘n grondbonedopper wat hy gerestoureer het om hulle in ‘n 100% werkende toestand te kry.
 
Martin was ‘n “man van staal”; hy het ‘n liefde vir yster gehad, dit was in sy hart en in sy bloed. Hy het altyd gesê dat dit nie saak maak watter geleerdheid jy het nie, as dit nie in jou hart is en jy nie ‘n passie daarvoor het nie, dan sal jy nooit goed kan wees daarin nie.
 
Later het Martin sy eie ontwerpe met groot sukses gepatenteer en self ‘n legende geword deur harde werk, skeppende denke en deursettingsvermoë. Staalmeesterprodukte is wenners; Martin het daarvoor gesorg. 
 
In 1995 het Staalmeester onder Martin se leiding begin met uitvoere. Die eerste masjiene wat uitgevoer is, was die DS-540-dubbelsnitkuilvoerkerwer. 
 
In 2000 het hy besluit dat Staalmeester ook sy produkreeks kan aanvul met ingevoerde masjinerie. Hy het toe die wêreld platgereis om die beste masjiene te soek wat daar beskikbaar was. Een van die trefferprodukte is die kuilvoerkerwer van ‘n Brasiliaanse maatskappy, JF Maquinas.
 
Houtverwerkingstoerusting, grasmasjiene en misstrooiers is later by die reeks gevoeg. 
Martin se vrou en kinders, wat saam met hom by die maatskappy betrokke was, sê hulle bede is dat die Here hulle genadig sal wees om die onderneming na nuwe hoogtes te dryf, met dieselfde liefde en toewyding as wat Martin ingesit het.
 
“Graag wil ons van hierdie geleentheid gebruik maak om al ons kliënte te bedank vir die medelye wat hulle uitgespreek het met Martin se afsterwe en hulle volgehoue ondersteuning oor baie jare. Wees verseker dat ons nog baie jare tot u diens sal wees.” 
 
Die manne wat nou die leisels by Staalmeester vashou, is Martin Coetzee junior (082-806-6377) en Eduan Booyens (082-883-6484). Hulle is gereed met inligting oor die Staalmeesterreeks of enige spesialisraad oor voermaaktoerusting by 018-431-0300.
 

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Jongboere-leer-meer-oor-toerusting-en-vee

Trekkerverkope tussen seisoene