in ,

HOEFONDERHOUD: Meer sap uit die lemoen

This post is also available in: Afrikaans

deur Gert en Riaan van Zyl

In die huidige ekonomiese klimaat met baie faktore wat ʼn uitwerking het op die winsgewendheid van die melkerybedryf, is dit belangrik om op alle faktore te konsentreer om sodoende die spreekwoordelike maksimum sap uit die lemoen te druk, of soveel moontlik melk te produseer.

Mankheid by melkbeeste is ʼn groot probleem, nie net in Suid-Afrika nie, maar regoor die wêreld. Dit is tans die derde grootste rede waarom koeie uitgeslag word, gevolg deur vrugbaarheidsprobleme en mastitis.

Mankheid beïnvloed en bevorder egter mastitis en probleme met vrugbaarheid. ʼn Koei wat nie gemaklik op haar voete is nie, sal meer lê as wat nodig is, en ook eerder in modderkolle gaan lê vir verligting. ʼn Kruppel koei sal ook nie toelaat dat sy gedek word wanneer sy op hitte is nie, en dit is dus moeilik om te bepaal wanneer sy gereed is. Indien sy kunsmatig geïnsemineer sou word, is die kans op suksesvolle inseminasie baie swak, aangesien haar kondisie nie op peil is nie.

LAMINITIS (HAEMORRHAGE)

Die term ‘laminitis’ is besig om uitgefaseer te word en word vervang met die woord ‘haemorrhage’, wat bloeding beteken. Laminitis is ʼn beskrywing van ʼn hoefkondisie waar daar infeksie of inflammasie van die hoef is. Bloeding kom dus voor, wat mankheid tot gevolg het. Die hoefsmid kan egter by ondersoek en tydens die trimproses bepaal hoe ernstig die kondisie is en wanneer dit opgedoen is, deur te onderskei of die hoefkleur wit, pienk of rooi is. Dit is nodig om die voet te lig en te immobiliseer tydens die ondersoek.

MANKHEID

Mankheid en hoefprobleme neem toe omrede die koeie uit hulle natuurlike omgewing verwyder word en meer gespesialiseerde tegnieke en praktyke toegepas word om melkproduksie te verhoog. Koeie word nie meer vandag in hulle natuurlike habitat gehuisves nie en word aan onnatuurlike oppervlakke soos sement en sagte weivelde blootgestel.

Ons sal dus moet aanvaar dat daar implikasies sal wees, waarvan mankheid ʼn belangrike simptoom is. Koeie word daagliks twee tot drie keer gemelk of soms meer. ʼn Gebrek aan die natuurlike omgewing en onvoldoende oefening is dus bydraende faktore tot mankheid. Die gemiddelde hoefgroei is 5–6 mm per maand en onder natuurlike omstandighede sal die hoef vanself verweer. Met verhoogde voerinname en onnatuurlike oppervlakke ontstaan hoefprobleme soos lang hoewe, dun sole, ensovoorts.

“Koeie word nie meer vandag in hulle natuurlike habitat gehuisves nie en word aan onnatuurlike oppervlakke soos sement en sagte weivelde blootgestel. ”

’n Voorbeeld van lang hoewe. Foto’s deur Dairy-Smid.

LANG HOEWE

Lang hoewe veroorsaak ongebalanseerdheid, wat die mobiliteit van die koei beïnvloed. Daar is deur navorsing bewys dat mank koeie tot soveel as 45 minute per dag sal lê eerder as om te vreet, en nie sal kompeteer om by die voerbakke uit te kom nie. Die algemene reël is dat die hoeflengte aan die voorkant van die hoef ongeveer 75 mm van die haarlyn tot by die punt van die hoef moet wees, sowat vier vingers breed. Lang hoewe kan met lang en ingroeitoonnaels vergelyk word.

FINANSIËLE IMPAK

Hier volg ʼn geskatte berekening van die finansiële impak van mankheid op melkproduksie. ʼn Gesonde, gebalanseerde koei se melkproduksie gedurende laktasie is gemiddeld 40–45 ℓ melk per dag (24 uur) in ʼn 300 dae-siklus teen ongeveer R4,20 per ℓ inkomste. Die potensiële inkomste van die koei in die siklus kan tot soveel as R50 400 tydens laktasiefase of R5 400 per maand wees.

Die grafiek illustreer dat mankheid in enige stadium van die laktasiefase ʼn 15–20% negatiewe invloed op melkproduksie kan hê, tot soveel as R7 560 per koei per laktasiefase in R810 per koei per maand. Die probleem dat die koei nie dragtig raak nie, hou egter nog groter implikasies in en as gevolg daarvan kan die melkboer tot 50% aan melkproduksie en inkomste verloor.

Dit is belangrik om te verseker dat die  koei in top-kondisie is voor haar laktasiefase. Hoefkondisie is ʼn belangrike komponent van goeie kondisie. Dit is dus belangrik om te verseker dat daar geen mankheid voorkom nie en dat die koei gereed is wanneer sy by die bul kom of kunsmatig geïnsemineer word, sodat inseminasie suksesvol is!

Grafiek 1: Die finansiële impak van mankheid op melkproduksie.

SLOT

Hoefonderhoud en die bestuur van die modern melkkudde om die besigheid sakpas te maak gaan hand aan hand. Hier is die gesegde “voorkoming is beter as genesing” baie van pas.

Artikel is Jan 2020 in The Dairy Mail geplaas

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Ford South Africa launches self-service tool ‘Ask Ford’ to enhance customer experience and engagement

Misdaadtoename ‘n bedreiging vir landbou