in

Hoe rooier, hoe mooier. Die rooi ras doen dit weer!

This post is also available in: Afrikaans

Die Vlakte Bonsmarastudiegroep veiling gehou 7 Mei 2021 was weereens ‘n groot sukses waar top diere, onderskeidelik 23 Bulle en 300 Vroulike diere onder die hammer gekom het.

In die hartjie van die Bosveld, op die plaas Doornpan 45km vanaf Roedtan in die Limpopo distrik het die veilingsregistrasie vroeg, vroeg begin. Beesboere het tougestaan te bang hulle mis dalk iets.

‘n Bakkie pap en kaiings vir ontbyt, monde blink ge-eet van al die gebraaide vet met die gebulk van kalwers in die agtergrond, verwelkom met oop en warm harte. Hierdie is mos die dinge wat mens weer kinderlik opgewonde én nostalgies maak.

Min dinge so vrolik soos ‘n volgepakte veilingsring waar ywerige kopers luidkeels die Rooi Ras se pryse najaag. Daar was gesels, gelag, gekoop en gekuier.

Die Vlakte Bonsmara studiegroep bestaan uit 20 telers wat in die noordoostelike gebied van Suid-Afrika top-gehalte mediumraam Bonsmaras teel wat ‘n definitiewe bydrae tot enige beesboerdery se volhoubaarheid sal verseker. Die groep het ontstaan te danke aan ’n aantal vooruitdenkende Bonsmaratelers op die Springbokvlakte.

Die studiegroep se leuse “so goed soos stoet” is in wese ‘n groot motivering om slegs die hoogste haalbare standaarde na te streef. Die vee aangebied op die veiling het vir hulself gepraat. Hulle bied elke jaar drie veilings aan. Afgesien van die speenkalfveiling in Julie, is die produksieveiling in Mei gefokus op vroulike diere met ’n goeie aanbod van bulle, en dan die tradisionele bulveiling in Oktober, waar ’n goeie kombinasie van top bulle en vroulike diere aangebied word.

Die belangstelling in die Bonsmara ras was beslis weer opnuut hier by die veiling aangewakker. Funksioneel doeltreffende diere, wat die ras uiters gesog maak en hulself weereens op die veiling bewys het. Goeie pigmentasie om die oё, uiers en kloue. Glad van haar, stewige bene en pote en moederseienskappe wat skrik vir niks.

Pryse wat op die veiling behaal is, het die topgehalte bulle en kommersiële vroulike diere wat aangebied is weerspieël. ‘n Uitstekende omset van R6,175,500 is op die veiling behaal. Die veiling is deur Vleissentraal Bosveld aangebied, Mike Killassy was die afslaer. Die veiling was ook aanlyn deur SwiftVee aangebied.

Veilingsuitslae:

  • Hoogste prys bul: Lot 10, R200 000.00 (Verkoper: André van der Heyde van Boschoek Bonsmaras)
  • Hoogste prys dragtige verse: Lot 78, R49 000.00 (Verkoper: Tian Kruger van TKB Bonsmaras)
  • Gemiddelde prys bulle: R65 375.00
  • Gemiddelde prys dragtige koeie en kalwers: R22 682.00
  • Gemiddelde prys verse: R15 118.00
  • Gemiddelde prys koeie en kalwers: R22 682.00
  • Gemiddelde prys dragtige koeie: R20 600.00
  • Gemiddelde prys dragtige koei en kalf: R30 744.00
  • Gemiddelde prys dragtige verse: R25 826.00

‘n Suksesvolle veilingsdag met lekker kuier was dit beslis. Baie geluk aan al die verkopers en aan die kopers wat met die topdiere wegstap.

Hierdie vleismasjien was die bul van die dag gewees. Hoogste prys behaal op die veiling en verkoop vir R200 000. Verkoper André Van Der Heyde van Boschoek Bonsmaras.
Die dragtige verse praat vir hulself. Hulle het die hoogste prys op die veiling behaal van die vroulike diere. Hierdie pragtige dragtige verse is verkoop vir R49 000 deur Tian Kruger van TKB Bonsmaras.

What do you think?

1 point
Upvote Downvote

Total votes: 1

Upvotes: 1

Upvotes percentage: 100.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Trekkerverkope styg met 27%

“SA’s Texas Beef Bull Sale” – Weereens ‘n sukses