in

Herfskommandowurm: Gevaarlikste pes nóg

herfskommandowurm

Die landboubedryf steier nog onder die nagevolge van die droogte en nou is die volgende ramp hier, naamlik die herfskommandowurm (Spodoptera frugiperda). Dit is ’n uitheemse wurm wat van Suid-Amerika af kom en nou al in sewe provinsies opgemerk is, naamlik Limpopo, Gauteng, Mpumalanga, Noordwes, die Vrystaat en die Noord- en Wes-Kaap.

“Ons weet nie presies hoe die wurm in Afrika optree nie, maar dit blyk dat die volwasse motte hulle eiers op die mielies lê waar die larwes dan ontwikkel. Hulle loop (tot nou toe) darem nie in groot getalle nie,” sê Jan Hendrik Venter, wetenskaplike bestuurder by die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye se Plantgesondheidsdepartement.

As mense hulle nie doodmaak nie sal hulle in volwasse motte ontwikkel, wat weer sal eiers lê. “Dit hang van die pes af, maar hulle sal òf nog ’n lewensiklus afhandel en meer skade aanrig òf eers oorwinter òf eenvoudig doodgaan,” sê hy.

Die lewensiklus van die herfskommandowurm van eier tot volwassene (mot) neem 24 tot 40 dae afhangende van weerstoestande en beskikbare kos.

Daar is geregistreerde plaagdoders vir die Afrika-kommandowurm, maar niks is nog geregistreer vir die herfskommandowurm nie, aangesien dit nog nooit in Suid-Afrika was nie. Plaagdoderverskaffers het ondertussen reeds aansoek gedoen om registrasie.

Jan Hendrik sê daar is wel ’n lys van aanbevole plaagdoders deur die Departement en Croplife SA opgestel, maar die gif moet verkieslik toegedien word wanneer die mielieplant redelik jonk is aangesien die larwes diep in die plant indring waar plaagdoder dit nie kan bykom nie. “Die aanbevole plaagdoders sal die plaag in ’n sekere mate beheer, maar hulle is nog nie geregistreer nie,” sê Jan Hendrik.

Desiree van Heerden, tegniese gewasdeskundige van Syngenta Suid-Afrika sê dat Suid-Afrika nie die enigste land is wat onkant betrap is nie. Lande soos Malawi, Namibië, Zambië en Zimbabwe het reeds groot oesverliese gely as gevolg van hierdie onbekende plaag. In Zambië is reeds sowat 130 000 ha vernietig.

Aanvanklik is berig dat die herfskommandowurm net op suikermielies en saadmielies opgemerk is, maar die voorkoms kon ook beïnvloed word deur die teenwoordigheid van sekere GMO-aanplantings.

Desiree sê mielies is wel die voorkeurgewas, maar die wurms kan ook gewasse soos gars, koring, grondboontjies, gras en voergewasse, asook groente soos kool, spinasie en die soetrissie-groep aanval. Aangesien die motte goeie vlieërs is, kan windstrome ‘n rol speel om hulle te help om oor groot afstande te versprei. Die Departement sê ook omdat die wurm nuut is, weet niemand watter langtermyninvloed hy kan uitoefen nie. Tans is daar nog meer vrae as antwoorde.

Desiree sê van die vrae is of die insekte sal uitsterf in koeler gebiede in die winter en wat sal gebeur in warm gebiede. Nog ’n vraag is of die herfskommandowurm ’n sporadiese plaag sal wees wat net elke paar jaar uitbreek en of dit ’n gereelde mielieplaag gaan word.  “Hoe sal dit ons ekonomies raak? Sal die plaag slegs ná droogte volg of kan dit in sogenaamde normale jare voorkom?”

Die Departement van Landbou het alreeds met rolspelers uit verskeie bedrywe koppe bymekaargesit om ’n plan van aksie vas te stel. Die eerste stap is om die pes te bevestig en om akkurate inligting daaroor te bekom, daarna sal ’n beheerstrategie in werking gestel word.

Die grootste gevaar is dat die plaag verkeerd bestuur kan word. Dit kan lei tot weerstandigheid teen plaagdoders en tot verdere produksieverliese. Boere bestry soms Afrika-kommandowurm deur slote om die lande te grawe. Die wurms val daarin en kom nie anderkant uit nie. Volgens Jan Hendrik sal dit werk vir die Afrika-kommandowurm, maar nie vir die herfskommandowurm nie.

Hy doen ’n beroep op boere om hulle bure te waarsku as die plaag op pad is. Goeie kommunikasie help altyd baie om peste en plae te bestry.”

Boere moet ook die Departement van Landbou in kennis stel indien hulle kwarantynpeste het. Daarvoor kan hulle Jan Hendrik Venter by 072-348-8431 of 012-319-6384 skakel, of stuur vir hom n e-pos na janhendrikv@daff.gov.za.

Die voorlopige tussentydse gids vir die gebruik van landbouchemikalieë om die herfskommandowurm te beheer, is op www.croplife.co.za beskikbaar.

herfskommandowurm
Eers die droogte… nou dit! Foto: D van Heerden, Syngenta
herfskommandowurm
Só lyk die skade wat die herfskommandowurm aan ’n pluim kan aanrig.
Foto: D van Heerden, Syngenta

herfskommandowurm
Kyk uit vir die venstervreetmerke aan jou mielieplante. Dit beteken die wurms is in jou land. Foto: D van Heerden, Syngenta.

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Scania

Scania verstaan boere se behoeftes

herfskommandowurm

Monsanto se nuwe Bt-mielies stonk die nuwe pes