in

Hereford: Vinnige groeiers vir fynproewers

“Vleis raak soos wyn,” verduidelik Adam Kethro van Greenfields Free Range Beef digby Mooirivier in Kwazulu-Natal. In die handvol uitgesoekte restourante, slaghuise en winkelgroepe in Johannesburg, Kaapstad en Durban, asook Mooirivier self, waar Greenfields se keurige vleis beskikbaar is, weet fynproewers om by die naam vir Greenfields te vra.
 
Die vleis, wat op die plaas self verwerk word, is anders as gewone voerkraalvleis. Adam sê dit het hulle tien jaar geneem om hulle handelsmerk te vestig en om die mark te oortuig dat die geurige vleis met sy lagie geel vet nie net smaakliker nie, maar gesonder ook is.
 
Die geheim is dat Greenfields se beeste wat teen die groen hange van die Drakensberg op die idilliese plaas in kampe loop, grasvreters is. ’n Bees is wat hy eet en elke stukkie vleis wat van Greenfields af kom, is gevul met die natuurlike goedheid wat hulle natuurlike dieet meebring.
 
Dit is geen wonder dat Greenfields as “Best Small Livestock Producer” aangewys is en die afgelope twee jaar die gesogte “Eatout”-toekenning ontvang het nie. Die maatstawe is tekstuur, sagtheid en smaak.
 
Net soveel sorg as wat in die verwerking en aanbieding van die vleis ingaan, net soveel aandag word aan die bestuur van die boerdery en keuse van die regte genetika gegee. Alles word noukeurig aangeteken en besluite word op grond van syfers geneem. “Ons hoofdoel is dat elke speenkalf in die program soveel as moontlik gewig, so gou as moontlik, moet aansit op die grasgegronde voeding en weiding,” sê Adam. Hy verduidelik dat hulle nie, soos by groot voerkrale, agter ekonomie van skaal kan skuil nie.
 
Dit was juis die vorige winter se syfers wat hom laat besef het dat hy weer baie mooi na sy keuse van bulle, asook kalwers wat ingekoop word, moet kyk. Die groep Herefords het die ander toprasse onder die tafel in presteer!
 
Adam sê hy wil nie ander rasse afkraak nie, maar in die spesifieke tydperk in die laatwinter was die gewigstoename van twee van sy ander staatsmakerrasse onderskeidelik 0,0 en 0,2 persent, terwyl die Herefords 0,5 persent groei gehandhaaf het. Nog toetse is gedoen en syfers nagegaan en telkens het die Herefords hulleself as die topgroeiers bewys. Die Herefords pas ook netjies in die teelprogram met hoë vrugbaarheid, kalwers wat klein is met geboorte en vroeg ryp word, wat noodsaaklik is in die Mooirivier-gebied met sy ysige winters.
 
Adam sê na al sy jare in die bedryf was dit vir kom ’n openbaring om te besef hoe groot die rol van klimaat werklik is. Mooirivier lê in die strook van die land met die hoogste reënvalsyfers, sowat 800 mm gemiddeld per jaar.
 
Daarby is die winters deurgaans koud en die somers aansienlik koeler as byvoorbeeld in die westelike streke van die land.
 
“Dit vergelyk goed met die klimaat in Engeland waar die Herefords vandaan kom,” sê hy. Adam sê dit maak sin om rasse wat uit die Bos Indicus-familie kom en vir Afrikaomstandighede aangepas is, in die warmer, droër streke te gebruik, maar in die Mooirivier-omgewing en in Greenfields se boerdery-opset het Bos Taurus-beeste van Europese en veral Britse oorsprong, beslis ’n voorsprong. “Dit is eintlik net logies dat ons hier ’n langhaarbees nodig het.”
 
’n Baie intensiewe voorkomendegesondheidsprogram word op die plaas gevolg, veral met betrekking tot rooiwater wat dikwels in die omgewing voorkom. Natuurlike weerstand wat in die Afrika-rasse ingeteel is, speel dus nie so ’n groot rol in die boerdery nie. Adam sê hulle sal beslis in die toekoms wanneer speenkalwers ingekoop moet word, op die uitkyk wees vir die Witgesigte en hy gaan nou vir die nuwe seisoen belê in ’n paar goeie Herefordbulle.
 
Vind uit watter voordele die Herefords se uitstekende gemiddelde daaglikse groei vir jou boerdery kan inhou. Kontak die Hereford Telersgenootskap by SA Hereford 051-410-0958 of hereford@studbook.co.za

 

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Boere en Die Spoorsnyers trap renosterstropers vas.

Suiwelboere sit hulle syfers op die tafel