in

Hanteer jou vleisbeeste só – Deel 1: Ken jou diere

vleisbeeste

Doeltreffende hanteringsgeriewe is noodsaaklik vir die suksesvolle produksie van beesvleis. Hierdie geriewe moet die bestuur van die stelsel vergemaklik en arbeid tot ‘n minimum beperk.

Dit moet funksioneel en ekonomies wees en ‘n veilige omgewing vir die diere, asook ‘n veilige werksomgewing vir die hanteerders, verskaf. Doeltreffende hanteringsgeriewe is noodsaaklik vir die suksesvolle produksie van beesvleis. Hierdie geriewe moet die bestuur van die stelsel vergemaklik en arbeid tot ’n minimum beperk. Dit moet funksioneel en ekonomies wees en ’n veilige omgewing vir die diere, asook ’n veilige werksomgewing vir die hanteerders, verskaf.

Toerusting en geriewe is duur om aan te koop of te bou, maar die verlies aan beeste as gevolg van swak beplande hanteringsgeriewe en onvoldoende of goedkoop toerusting, is baie duurder. Omdat behoeftes verskil, sal ’n ideale hanteringskraaluitleg nie vir alle boere dieselfde wees nie. Daarom moet ’n boer eers goed nadink oor watter tipe fasiliteite hy benodig en wat hy daarmee beoog. Met hierdie reeks artikels wat met die hulp van die LNR se Instituut vir Landbou-ingenieurswese saamgestel is poog ons om die tegniese inligting van soveel moontlik geriewe weer te gee om die boer in sy besluitnemingsproses te help.

Ken jou diere

Diere het sekere gedragsneigings wat hulle optrede bepaal wanneer hulle hanteer word. Hierdie gedragsneigings moet in ag geneem word by die beplanning en ontwerp van ’n hanteringstelsel. Swak beplande geriewe sal tydvermorsing teweegbring, wat sowel die boer as die bees se produktiwiteit benadeel. Anders as ’n mens, kan ’n bees amper reg rondom hom sien sonder om sy kop te draai. Dit beteken nie hy kan oral volledig diepte onderskei nie.

Figuur 1 toon die gesigsveld van ’n bees. Aan die voorkant is ’n gebied waar hy stereoskopiese sig het. Dit is die gebied waar hy teoreties diepte behoort te sien. Aan die agterkant is ’n blindekol waar hy niks kan sien nie. In die gedeelte wat oorbly, het die bees enkelvlakkige sig. Dit is die gebied waar hy teoreties nie diepte kan sien nie.

In werklikheid kan ’n bees tog in ’n mate diepte in die gebied onderskei. Indien ’n persoon sy een oog toemaak, behoort diepte teoreties glad nie waargeneem te kan word nie, tog het die menslike brein oor die jare aangeleer om diepte aan die beeld te koppel. ’n Bees het, soos ’n mens, ’n persoonlike ruimte. Hierdie ruimte word die vlugsone genoem en is die gebied rondom die bees waarin hy alleen wil wees om veilig en gemaklik te voel. Die grootte van die vlugsone is hoe naby die bees ’n persoon sal toelaat om aan hom te kom voordat hy wegbeweeg. Volgens T Gradin (1998) is daar vier faktore wat die grootte van die vlugsone beïnvloed, naamlik:

– Die bees se genetika

– Die aantal kere wat hy al met mense in aanraking gekom het

– Die aard van die aanraking

– Die hanteerders se aksie

Deur die vlugsone en die balanspunt in ag te neem, kan beeste gemaklik hanteer word. Die balanspunt is ongeveer by ’n bees se skouer. Indien ’n hanteerder agter die balanspunt en in die vlugsone is, sal die bees vorentoe loop. Indien die hanteerder voor die balanspunt en in die vlugsone is, sal die bees na agter beweeg.

Beeste moet ook op hierdie wyse in ’n drukgang aangejaag word. Figuur 2 toon die posisie van die hanteerder ten opsigte van die bees vir suksesvolle hantering. Die hanteerder beweeg na posisie A. Dit is binne die vlugsone en agter die balanspunt. Die bees hou nie van die hanteerder in sy persoonlike ruimte nie en beweeg vorentoe, sodat dat die hanteerder nou in posisie B is. Die hanteerder beweeg nou weer na posisie A. Wanneer ’n aantal beeste in ‘n drukgang aangejaag word, moet die hanteerder van voor na agter beweeg, soos in Figuur 3 getoon.

Hierdie aksie mag aanvanklik verkeerd lyk, maar as die vlugsone en balanspunt in ag geneem word, sal dit sin uitmaak. Met die laaste kontak wat ‘n persoon met die bees het, moet hy tog seker agter sy balanspunt wees om die bees vorentoe te laat beweeg. Daar bestaan ook ’n sosiale hiërargie tussen beeste in ’n kudde. Wanneer hulle saam in ’n wagkraal gejaag word, sal die normale voorkoms van antagonistiese gedrag tussen die beeste toeneem. Beeste met horings kan ander diere beseer, terwyl jonger diere en kalwers ook ernstige beserings kan opdoen. Wanneer verskillende groepe beeste skielik in ’n kraal saamgehok word, sal dit ook onnodige onenigheid tussen indiwiduele diere veroorsaak omdat die rangorde versteur is.

Dit is dus belangrik, om waar moontlik, gevestigde groepe diere apart te hou tydens aktiewe hantering. Dit geld ook vir jong diere en kalwers. Wanneer beeste aangejaag word, moet die bogenoemde dieregedrag ook in ag geneem word. Figuur 4 toon die hanteerder se posisie wanneer beeste langs ’n kampheining af moet beweeg.

Volgende maand bespreek ons verskillende soorte sorteerkrale en drukgange. Met dank aan die LNR-Instituut vir Landbou-ingenieurswese vir die gebruik van hulle Beeshanteringshandleiding.

vleisbeeste
Figuur 1: Die gesigsveld van ’n bees
vleisbees
Figuur 2: Posisie van hanteerder
Figuur 3: Beweging van hanteerder
Figuur 3: Beweging van hanteerder

vleisbeeste
Figuur 4: Hanteerder se posisie wanneer beeste langs ’n kampheining af beweeg

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Bonnox werk in enige toepassing

skaapbrandsiekte

Skaapbrandsiekte