in

GWM wil 'n duik in die Suid-Afrikaanse bakkiemark slaan

Sjina se motorkarvervaardigers is nie in Suid-Afrika om speletjies te speel nie. Die verskeie fabrikate uit die Oosterse land is besig om ’n stewige markaandeel te verower terwyl die gehalte ook stadig maar seker op peil kom.

Great Wall Motors (GWM) het homself reeds stewig tussen die enkel- en dubbelkajuit-bakkies in Suid-Afrika staangemaak. Met die bekendstelling van ‘n hergestruktureerde Steed-reeks wat selfs nog beter aan die Suid-Afrikaanse vereistes voldoen, is die maatskappy optimisties oor sy groeivooruitsigte in twee van Suid-Afrika se grootste marksegmente.

“Die herbelynde Steed-reeks is die gevolg van die noue samewerking tussen GWM Suid-Afrika en ons naamgenoot in Sjina,” sê Hannes Oosthuizen, bemarkingsbestuurder van GWM SA. “Suid-Afrika is lief vir bakkies, en GWM is reeds goed gevestig in dié veld, maar met hierdie nuwe reeks sal ons ’n produk bied wat nie net wyer strek as wat die meeste mededingers bied nie, maar ’n reeks wat noukeurig saamgestel is om aan die Suid-Afrikaanse verbruikerneigings en -vereistes te voldoen,” verduidelik hy.

“Van die nuwighede is ‘n agterste ewenaarslot as standaard aan sommige modelle, tot die ontwikkeling van ‘n nuwe, meer bekostigbare turbodieselenjin vir die plaaslike mark. Die hersiene reeks toon dat GWM Suid-Afrika na sy kliënte luister.”

Die nuwe Steed-reeks bestaan uit drie unieke modelle: die betroubare Steed 5 wat reeds ‘n gunsteling onder Suid-Afrikaners is en wat nog steeds in enkel- en dubbelkajuit-vorms voorkom; die Steed 5E, wat slegs as ‘n dubbelkajuit aangebied word en die vlagskip Steed 6-ontspanningsdubbelkajuit.

Hierdie drie modelle teiken verskillende kliënte:

Steed 5: Hierdie werkesel word in enkel- en dubbelkajuit-vorms aangebied teen ’n prys van R154 900 tot sowat R230 000. Die Steed 5 se enkelkajuit is hoofsaaklik gerig op kliënte op soek na ‘n werksvoertuig, terwyl die dubbelkajuit ‘n mate van ’n lewenstylgevoel teen ‘n baie aantreklike prys bied.

Steed 5E: Is slegs as dubbelkajuitbakkie beskikbaar en kos vanaf net minder as R230 000 tot sowat R280 000. Die 5E is op die Steed 5 gegrond, maar betekenisvolle veranderinge aan die binnekant en veral met NVH-beheer (geraas, vibrasie, hardheid) maak dit ‘n meer verfynde keuse wat ook as ’n alles-in-een gesinsvoertuig kan dien.

Steed 6: Hierdie pronkperd is’n volbloed ontspanningsdubbelkajuit. Hy kos vanaf net minder as R300 000 tot sowat R350 000. Teikenkliënte is mense vir wie ‘n luukse dubbelkajuit vryheid moet bied en ’n statussimbool is, en wat die moderne geriewe en die jongste veiligheidskenmerke benodig.

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Die koringoes lyk beter as verwag

PPC help bou aan landbou