in

Grondbewerking: Wat jou grond vra

Tradisie is nie meer die bepalende faktor wanneer boere besluite neem oor grondbewerking nie. Suksesvolle boere laat hulle lei deur die jongste navorsing en noukeurige ontleding en is nie bang om self te eksperimenteer nie. 

ProAgri het vir Martiens du Plessis, grondkundige by NWK Beperk, gevra om die rol van grondtipe in bewerkingsbesluite te bespreek. Tussendeur is daar ’n fotobeeld van enkele praktyke en toerusting wat ProAgri se redaksionele span die afgelope paar maande by demonstrasies en op plase raakgeloop het. 

 

Wanneer grond bewerk word of bloot wanneer ’n werktuig oor die grond ry, het dit regstreeks ’n invloed op die grond se fisiese eienskappe. ’n Verandering in die fisiese eienskappe beïnvloed weer sommige chemiese en biologiese eienskappe. Die mate waartoe grondbewerking die eienskappe beïnvloed, verskil tussen grondtipes. In hierdie artikel gaan die invloed van grondtipe op die besluit oor ’n geskikte bewerkingstelsel, uitgelig word. 

Grondfisiese eienskappe wat in ag geneem moet word. 

Daar is ’n aantal grondfisiese grondeienskappe wat met besluite oor ʼn bewerkingstelsel in ag geneem moet word. Sommige van hulle raak die gemaklikheid van bewerking, soos klewerigheid, vastheid en dravermoë. 

Sommige van die eienskappe is baie gevoelig vir agteruitgang tydens bewerking, soos grondsterkte, hidrouliese geleiding, brutodigtheid, deurlugting, organiese materiaal, grondmikrobes en hoërorde-grondlewe. 

Wanneer daar op ’n bewerkingstelsel besluit word, moet die voor- en nadele van die uitwerking van die stelsel op hierdie grondeienskappe oorweeg word. Uit die aard van die saak is die stelsel met die kleinste impak en wat prakties uitgevoer kan word, die wenner. Dit wissel van grond tot grond. 

Grondvastheid 

Daar word na vastheid verwys as daardie eienskappe wat afhanklik is van die kleefeienskappe en die weerstand teen vervorming by verskillende waterinhoude. Droë grond se vastheid is wesenlik harder weens toenemende kohesiekragte in die grond teenoor wanneer dit klam is. 

Wanneer die grond bokant veldwaterkapasiteit nat is, verloor dit die meeste van sy sterkte en vervorm dit baie maklik (plastiese vastheid), maar verbrokkel nie. Dit is tussen hierdie twee grense (harde vastheid weens droogte en plastiese of vervormbare vastheid wanneer dit nat is) waarby grond bewerk word. 

Grondvastheid beïnvloed die keuse van bewerking. Om droë grond met ’n harde vastheid te bewerk, vereis meer energie as om klam grond met ’n brokkelrige vastheid te bewerk. Derhalwe wag ’n mens eerder totdat dit goed gereën het. Kleigrond se vastheid in die droë toestand is tipies hard en verg baie energie om te bewerk. Aan die ander kant moet dit nie nat en plasties wees nie, want dan kleef dit aan die werktuie. Dus is die vensterperiode om kleigrond te bewerk klein. 

Grondsterkte 

Grondsterkte is die vermoë van die grond om vervorming deur kragte wat toegepas word, te weerstaan. Grond wat nog nooit deur bewerking versteur is nie of wat ook nog nooit deur iets vasgetrap is nie, kan geag word by natuurlike grondsterkte te wees. 

Sandgrond by natuurlike grondsterkte en tot veldwaterkapasiteit benat, se penetrasieweerstand soos met ’n penetrometer gemeet, wissel meesal tussen 900 kPa en 1 100 kPa. Die penetrasie-weerstand van kleieriger grond is hoër weens die groter mate van klewerigheid van kleigrond. 

Wanneer werktuie oor ’n land beweeg, kompakteer dit die grond, wat die grondsterkte en dus die weerstand teen vervorming, verhoog. Sandgrond kompakteer makliker en dieper as kleigrond en derhalwe neem die grondsterkte weens kompaksie meer in sandgrond toe as in kleigrond. 

Dravermoë van die grond 

Die dravermoë van grond is ook ’n aspek van grondsterkte. Vir ’n trekker om oor grond te beweeg en vrag te kan trek, moet die trekkerwiel die grond kompak-teer en dan haak die bande se kappe in die gekompakteerde grond en kan die trekker vorentoe gestoot word. Wanneer grond baie nat is (plastiese vastheid), vervorm dit in so ’n groot mate dat trekkerwiele dit nie gekompakteer kan kry nie en die trekker kan nie loop nie. 

Die teenoorgestelde is ook waar. Wanneer los sandgrond heeltemal droog is, kan dit ook nie gekompakteer word nie en dan sit ’n voertuig ook in die droë los sand vas (los vastheid). Grond met ’n swak dravermoë kan derhalwe net ligte bewerkings verdra. 

Trekker- en werktuigvervaardigers is deeglik bewus van die invloed van wiele op grondstruktuur en hoëflotasiebande is deesdae die standaard by veral swaar toerusting soos hier aan die Equalizer SL Min-Till-mielieplanter. 

Hidrouliese geleiding 

Die hidrouliese geleiding van grond is die vermoë van die grond om water onder die invloed van ’n krag (gewoonlik swaartekrag) te gelei. Die geleiding of vloei van water vind deur die watergevulde porieë en langs waterfilms in die porieë plaas. Hoe groter die porieë (wat aaneenlopende buisies vorm en kapillêre buisies genoem word) hoe vinniger word die water deur die kapillêre buisies gelei (soos in sandgrond). 

In gekompakteerde of vasgetrapte grond is die grootste buisies inmekaar-gedruk en is die geleiding stadiger. In kleigrond is daar meer buisies, maar hulle is baie dunner en bied dus meer weerstand teen waterbeweging weens die groter adhesiekrag in die dunner buisies. Gekraakte kleigrond verskaf tydelike makroporieë waarin water vinnig inbeweeg, maar sodra die krake toeswel met benatting, is die waterbeweging baie stadiger. Wanneer werktuie oor klam kleigrond beweeg, druk dit die krake toe en verlaag dit waterbeweging. 

Die implikasie hiervan vir grondbewerking is dat sandgrond gouer na benatting bewerk kan word. Kleigrond moet eers heelwat afdroog voordat dit bewerk kan word. 

Brutodigtheid 

Die brutodigtheid van grond verwys na die massa per eenheidsvolume grond en word in kilogram per kubieke meter (kg/m3) uitgedruk. Die brutodigtheid van onversteurde sandgrond is gewoonlik tussen 1 600 en 1 800 kg/m³ en dié van kleigrond tussen 1 100 en 1 300 kg/m³. 

Wanneer grond gekompakteer word, word die brutodigtheid daarvan verhoog omdat daar meer minerale deeltjies per kubieke meter saamgepers word en dus minder porievolume nalaat. Grond met ’n hoër brutodigtheid bewerk dus moeiliker en vereis meer energie vir bewerking. Grond met ’n abnormaal hoë brutodigtheid moet losgemaak word. 

Sandgrond is meer gevoelig vir vermindering van brutodigtheid met bewerking as kleigrond. Voorts herstel brutodigtheid nie natuurlik in sandgrond nie en moet dit deur meganiese bewer-kingsaksies herstel word. Kleigrond kraak met uitdroging en die brutodigt-heid herstel vanself oor tyd. 

Rusperbande verminder nie net kompaksie nie; dit help ook om wielglip uit te skakel. Die Soucy Tracks-rusperbande wat hier gedemonstreer word, pas aan enige bestaande trekker en kan ook weer afgehaal word vir padrywerk. 

Klewerigheid 

Grond se klewerigheid word deur ’n kombinasie van die kleipersentasie en die kleitipe bepaal. Montmorillonitiese klei (dié wat baie swel en krimp met benatting en uitdroging) is meer klewerig as die kaolinitiese klei. Grond waarin oorheersend montmorillonitiese klei is, kleef aan werktuie vas en dit moet droër bewerk word wanneer dit nie-plasties is. 

Grond met kaoliniet as kleimineraal kan natter bewerk word. Die hoeveelheid klei in die grond is ook belangrik. Sandgrond met montmorillonitiese klei is nie noodwendig klewerig nie en kleigrond met kaoliniet is ook nie noodwendig klewerig nie. 

Porieë 

Water- en lugbeweging deur die grond is van die hoeveelheid en grootte van porieë in die grond afhanklik. ’n Gunstige poreusheid of deurlugting van die grond is dus vir plantwortels belangrik. Deur die grond te bewerk, word die poreusheid van die grond verhoog en dit veroorsaak dat water- en lugbeweging deur die grond verbeter. 

Aan die ander kant kan grond te los wees met te veel makroporieë, tipies nadat ’n aggressiewe primêre bewerking uitge-voer is. Dit veroorsaak dat die grondwortelkontak nie optimaal is nie en dan kan plantwortels nie water en plantvoedingstowwe optimaal opneem nie. 

Sandgrond se brutodigtheid herstel nie natuurlik nie en meganiese bewerkingsaksies kan nodig wees as gevolg van kompaksie.

Kleigrond kraak met uitdroging en die brutodigtheid herstel vanself mettertyd. 

Organiese materiaal 

Organiese materiaal verlaag klewerigheid, verlaag brutodigtheid en verhoog poreusheid. Wanneer grond bewerk word, word die toestande vir biologiese afbreking van organiese materiaal bevorder. Dit het weer ’n uitwerking op verskeie grondfisiese, grondchemiese en grondbiologiese eienskappe. 

Geenbewerkingstelsels is uiters geskik vir die bewerking en benutting van organiese materiaal. 

Tekstuur 

Minerale gronddeeltjies van grond verskil in grootte. Minerale deeltjies kleiner as 2 mm in deursnee word as grond beskou. Die fynste deeltjies word as klei geklassifiseer, die growwe deeltjies as sand en die intermediêre grootte as leem. Tekstuur verwys na die verhouding waarin sand, leem en klei in die grond voorkom. 

Bogenoemde grondeienskappe word almal deur tekstuur beïnvloed. Kleigrond se vastheid is harder in die droë toestand en plasties in die klam toestand en dit beïnvloed bewerking regstreeks. Die gekompakteerde grondsterkte van sandgrond is hoër as dié van kleigrond. Kleigrond se hidrouliese geleiding is stadiger as dié van sandgrond. Kleigrond is meer klewerig as sandgrond. 

Bewerkingstelsels en grondtipe 

Oor die algemeen geld die reël dat hoe hoër die kleipersentasie, hoe vlakker kan bewerk word. Om kleigrond diep met ’n skeurploeg te bewerk, gaan in die oorgrote meerderheid van gevalle onnodig wees en gaan in baie gevalle waarskynlik nadelig wees.

In sandgrond, daarenteen, gaan ’n diep skeurploegbewerking in die meeste gevalle opbrengs bevoordeel. Die hoofrede hiervoor is dat sandgrond maklik en diep kompakteer wanneer werktuie oor die land beweeg en dat ’n effektiewe diep skeurploegbewerking die kompaksie ophef, brutodigtheid verlaag, deurlugting verbeter, waterbeweging bevorder en wortelgroei stimuleer. 

Tussen hierdie twee uiterstes is leemgrond, wat tot ’n meerdere of mindere mate na die een of ander kant neig. 

’n Skaarploegaksie kan nodig wees om kompaksie in die bogrond te herstel. As gevolg van onkruiddoderweerstand, veral in die Wes-Kaap, pas sommige boere ook weer diepbewerking toe om onkruid te beheer. Die Lemken-omswaaiploeg sorg dat die aksie vinnig en doeltreffend kan plaasvind. 

Wat van geenbewerking? 

Tradisioneel word aanvaar dat klei- en kleileemgrond geskik is vir ’n geenbewerkingstelsel en dat sandgrond nie daarvoor geskik is nie. In Argentinië word sowat 90% van alle gewasverbouing in geenbewerkingstelsels gedoen. Hiervan is die oorgrote meerderheid van dié grond uiterste leem- en sandgrond met baie min klei. 

Maar wat van geenbewerking in Suid-Afrika? 

Na my mening kan geenbewerking suksesvol op alle grond in Suid-Afrika toegepas word, met die voorbehoud dat bogenoemde afbreking van grondeienskappe doeltreffend bestuur word. 

Dit word gedoen deur die grond se chemiese eienskappe reg te stel voordat daar met die stelsel begin word. Grond-ontledings is noodsaaklik hiervoor. Gedegradeerde fisiese eienskappe, by name grondsterkte, brutodigtheid, hidrouliese geleiding en poreusheid moet ook doel-treffend vooraf met die regte werktuie reggestel word. 

Hierna is ’n permanente spoorverkeerstelsel, waarin alle landverkeer jaar na jaar op dieselfde spore ry, ’n absolute voorvereiste. Hiervoor is GPS-navigasiestelsels aan die landbouwerktuie van besondere groot hulp. Dit beteken dat die praktyk om jaarliks die ryrigting te swaai, die volhoubaarheid van so ’n stelsel ernstig in die wiele ry. In Australië word beheerde spoorverkeer selfs op kleigrond gepropageer omdat dit, soos hierbo beskryf, die makroporieë oop hou en waterindringing wesenlik bevoordeel. 

Samevatting 

Wanneer werktuie oor ’n land beweeg en grond bewerk word, veroorsaak dit afbreking van sommige grondeienskappe. Aan die ander kant is bewerking dikwels ook nodig om afbreking wat voorgekom het, meganies te herstel. 

Boere moet seker maak dat die bewerking wat uitgevoer word, doeltreffend is. Dit is ongelukkig so dat die bal alte dikwels misgeslaan word engrondbewerking, sonder dat die boer dit besef, ondoeltreffend uitgevoer word. 

Geenbewerking is waarskynlik die pad vorentoe, met die voorbehoud dat grondafbreking in die geenbewerkingstelsel doeltreffend bestuur word. ’n Verskeidenheid fisiese, chemiese en biologiese grondeienskappe kan potensieel in ’n geenbewerkingstelsel agteruitgaan en moet gereeld gemoniteer word. 

’n Permanente spoorverkeerstelsel, waarin alle landverkeer jaar na jaar op dieselfde spore ry, kan doeltreffend aangewend word om afbreking van ’n hele aantal grondfisiese eienskappe te bestuur. 

’n Tandbewerking as deel van die plantaksie, soos met die Equalizer Min-Till-koringplanter, bied ’n goue middeweg waar plantrye dieper bewerking en kunsmisplasing benodig sonder om die voordeel van oesreste wat op die land agterbly in te boet. 

Vir verdere navrae kan die skrywer by martiens@nwk.co.za gekontak word.

 

Die Jumil-reeks planters is spesiaal ontwikkel vir totale geenbewerking en plantwerk regstreeks in oesreste – en selfs onbewerkte grasland.

 

 

 

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Pioneer se wêreldkampioene deel hulle geheime

Boere koop lekker trekkers