in ,

Groei met goeie diesel: Kry jou Shell by Auto Commodities

Daan Joubert (jnr) van Payloads, Michelle Ramdas van Shell, Riaan Joubert van Payloads en Daan Joubert van Auto Commodities voor een van die omgeboude tenkwaens wat nooit leeg hoef te loop nie.

“Ek moet vir Auto Commodities ‘n pluimpie gee. Ek sukkel nooit met hulle nie,” vertel oom Willem Pretorius van Ventersdorp. Hy behoort te weet waarvan hy praat, want hy koop al vyftien jaar lank diesel vir al die masjiene op die plaas by Auto Commodities op Krugersdorp. Oom Willem sê: “Ons weet mos wanneer ons meer diesel gaan gebruik soos met planttyd en strooptyd en dan bestel ons vroegtydig, maar daar was al ‘n noodgeval of twee waar ek die oggend dringend moes bestel en die middag is dit afgelewer.”

Een van die groot voordele van Shell se stelsel van herverspreiders, is dat ‘n boer ‘n persoonlike verhouding met sy plaaslike dieselverskaffer kan opbou.

Daan Joubert-hulle van Auto Commodities laat weet hom byvoorbeeld as hulle in die omgewing aflewer sodat hy sy 8 000 liter-tenk kan volmaak. Op sy beurt hoor hy ook by bure of hulle diesel nodig het, sodat die tenkwa nie net vir hom ry nie.

Dit gaan nie net oor diens nie, ook oor die gehalte van die produk, sê oom Willem. “Ek kan nou maar vir jou eerlik sê dit is goeie diesel wat hulle verkoop. Jy kry diesel vir jou geld en sit nie agterna met alge wat in die tenk groei as gevolg van een of ander afgewaterde, flou produk nie.” Hy koop 50 ppm-diesel, want dit is wat die nuwe tegnologie in die trekkers vra, maar natuurlik kan al die ou staatmakers op die plaas ook rustig met hulle tjoef-tjoef werkies aangaan, soos om voer te maal vir die melkkoeie.

Die tenk is vol en die trekker gereed vir planttyd, sê Theresa en Willem Pretorius van Ventersdorp. Nou moet die reën net kom.
Die tenk is vol en die trekker gereed vir planttyd, sê Theresa en Willem
Pretorius van Ventersdorp. Nou moet die reën net kom.

So groei Auto Commodities

Die Jouberts het eintlik van die vervoerkant af in die dieselverspreidingsbesigheid beland deur hulle onderneming, Payloads. Vandag word Payloads onafhanklik deur twee van Daan se seuns, Daan en Riaan, bedryf, terwyl die derde seun, André, by Auto Commodities betrokke is.

Hulle is ‘n hegte familie en André sê: “Ons moet op ‘n daaglikse grondslag met mekaar kan saamwerk, want ons kombineer vragte.” Daan-hulle het ‘n slim plan bedink om nooit met ‘n leë vragmotor te ry nie. ‘n Hele klomp van hulle trokke is omgebou met ‘n sykantelwa tussen die twee tenkwaens.

Daarin kan ‘n verskeidenheid produkte, soos erts en mangaan, vervoer word. Die trokke loop so ver as Gabarone, Maputo en Durban.

Dit is geen wonder dat Auto Commodities nou oorweeg word om ‘n DFOA-geleentheid by Shell te bekom nie. DFOA staan vir Delivery For Own Account en dit beteken dat Auto Commodities dan namens Shell aflewerings sal kan hanteer. Hulle sal dus nie net diesel aanry wat deur hulleself verkoop word nie, maar regstreeks vir Shell ook.

Daan sê: “As ons nie een van Shell se Topverspreiders was nie, sou ons nooit die geleentheid gekry het nie.” As Topverspreider (Branded Distributor) kan Auto Commodities van die wêreldbekende Shell-handelsmerk gebruik maak en ook voordele geniet soos gespesialiseerde opleiding aan personeel om aan die gevorderde veiligheidstandaarde wat vereis word, te voldoen.

Michelle Ramdas is ‘n gebiedsbestuurder van Shell en hanteer Auto Commodities se rekening. Sy sê die feit dat Auto Commodities vir die DFOA-geleentheid oorweeg word, is ‘n bewys van die vertroue wat Shell in die maatskappy het. Michelle sê Daan en sy span is voortdurend besig om nuwe geleenthede te ontgin en om te groei. Hulle deel Shell se beginsels van integriteit, eerlikheid en respek.

Auto Commodities het onlangs ook sy opslagruimte dramaties verhoog en kan ‘n allemintige 18-miljoen liter brandstof berg. Die bykomende reuse- tenks op die buurperseel word egter hoofsaaklik deur ‘n sakevennoot vir vloeibare gas gebruik.

Vir boere beteken Auto Commodities die volgende:

– Veilige en tydige aflewering van diesel in ‘n 200 km-straal rondom Krugersdorp.

– ‘n Bedieningspunt waar boere self hulle bakkies en ander voertuie met gehalte diesel teen ‘n goeie prys kan gaan volmaak.

– Gewaarborgde goeie gehalte skoonbranddiesel met ‘n bewese besparing van drie persent in verbruik.

– Langer enjinleeftyd met minder onderhoud as gevolg van Shell Diesel Extra se voorkoming van aanpaksels.

– Minder tyd by die pomp en minder vermorsing as gevolg van die teenskuim-eienskap van Shell Diesel Extra.

 

Bestel jou diesel by Auto Commodities by 011-955-4571 of vind uit wie jou plaaslike Shell-verspreider is deur Réomè van der Westhuizen by 082-463-4344 te skakel of stuur n e-pos na r.vanderwesthuizen@shell.com.

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Jupidex Geo Spread bestuur elke korrel

Saag en benut bates beter