in ,

Goeie nuus: Equalizer sprei sy vlerke

This post is also available in: Afrikaans

Boere wat perfek wil plant en groot oeste wil behaal, terwyl hulle tyd en diesel bespaar, sal verheug wees om te verneem dat die wagtyd vir ’n nuwe Equalizer-planter nou heelwat korter gaan word. Equalizer is besig om ’n groter, beter fabriek volgens die mees gevorderde standaarde te bou.
Dit is ’n wonderlike ervaring om jou skeppingsvermoë en werkslus uit te leef in ’n werksplek wat netjies en georden is en wanneer jy die jongste tegnologiese hulpmiddels kan inspan, is sukses jou enigste voorland. Dit is die grondslag waarop die planters in Equalizer se nuwe fabrieksuitbreiding in Brackenfell vervaardig gaan word, want tevrede werkers wat in ’n besonderse fyn ergonomies-ontwerpte omgewing met genoeg ruimte werk, kan nie anders as om planters van die beste gehalte by die fabriek uit te stoot nie.
Sedert 2002 moes Equalizer sy fabriek twee keer uitbrei en vergroot om in die groeiende aanvraag na hulle uitstaande planters te voldoen en oor die afgelope vier jaar moes hulle hulle deurset onder dieselfde dak verdubbel. “Maar nou het ons ’n kritieke punt bereik, want hier is nie meer ruimte om ons self te draai nie,” sê Nicholas Davies, Equalizer se produksie-ingenieur. “Ons het ’n perseel van 5 000 m² agter die bestaande een gekoop en bou tans 4 500m² se vervaardigingsruimte daarop.”
Equalizer het die professionele roete gevolg en ’n span raadgewende ingenieurs gekry wat vir hulle ’n aanleg ontwerp wat aan die strengste vereistes gaan voldoen om vervaardiging tot nuwe hoogtes te voer, maar wat steeds eenvoudig en prakties sal werk. Nicholas het ook oor die hele wêreld rondgevlieg om by verskillende aanlegte te gaan kers opsteek.
“Ons het besluit om die oorhoofse krane se steunpunte reeds in die dakbalke in te bou, wat op die lang duur baie voordelig gaan wees. Nou kan ons die planters deur die verskillende werkstasies vervoer sodat die mense met al hulle gereedskap en hulpmiddele staties kan bly,” sê hy.
“Ons vervang ook ons bestaande verfstasie, wat reeds ’n wurgplek op sy eie is, met ’n poeierbestrykingsaanleg. ’n Oorhoofse spoor van 250 meter gaan daardeur loop met hangers elke 600 mm, sodat elke onderdeel bestryk en gebak kan word terwyl dit stadig vorentoe beweeg. Na die bestrykingsaanleg gaan die enkelspoor verby verskeie werkstasies loop, waar die onderskeie onderdele wat bymekaar hoort by ’n bepaalde stasie afgehaal en aanmekaargesit kan word. Daarna word die subeenhede weer terug in die hoofmonteerlyn geplaas om aan die planter gemonteer te word, sê hy.
Die hoofmonteerlyn het eerstens ’n standaardmonteringstasie waar die standaardonderdele gemonteer word en daarna ’n spesiale monteerstasie waar onderdele vir spesiale bestellings aangebring sal word. Die onderdelemagasyn met al die bestelde onderdele sal ook binne reikafstand wees sodat werkers so min as moontlik hoef te loop.
Gehaltekontrole is vir Equalizer baie belangrik want elke produk is ’n getuigskrif. Die laaste stasie in die fabriek is dus die gehaltekontrolestasie of PDI (pre-delivery inspection) waar alles op elke planter deur ’n span spesialiswerkers getoets word.
“Ons het ’n 14-bladsy gehaltedokument wat deur ons gehaltekontroleerspan deurgewerk moet word sodat elke item geïnspekteer en afgemerk kan word,” sê Nicholas.
Vir ’n laaste gerusstelling word die planter wat vir padvervoer uitmekaargehaal en by die handelaar aanmekaargesit word, weer geïnspekteer om vir ’n laaste keer seker te maak dat elke onderdeel in ’n werkende toestand is. “Dit is een van die redes vir ons sukses,” sê hy.
“Tans produseer ons twee planters elke drie dae, maar met ’n berekende 40% hoër aanvraag, gaan ons elke dag ’n planter kan uitstuur. Dit beteken ’n produksieverhoging van 50%. Die aanleg sal in die verdure toekoms nog 50% vinniger kan werk. Ons fokus is steeds om spesialisvervaardigers, -verwers en –monteerders te wees en ons kontrakteer die vervaardiging van ander onderdele soos die rubberwiele en plastiektenks uit. Ons is klein genoeg om vining volgens die markbehoeftes te verander of ’n spesiale bestelling uit te voer, maar groot genoeg om deurlopend uitstaande produkte van die hoogste gehalte te lewer,” sê Nicholas.
Equalizer is die markleier onder die koringboere in die Wes-Kaap en groei ook sterk onder die mielieboere in die Noorde. Boere word deesdae gedwing om kostes te besnoei en tyd te bespaar en dié wyeraam minimumbewerkings- planters wat uit eie bodem ontstaan het, maak dit moontlik.
Equalizer voer regstreeks en onregstreeks planters en submonterings uit na die DRK, Australië en Kanada, “maar ons is in Afrika en ons ontwikkel en vervaardig eerstens vir die bepaalde behoeftes van Afrika,” sê Nicholas.

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Dragtige varke kry meer Vryheid

John Deere sorg vir raak besluite en lae risikostatus