in

Gesonde boerdery vereis gesonde grond (5)

Reën maak nie alles reg nie!

Artikel en foto’s deur Chris Wagner

Wie ook al in ons geliefde land wil boer en aanhou boer, moet bereid wees om hom of haar klaar te maak vir periodieke droogtes en die gevolge daarvan.

Die veeboer moet daarom saam met sy plaas as ‘n funksionele eenheid droogte kan hanteer. As die boer naby genoeg aan sy grond leef, soos dit hoort, sal hy die onvermydelike voorkoms van droogtes en die effek daarvan verstaan en jaar in en jaar uit daarvolgens beplan.

Gesonde, goed bestuurde grond sal dan reeds in goeie jare reserwe- en veerkrag opgebou het vir die maer jare. Dit kan egter slegs gebeur indien die boer hom oor jare doelbewus daarop toelê en met groot verantwoordelikheid en planmatig met sy weiding omgaan. As hy dit versuim, gaan reën nie alles regmaak nie.

Ons het in die vorige reeks van vier artikels: “Gesonde boerdery vereis gesonde grond(ProAgri: Okt – Des 2011 en Jan 2012- lees dit hieronder)*, gesien dat die gehalte van die grond bepaal word deur en gemeet word aan die organies-chemiese status daarvan en die gepaardgaande mikrogrondlewe. Hierdie faktore is op hulle beurt ‘n uitkoms van oordeelkundige weidingsbestuur. Die anorganies-chemiese status van die grond is daarenteen feitlik uitsluitlik vooraf bepaal deur die geologiese oorsprong daarvan en daaroor het die boer weinig beheer.

Lewenskragtige en voedsame weiding kan slegs gedy op gesonde grond wat op sy beurt die resultaat is van goeie bestuur. Gesonde grond met ‘n hoë koolstofinhoud in die vorm van oorvloedige lewende plantwortels en dooie plantwortels en -reste maak die beste gebruik van beskikbare water. Grondmikrobe-aktiwiteit floreer in sulke grond en verseker ook dat die grond krummelrig en optimaal deurlug is en dat grondwater gevolglik makliker daarin opgeneem en geberg word. Dit, tesame met gepaardgaande goeie bedekking, voorkom verder ook afloop en erosie.

Gesonde en daarom vrugbare grond is onmiddellik ná ‘n droogte in staat om met die eerste goeie reën al die water optimaal te benut en veerkragtig te reageer deur die reeds opgeboude en beskikbare plantvoedingstowwe in oormaat vir nuwe groei beskikbaar te stel. Só was dit in die oertyd voordat die mens begin inmeng het.

Almal was baie dankbaar toe die droogte hier in die noorde gebreek is. Dit verskaf ook groot tevredenheid dat die riglyne oor weidingsbestuur in die eerste vier artikels oor “Gesonde boerdery vereis gesonde grond” van vyf jaar gelede nou op dramatiese wyse ná hierdie onvoorsiene droogte die verwagte uitkoms gelewer en die sin daarvan bevestig het.

Verarmde grond daarteenoor, waar koolstofgebaseerde voedingstowwe oorontgin of selfs uitgeput is, stel altyd teleur omdat dit ‘n swak voghuishouding onderhou en min voedingselemente het om te gee sodat die hergroei en herstel van weiding daarop gevolglik traag is.

Bestuur om altyd gereed te wees vir droogte

Wanneer die boer deurlopend sy plig teenoor die grond gedoen het, sal die grond op sy beurt baie gou voorspelbaar positief reageer nadat dit weer goed gereën het ná ‘n droogte – veerkragtige weiding is immer die beloning vir ingeligte en toegewyde bestuur.

Ongetwyfeld positiewe uitkomste van doelgerigte weidingsbestuur het die afgelope droë tydperk weer duidelik gewys op die 600 ha, verdeel in 22 kampe wat om die beurt bewei is, van die plaas Hoogland in die bergbosveld van die Waterberg. Die veelading was 100 grootvee-eenhede wat ingesluit het 10% aangepaste wildspesies oor ‘n wye spektrum – Dit wil sê 1 GVE per 6 ha. Ten spyte daarvan dat die grond relatief vlak is, synde die resultaat van neersetting van klei-en-sand wat versteen het en toe met verloop van geologiese tyd verbrokkel en verweer het, is uitsluitlik ‘n minerale lek, bestaande uit kalsium en fosfaat saam met ureum en sonder enige plantproteïene beskikbaar gestel.

FG Wilson
Foto A: Ná die derde jaar van afnemende reënval was die toneel in foto A die skynbaar “troostelose situasie” op Sondag, 25 September 2016 om 10:32.

Nodeloos om te sê, toe lyk die hele plaas grootliks soos op Foto A en niemand weet hoeveel en wanneer dit weer gaan reën nie. Die foto is geneem in die laatwinter van die derde opeenvolgende droë seisoen. Dit was ‘n maand ná ‘n een-week-rondte van strawwe hoëdrukbeweiding met ‘n minerale lek as enigste voedingsaanvulling. Dit was nadat hierdie kamp van 42 ha drie maande lank in die groeiseisoen gerus het ná afloop van die vorige weirondte. Die wild is nie ingekamp nie en beweeg deur die jaar na willekeur oor die hele plaas.

gesonde grond
Foto B toon dieselfde kamp op 6 Desember 2016, twee maande en tien dae nadat daar geen gras meer oor was nie (sien foto A) en slegs een maand en 13 dae nadat die eerste reën op 22 Oktober 2016 geval het.

Daar is net een gevolgtrekking moontlik ná hierdie opsienbarende verloop. Alleen grond in ‘n optimum bewaringstatus kon só reageer. En dit binne ses weke!

Siklus van toenemend droë jare

Die aanloop, verloop en afloop sedert 2014.

JAAR 1: Die najaar en minder reën van 2014 het reeds begin wys dat dinge nie reg is nie want die produksie en gevolglike benutting van weiding was ondernormaal. Die normale weidingsiklusse is ook in 2014, soos oor dekades, toegepas met strawwe hoëdruk-beweiding vir maksimum tien dae, opgevolg met lang rusperiodes in die groeiseisoen. Die laaste weirondte was in die winter nadat die gras opgehou groei het en dus benut is as staande hooi.

2014 was, min het ons geweet, reeds die eerste van drie droë jare wat eers in Oktober 2016 sou eindig.

gesonde grond
Foto C is op 23 September 2014 geneem, ook ná kort hoëdruk-winterbeweiding.

JAAR 2: Op 4 Oktober 2015 lyk dieselfde kamp toe soos op foto D.

Soos in vorige jare is dieselfde geykte weidingsprogram gevolg met die laaste weirondte in die laatwinter. Wat die foto’s nie kan wys nie, is dat die grondmikrobes gedurende die groeiseisoene deur mis en vertrapte plantreste bemes is tydens die weiproses en hoe hulle tussen weisiklusse daarop gevoed het. Op daardie stadium lê daar, min wis ons toe, nog ‘n hele en selfs erger jaar van droogte voor.

gesonde grond
Foto D

JAAR 3. En toe breek 2016 aan. Weer minder reën en gevolglik minder totale vegetatiewe groei. Dieselfde weidingsprogram is gevolg met ‘n laaste weirondte in die laatwinter wat dieselfde kamp op foto D op 25 September 2016 soos op foto E gelaat het. Kaalgevreet! Let wel, die laaste staande hooi is in daardie weirondte alles opgevreet, maar nog nooit was die kamp deur aanhoudende beweiding voorheen in die groeityd doodgewei nie. Nooit is die veld se groeikrag deur herhalende selektiewe beweiding ooreis of deur ononderbroke beweiding vernietig nie.

gesonde grond
Foto E

Sleutel tot sukses op veldweiding

Die sleutel tot hierdie suksesverhaal bevat twee elemente, naamlik die groot getal diere relatief tot die kampgrootte en die streng beperkte tye waartydens elke kamp aan beweiding deur hulle blootgestel is.

Wanneer ‘n groot getal diere vir ‘n kort tydperk, kort genoeg sodat daar nog nie weer hergroei van die afgevrete plante kon plaasvind nie, bykans voor die voet vreet, word alles wat nie gevreet word nie vertrap. Daar is eenvoudig ook nie tyd vir selektief vreet nie – die kompetisie is net te groot. Die gedeelte van grasproduksie wat gevreet is, keer na die grond terug as mis, dus biologiese afval en hoofsaaklik koolstofverbindings. Die gedeelte van die grasproduksie wat nie gevreet word nie, word gedurende die weiproses deur die groot getal diere vertrap en keer so ook na die grond terug. Albei hierdie verskillende grasreste is ná verwerking deur die grondbiologiese prosesse as koolstofgebaseerde voedingstowwe vir die opvolgende groeisiklus beskikbaar. Dit het tot gevolg dat die grond ook selfs in droër jare natuurlik bemes en opgebou word. Dit skep toenemend gesonde grond.

Verder moet onthou word dat in hierdie 40 jaar lange weidingsproef veldbrand met hand en tand beveg was en hierdie spesifieke kamp slegs een keer deur ‘n wegholbrand getref is. Koolstofelemente is sodoende op ‘n nipper na deurlopend hersirkuleer en is nie deur brand as nuttelose koolstofdioksied (CO2) die lug ingestuur nie.

Op 1 Januarie 2017 lyk dit soos op foto F, en toe het die gras nog nie eens klaar gegroei nie.

gesonde grond
Foto F
gesonde grond
Foto G

Dankie Oubaas!

Foto G, geneem op Dinsdag, 3 Januarie 2017, wys dieselfde kamp as in foto F. Steeds groei die gras welig. Bewaringsboerdery is volhoubare boerdery. Behandel die grond met respek en dit sorg vir jou.

gesonde grond
Foto H

Teenoorgestelde weidingsbenadering

Foto’s B, F, G, H en J toon die dramatiese herstelvermoë van ‘n kamp op ‘n plaas waar die veld dekades lank nougeset oordeelkundig bestuur is deur die toepassing van lang tydperke van rus en groei en dan strawwe beweiding daarna vir nie langer as tien dae op ‘n keer nie, waarna die vee dan verwyder word voordat enige hergroei weer bytbaar is.

In die volgende totaal anderse geval is in ‘n “kontrolekamp” ‘n diverse verskeidenheid van aangepaste wild in ‘n eenkampstelsel versorg. Die geologiese oorsprong en anorganiese voedingstatus van die grond was presies dieselfde as in die aanliggende veelkampstelsel met slegs ‘n wildheining wat die twee stelsels van mekaar geskei het.

Namate die hoeveelheid en gehalte van die weiding afgeneem het, is geen moeite of koste ontsien om al die diere in hierdie eenkampstelsel in topkondisie te hou nie. Wildsblokke en -pille en lusernbale, noem maar op, dit was beskikbaar. Die veldweiding wat as “ruvoer” moes dien, is egter gaandeweg en veral namate die reënval afgeneem het, stelselmatig oorontgin tot daar niks meer daarvan oor was nie.

Die kamp is van seisoen tot seisoen doodgewei sonder enige rusgeleentheid vir die gras om te hergroei. Aanvanklik het die diere die smaaklikste grasspesies uitgesoek en geëet. Sodra dit weer uitloop, is elke sprietjie wat sy kop uitsteek ook gulsig gestroop. Daarna ook so die minder smaaklikes. Selfs die gehardste gras verloor dan die vermoë of lus om te hergroei, of sterf af en verdwyn totaal.

Die groot vraag wat nog beantwoord moet word, is of, gegewe die selektiewe eetgewoontes en plantvoorkeure van weidiere, ‘n eenkampstelsel waarop vee of wild aangehou word, ooit kan ontsnap aan ekologiese agteruitgang en uiteindelike weidingsvernietiging solank die diere daar byvoeding ontvang. Indien byvoeding nie gegee word nie sal die diere natuurlik vrek voordat die ekologiese diversiteit totaal vernietig is.

Enige plaasbeplanning wat geykte drakragsyfers probeer inreken moet die biologiese prosesse en voorkeure van weidiere en die fisiologiese prosesse van weiding nie buite rekening laat nie. Die vraag moet deurentyd gevra en beantwoord word van wat en hoeveel nog langer of hoegenaamd ekonomies of ekologies volhoubaar of sinvol is.

Foto I toon hoedat hierdie eenkampstelsel glad nie herstel het ná goeie reën nie, oortrek is met onkruid en daar geen teken van enige gras te bespeur is nie.

Dis ongelukkig maar menslik dat die “droogte” die skuld gegee sal word. Dis egter duidelik dat so ‘n oorwerkte stuk aarde se “weiding” geen baat vind by reën na droogte nie – selfs nie vir jare daarna nie. Hoe lank dit gaan neem om deur die natuurlike proses van suksessie vanaf pioniergewasse en -grasse weer te vorder tot gebalanseerde grasdiversiteit, kan nie voorsien word nie. Om te dink die ekologiese en ekonomiese gevolge van roofbou op weiding kan maklik omgekeer word, is irrasioneel. Min boerderye oorleef dit.

Nou ontstaan die vraag: Wat is die lot van elke duim aarde waarop wild of vee onoordeelkundig ingekamp word en voeding dan kunsmatig aangevul word?

Mag dit slegs omrede die wild wat aangehou en vertroetel word, ten regte langer nog natuurbewaring genoem word, of is dit natuurverminking? Fauna ten koste van Flora?

gesonde grond
Foto I

Nee a, só mag veld nooit lyk nie! spreek duidelik uit foto I terwyl foto J baie duidelik sê: Ja, só moet dit mos lyk! Albei foto’s is op 6 Desember 2017 geneem, slegs ses weke nadat dit op 22 Otober 2016 begin reën het.

Die twee kampe op die foto’s lê langs mekaar met net ‘n wildheining tussenin. Hulle deel dieselfde ekologiese potensiaal en geologie maar word net verskillend bestuur. Die een is ekologies en ekonomies volhoubaar en die ander nie. Foto J toon die welige gras in die veelkampstelsel, waar ‘n vaste bestuurstelsel gevolg word wat oor dekades streng toegepas is met lang rustydperke waarin die gras kan hergroei, en dan opgevolg word met hoëdrukbeweiding vir nie langer nie as agt tot tien dae nie. Alle veldbrande word by ontstaan met mag en mening beveg.

gesonde grond
Foto J

Ekonomiese sowel as ekologiese oorwegings, asook menslike proteïenbehoeftes, sal ongetwyfeld boerderypatrone in Waterberg se kommersiële weidingsgebiede beïnvloed en toekomstig bepaal. Die swaartepunt het ongeveer drie dekades gelede van beesboerdery in wetenskaplik beplande en bestuurde veelkampstelsels na wildboerdery in enkelkampstelsels begin swaai. Aan die hand van groter erns met, en klem op, ekologiese volhoubaarheid sowel as ‘n toenemende aanvraag na rooivleis, voorsien ons dat in die toekoms grootliks na veeboerdery terugbeweeg sal word.

Elke boer het dus die dure plig om die ekologie so goed as wat hy kan te beskerm en op te bou sodat dit enige toekomstige gebruiksverandering optimaal kan dra.

Dit is slegs volhoubare boerdery wat lewe kan verseker. Net dit is bewaringsboerdery.

Dit is ook die enigste verantwoordelike boerdery!

Dan word die reën en die seën waardeer as oorvloedige genadegawes.

* Afskrifte van die vorige artikels kan verkry word by chriswagner@lantic.net

  • Kliek hieronder om die vorige artikels aanlyn te lees op ons webwerf:

Gesonde-boerdery-vereis-gesonde-grond-(a)

Gesonde-boerdery-vereis-gesonde-grond-(b)

Gesonde boerdery vereis gesonde grond (c)

Gesonde boerdery vereis gesonde grond (d)

What do you think?

1 point
Upvote Downvote

Total votes: 1

Upvotes: 1

Upvotes percentage: 100.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

FG Wilson

FG Wilson: Boer met krag

vroueboer Zoey

Vroueboer se hande staan vir niks verkeerd nie