in ,

Ford Ranger XL Sport 2.2TDCi Dubbelkajuit 4×4 outo

This post is also available in: Afrikaans

Deur Dirk Gallowitz

Met bakkie pryse, veral die luukser dubbelkajuitmodelle wat die hoogte inskiet, begin meeste vervaardigers die lig sien om goedkoper alternatiewe in die mark vry te laat ten einde verkope te stimuleer. Dink maar aan Isuzu se gewilde X-Rider modelle.

Terwyl Ford bakkie liefhebbers almal droom van ‘n Raptor of Wildtrak dubbelkajuit viertrek, is die finanisiële realiteit dat pryse vir hierdie nuwe spogbakkies buite meeste kopers se vermoë val.

Ford SA het dan ook onlangs ‘n Sport-pakket vir sy goedkoper Ranger XL-modelreeks werkbakkies plaaslik bekendgestel ten einde hierdie goedkoper modelle se verkope onder leefstylkopers te probeer aanjaag.

Voorkoms en stilering

Die Ranger XL se voorkoms is buitelangs opgekikker deur dit toe te rus met ‘n Sport pakket  wat glans-swart sierrooster, swart pyprolstaaf, swart agterste buffer en swart 17” ‘Panther’ ontwerpte allooiwiele met fris veldrybande insluit. Daar is ook ‘n sleepstang ingesluit en die agterklap vertoon ‘n swart “Sport” kenteken. Kopers kan vir R5050 ook swart kanttrappe kry soos met ons toetsmodel.

Die resultaat is ‘n aangename verrassing met die bakkie wat nou sportief en agressief vertoon.

Kajuit en toerusting

Binnekant is die Ranger XL Sport tipies Ranger, maar sonder meeste van die luukshede wat byvoorbeeld in die Wildtrak aangetref word. Dit is egter ‘n werkesel dubbelkajuit en al die broodnodige en belangrike magêftertjies is wel daar.

Wat egter pla is die oormatige harde plastiek oppervlaktes in die kajuit. Terwyl dit verstaanbaar is gegewe die prys, kon Ford dit tog probeer verbloem het vir ‘n minder spartaanse ambiaans. Sitplekke is met ‘n goeie material beklee en sit heel gerieflik.

Die lugversorger werk goed, weliswaar nie elektronies nie, maar dit is minder belangrik in ‘n werkesel. Die stuur kom ook net met hoogteverstelling.

Wat egter broodnodig is en ontbreek is parkeergonsers vir die agterkant. Die bak is hoog en belemmer nogal sig wanneer dit in knap spasie geparkeer moet word. Dit is gelukkig beskikbaar teen ‘n ekstra koste.

Die XL Sport bied elektriese vensters voor en agter, afstandbeheer vir oop- en toesluit asook dagryliggies. Die Aux laaisok en twee USB koppelpunte kom handig te pas.

Ons toetsvoertuig het die R6000 opsionele ekstra 8” infotainmentstelsel gehad wat met die uitstekende Ford SYNC3 stelsel kommunikasie, klank en navigasie beskikbaar maak met behulp van Apple CarPlay en Android Auto skakeling.

Verrigting en paddinamika

Aandrywing in die Ranger XL Sport kom danksy Ford se bekende en beproefde 2.2 viersilinder turbodieselenjin wat al effe lank in die tand raak. Die enjin lewer 118kW en 385Nm se piekkragte wat krag na al 4 die wiele stuur deur middel van ‘n 6-gang outokas wat welbekend is uit die ouer generasie Rangers. ‘n Handratkas is ook beskikbaar.

Die enjin lewer genoeg krag vir alledaagse gebruik en loop heel gemaklik op die ooppad. Moet egter nie die tipe verrigting verwag wat die nuwe generasie 2.0 liter bi-turbo enjin en 10-spoed ratkas bied nie.

Ons kon die XL Sport ook in die veld gaan beproef. Die 6-gang outomaties met behulp van HDC (Hill descent control), 4-trek in hoë of lae strek en ewenaarslot het die XL Sport gemaklik in die veld deur en oor uitdagende terrein laat beweeg. Ook in die dik los sand het die XL Sport beïndruk. Ek kon selfs ‘n groot vrag perdevoer laai met die XL Sport wat die meer as 3 ton gewig moeiteloos gesleep het oor die tweespoor sandpaaie van die Sandveld.

Ons gemiddelde brandstof gebruik was rondom 10,5l/100km gemeet oor ons totale toetsafstand van ongeveer 1500km.

Op die teer en selfs teen 110kpu op die grondpad het die XL Sport bogemiddeld hanteer en het ons nooit ervaar dat die bakkie onstabiel met onnodige bakrol was nie. Weliswaar was die wiele vir die grondpad afgeblaas tot met 1.2b agter en 1.8b voor terwyl die breë veldry rubberse goeie greep ook ‘n bydrae gelewer het. 

Opsomming

Ons moet Ford gelukwens met die XL Sport. Die werkesel het ‘n netjiese aandpak aangetrek en die resultaat is ‘n oulike, eerlike, gewillige en netjiese bakkie wat kopers goeie waarde vir geld bied en met die vooruitsig van goeie inruilwaarde later.

Kernsyfers

Model                            Ford Ranger 2.2TDCi dubbelkajuit 4×4 XL Sport outomaties
Enjin2.2-litre turbodiesel 4-cylinder
Krag/Wringkrag118 kW/385 Nm 
Ratkas                          6-speed outomaties
Brandstofverbruik       8.2 L/100 km (amptelik) 
Prys soos getoets        R559,500

Die Ford Ranger se verkoopprys sluit in ‘n 4-jaar/120 000 km waarborg, 6-jaar/90 000 km diensplan,  5-jaar/onbeperkte km roeswaarborg asook ‘n 3-jaar/onbeperkte km padbystanddiens.

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Plaasbestuurder.co.za help landbou werksoekers om loopbane te bou

Valley se ICON®-reeks laat elke druppel tel