in

Dreigende brandstofkrisis lankal te wagte

brandstof

Deur Fanie Brink, Onafhanklike Landbou-ekonoom

“Die nuutste bevinding oor die dreigende krisis waarop die brandstofbedryf in Suid-Afrika afstuur was baie lankal te wagte. Die oliemaatskappye wil reeds vir jare nie hulle eie kapitaal aanwend om hulle verouderde raffinaderye op te gradeer nie en verwag dat die regering die koste vir die opgradering na die brandstofverbruiker moet afwentel,” sê Fanie Brink, ‘n onafhanklike landbou-ekonoom.

Hy het gereageer op die verslag van ‘n studie oor die invloed van die petroleumbedryf op die land se ekonomie wat in opdrag van die Suid-Afrikaanse Brandstofbedryfsassosiasie (Sapia) deur KPMG onderneem is en op 16 November in Sandton bekend gemaak is.

Suid-Afrika het oor die jare baie agter geraak in terme van internasionale aanvaarbare standaarde oor die kwaliteit van brandstof en volgens die verslag sal dit sowat R53-miljard kos om al die plaaslike raffinaderye op te gradeer om aan die skoner brandstofstandaarde te voldoen. Die vorige tegnologiese aanpassing vir die verpligte uitfasering en verlaging van die lood- en swaelinhoud van brandstowwe het die verbruiker miljarde rand uit die sak gejaag.

Volgens die KPMG-verslag “sloer die opgradering van die land se raffinaderye om skoner brandstof te kan vervaardig al lank omdat dit te duur is en omdat daar tans ’n ooraanbod van raffineringsvermoë wêreldwyd is.”

Brink sê die verbruiker moet vir feitlik al die brandstofbedryf se koste om ru-olie in te voer en te raffineer betaal, terwyl die bedryf se winsmarges deur middel van die regering se vasgestelde formule gewaarborg word. Die koste sluit benewens die vry-aan-boord pryse in die uitvoerhawens ook nog onder meer vervoerkoste, versekering, fisiese verliese, aflaai- en stoorkoste in die plaaslike hawens en finansieringskoste van voorrade in.

Die gereguleerde marges wat deur motoriste aan oliemaatskappye betaal word om brandstof van die raffinaderye na vulstasies te versprei het oor die afgelope 16 jaar ook vinniger as die inflasiekoers toegeneem.

Die land moet alreeds tot soveel as 25% van sy petrol en diesel invoer ten spyte van vrygewige regulasies wat spesifiek bedoel is om beleggings in olieraffinaderye te verseker. Die oliebedryf het in werklikheid ‘n dooiepunt met die regering bereik oor beleggings wat nodig is om skoner brandstof te vervaardig. Die bedryf weier om self kapitaal te belê en verwag van die regering om motoriste te verplig om die kapitaal te voorsien by wyse van ‘n groter belastingheffing op brandstof, en die ergste van alles is, dan wil die oliemaatskappye, soos in die verlede, weer die opbrengs op hierdie kapitaal hê.

“Die vraag sal gevolglik een of ander tyd gevra moet word oor wie besit nou eintlik die raffinaderye as dit langer so aanhou!”

Die uitfasering van die plaaslike raffineringskapasiteit wat nie aan die standaarde kan voldoen nie en die groter invoere van brandstof hoef die verbruiker nie veel meer te kos nie. Die plaaslike oliemaatskappye word in elk geval vir die petroleumprodukte wat plaaslike vervaardig word vergoed op grond van die pryse van dieselfde produkte wat by sommige groot internasionale raffinaderye aan die kus van die Middellandse See, Singapore en die Arabiese golf vervaardig word.

Die verslag kom gevolglik tot die gevolgtrekking dat dit finansieel meer sin sal maak om petrol en diesel in te voer wat “algemeen verwelkom en ondersteun moet word omdat dit nie toegelaat mag word dat die kapitaal en koste vir die opgradering weer van die verbruiker verhaal word nie.”

“Die land wil ook nie met ‘n tweede Petro SA sit nie en dan kan die onwettige spekulering met die plaaslike oliereserwes deur die Sentrale Energiefonds ook nek omgedraai word,” aldus Fanie.

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Vrystaat Landbou

Veediewe brand los op boere en die Polisie

gariepdam

Damvlakke hierdie week