in ,

Die winsgewendheid van ‘n akwaponiese stelsel

Is ‘n akwaponikastelsel ‘n ekonomies winsgewende, uitvoerbare en lewensvatbare opsie vir ‘n bykomende bedryfstak in my boerdery?

Die winsgewendheid en uitvoerbaarheid van ‘n beoogde projek is nienoodwendig dieselfde nie: Die ekonomiese winsgewendheidsontleding dui aan of die beoogde belegging gemiddeld oor die langtermyn winsgewend gaan wees of nie. Daarteenoor dui finansiële uitvoerbaarheidsontledings daarop of die kontantvloei voldoende sal wees om
kontantbestedings, sowel as verpligte kapitaaldelgings en rentebetalings op geleende fondse te kan nakom. Dit mag dus wees dat ‘n beoogde projek oor die langtermyn winsgewend lyk, maar dit kan oor die korttermyn soveel kontant absorbeer dat die projek faal. Die vlak van geleende kapitaal is dus vir sowel die kredietgewer as die kredietnemer van groot belang in die bepaling van finansiële uitvoerbaarheid. Besluitneming in die landbou word ongelukkig dikwels gegrond op onvolledige kennis oor die spesifieke uitkoms van daardie besluit. Twee soorte onvolledige kennis kan onderskei word, naamlik risiko en onsekerheid. Sekerheid kan beskryf word as ‘n toestand met ‘n bekende, verwagte uitkoms. Onsekerheid is ‘n toestand waarin die gemiddelde uitkoms bekend mag wees, maar die variasie in indiwiduele uitkoms is onbekend. In die geval van risiko is die gemiddelde uitkoms bekend, en indiwiduele uitkoms wissel volgens subjektief of objektief bepaalbare bekende afwykings.

Die UVI Akwaponikastelsel:
Die ekonomie van akwaponikastelsels is afhanklik van spesifieke terreintoestande en markte. Dit sal foutief wees
om hier algemene aannames te maak omrede die ontwerp, konstruksiemateriaal se koste, die bedryfskoste en die
markprys van plek tot plek verskil. So sal die konstruksie en bedryfskoste van ‘n opelugstelsel in ‘n tropiese omgewing byvoorbeeld heelwat laer wees as dié van ‘n temperatuurbeheerde glashuis in ‘n marginale
klimaatsomgewing. Ongeag hierdie werklikheid, lyk die ekonomiese potensiaal van akwaponikastelsels baie belowend gegrond op studies wat die Universiteit van die Maagde-eilande gedoen het in die VSA Maagde-eilande (tussen die Karibiese See en die Atlantiese Oseaan) en ook in Alberta, Kanada met hulle eie ontwerpte UVI-akwaponikastelsel. Hierdie UVI-stelsel het volgens die studies die produksiekapasiteit van 5 ton tilapia, en 1 400 houers blaarslaai of 5 ton basiliekruid jaarliks. Ondernemingsbegrotings is vir die tilapiaproduksie, gekombineer met òf die blaarslaai òf die basiliekruid opgetrek. Baie goeie pryse is egter daar behaal omrede hierdie eilande ‘n nismark is waar 95% van alle groente en 80% van die vis ingevoer word. Dit is uit die navorsing duidelik dat daar minstens ses van die UVI- stelsels opgerig behoort te word om ‘n ekonomie van skaal te bereik en om deurlopende produksie te kan lewer soos die mark vereis. Die opbrengs uit kruie is gewoonlik twintig keer groter as die opbrengs uit groente soos tamaties. Daar word op grond van die resultate van die navorsing wat by Alberta in Kanada gedoen is beweer dat ‘n enkele persoon ‘n lewensbestaan uit ‘n enkele UVI-stelsel kan maak. Die ekonomie verskil van land tot land en daarom sal die gelykbreekpunt ook telkens op ‘n ander produksievlak wees.

New Picture (9) New Picture (10) New Picture (11)

Keuse van plantvariëteite en visspesies
“Die mark is alles” mag dalk ‘n cliché wees, maar dit is ‘n feit. Ken jou mark en doen vooraf voldoende marknavorsing. Gaan gesels met jou potensiële kliënte en vind uit wat hulle spesifieke behoeftes is. Vind uit wat
die plantvariëteite is wat hulle benodig en watter hoeveelheid hulle wanneer in die jaar wil hê. Indien moontlik, stel bemarkingskontrakte op met jou kliënte. Dit is ook raadsaam om ‘n verskeidenheid produkte aan te bied in stede van net ‘n enkele produk. Navorsing bewys dat kruie ’n hoër prys behaal as groentegewasse. Kruie wat goed verkoop, is basiliekruid, dille, kruisement, pietersielie, slaai-eruca (rocket), sitroengras (lemon grass) en
koljander (danya). Groente wat goed vaar in akwaponika en waarvoor daar ’n goeie mark bestaan, is komkommers en die verskillende variëteite blaarslaai. Wat vrugte aanbetref, is aarbeie en die verskillende bessiesoorte altyd ‘n
goeie keuse. Uitendelik hang alles af van jou klimaat, ligging en die markbehoefte in jou onmiddellike omgewing. Wat die visspesie aanbetref, kan daar goeie pryse behaal word vir vars tilapia in ‘n nismark. Alternatiewelik kan met ornamentelevisspesies gewerk word, soos goudvis of koi-karp. Dit is ook baie
belangrik om te onthou dat die plante die primêre produk is en die vis net sekondêr is. Jy maak dus jou geld met
die plante en die inkomste van die vis kan as ‘n bonus beskou word.

New Picture (12) New Picture (13) New Picture (14)

Bestuursverwante aspekte
Behoorlike bestuur moet altyd risiko en onsekerheid in gedagte hou. ‘n Balans moet altyd bestaan tussen sekerheid en aanvaarding van risiko. Enige buitensporige optrede is ongewens. Die fokus is op die maksimering van geleenthede, nie die minimalisering van risiko’s nie. Die belangrikste is om te bepaal watter geleenthede en
risiko’s by ‘n onderneming gepas is en watter nie. Hierin lê een van die groot uitdagings van bestuur en ondernemingskap.

Hoe bestuur ek die risiko’s by ‘n akwaponikaprojek?
Om in staat te wees om jou hoë aanvanklike kapitaalkoste en die bedryfskoste te verhaal, en ook nog ‘n wins
te maak, is dit uiters belangrik dat die visproduksie en die hidroponikakomponente te alle tye op maksimum
produksiekapasiteit funksioneer. Die maksimum biomassa van die vis in die stelsel, sonder om die groei te belemmer, staan bekend as die kritiese staande opbrengs. Om so na as moontlik aan hierdie vlak te werk, gebruik jy ruimte doeltreffend, maksimeer produksie en verminder die variasie in die daaglikse voerinsethoeveelheid by die stelsel. Hierdie is ‘n belangrike faktor om weer die grootte van die hidroponikakomponent te bereken. Om konstant
plante
te kan voorsien aan die mark, kan jou plantproduksie byvoorbeeld trapsgewys in fases gestruktureer word.

Gevolgtrekking
Akkurate syfers oor die bedryfskoste van ons eie akwaponikastelsel by die Universiteit op Stellenbosch in die plaaslike ekonomie behoort binnekort beskikbaar te wees. Met die rondspeel met syfers en die optrek van ‘n sakeplan wil dit voorkom of die gelykbreekpunt van ‘n soortgelyke akwaponikastelsel op ‘n kommersiële basis in die orde van 600 kg tilapia per maand kan wees. Hierdie skatting geld vir ‘n meer duursame infrastruktuurontwerp. Soos reeds genoem, is hier natuurlik baie veranderlikes wat in ag geneem behoort te word. Ek glo vas dat Akwaponikastelsels wel winsgewend kan wees as dit reg bestuur word en glo dit gaan in die toekoms al hoe meer gesien word.

New Picture (16)

Vir meer inligting, kontak Henk Stander by e-pos: hbs@sun.ac.za.
Hierdie artikel het oorspronklik in die Agri Kultuur-tydskrif verskyn.

What do you think?

1 point
Upvote Downvote

Total votes: 1

Upvotes: 1

Upvotes percentage: 100.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Spilpuntbeheer word afstandbeheer

Dom Boer se lag vir die dag: