in

Die voorlopige skatting van mielies is 2,15% minder as verlede seisoen

This post is also available in: Afrikaans

Die voorlopige oppervlakteskatting van vandag is hoofsaaklik gebaseer op die resultate van ’n nie-ewekansige opname onderneem deur die Direktoraat: Statistiek en Ekonomiese Analise van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye. Minder gunstige reënvalneerslae en warm temperature in die westelike produserende gebiede die afgelope paar weke het produsente verhinder om hulle beoogde oppervlakte met somergewasse aan te plant, veral in die Vrystaat en Noordwes-provinsies.

Die hersiene aangeplante oppervlakte en produksiesyfers sal deur die Oesskattingskomitee op 27 Februarie 2019 vrygestel word en sal hoofsaaklik, gebaseer wees op inligting verkry vanaf die “PICES”-opname vir die Vrystaat, KwaZulu-Natal, Mpumalanga, Limpopo, Gauteng en Noordwes provinsies.

Kommersiële mielies: Die voorlopige skatting van die oppervlakte onder mielies beloop 2,269 miljoen ha, wat 2,15% of 49 950 ha minder is as die 2,319 miljoen ha wat verlede seisoen aangeplant is, en ook 7,33% of 179 500 ha minder as die voornemens om te plant syfer van 2,448 miljoen ha soos vrygestel in Oktober 2018.

Die voorlopige oppervlak onder witmielies is 1,257 miljoen ha, wat ’n afname van 0,88% of 11 100 ha verteenwoordig vergeleke met die 1,268 miljoen ha die vorige seisoen. In die geval van geelmielies is die oppervlakteskatting 1,012 miljoen ha, wat 3,70% of 38 850 ha minder is as die 1,051 miljoen ha geplant die vorige seisoen.

Ander somergewasse:

Let asb. daarop dat net die nasionale aangeplante area vir die voorlopige oppervlakte van die grondbone, sorghum en droëbone vir die huidige produksieseisoen vandag vrygestel word.

Sonneblomsaad: Die voorlopige oppervlakteskatting vir sonneblomsaad is 444 000 ha, wat 26,18% of 157 500 ha minder is as die 601 500 ha aangeplant die vorige seisoen.

Die geskatte oppervlakte beplant met sojabone is 743 600 ha, wat ’n afname van 5,54% of 43 600 ha verteenwoordig vergeleke met die 787 200 ha geplant die vorige seisoen. Vir grondbone is die oppervlakteskatting 19 200 ha, wat 65,90% of 37 100 ha minder is as die 56 300 ha geplant vir die vorige seisoen.

Die oppervlakteskatting vir sorghum het toegeneem met 59,72%, van 28 800 ha tot 46 000 ha teenoor die vorige seisoen. Vir droëbone is die geskatte oppervlakte beplant 56 000 ha, wat 4,95% of 2 640 ha meer is as die 53 360 ha geplant vir die vorige seisoen.

Wintergewasse – 2018 produksieseisoen

Koring: Die verwagte kommersiële produksie vir koring is 1,799 miljoen ton, wat 1,74% of 31 800 ton minder is as die vorige skatting van 1,831 miljoen ton. Die verwagte opbrengs is 3,57 t/ha. Die oppervlakteskatting vir koring is 503 350 ha.

Ander gewasse: Die produksieskatting vir moutgars is 421 790 ton, wat 4,96% of 19 950 ton meer is as die vorige skatting van 401 840 ton. Die huidige skatting van 421 790 ton is die hoogste oes nog ooit geproduseer in die RSA. Die oppervlakte beplant is beraam op 119 000 ha, terwyl die verwagte opbrengs 3,54 t/ha beloop.

Die verwagte kanola-oes is onveranderd gelaat op 103 950 ton. Die oppervlakteskatting vir kanola is 77 000 ha, met ʼn verwagte opbrengs van 1,35 t/ha.

Die hersiene oppervlakte- en eerste produksieskatting vir somergewasse vir 2019 en die finale produksieskatting vir wintergewasse vir 2018 sal op 27 Februarie 2019 vrygestel word.

Bron: Oesskattingskomitee

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Plantation farmers depend on Bonnox

Firestone’s new agricultural tyre warranty goes the whole nine yards