Hier ploeg ek met moeder Martie se kalwers. Die frikkadelle is lig en los van tekstuur sonder dat dit uitmekaarval. Dis souserig genoeg dat jy nie afsonderlik daarby hoef sous te maak nie. As bykos sit ek altyd rys voor wat saam met die lekker sous geniet kan word.
In die somer eet ons net slaaie saam met die frikkadelle en rys, maar op ‘n koue wintersdag sal ek die slaaie vervang deur soet wortels of pampoen en ‘n groen groente soos ertjies of groenboontjies.
Tamatiefrikkadelle – 14 groterige frikkadelle
1 middelgroot ui
1 middelgroot tamatie
1 kg gemaalde bees- of
koedoebinneboud
50 g (125 ml) hawermout
150 ml melk
25 ml bruinasyn
25 ml worcestersous
7 ml sout
2 ml gedroogde tiemie of basiliekruid
knippie witpeper
500 ml water
1 pakkie (85 g) tamatieroomsoppoeier
Verhit die oond tot 180 °C terwyl die frikkadelle gemaak word. Smeer ‘n vlak, oondvaste 3 liter-bak met ‘n deksel.
Skil die ui. Sny die ui en tamatie fyn op. Meng dit en die res van die bestanddele buiten die soppoeier en water lossies (moenie knie nie). Vorm frikkadelle, elk van sowat 100 ml van die mengsel, en plaas dit teenaan mekaar in die bak. Sit die deksel op en bak die frikkadelle ‘n halfuur lank.
Meng die water en soppoeier en giet dit oor die frikkadelle.
Bak die frikkadelle ‘n verdere 25–30 minute, maar nou sonder die deksel.