in

In die land of op die pad – veelsydige Valtra bly heel voor

By Rossgro moet ’n masjien sy pad oopwerk – daar is nie tyd vir rondsit en mooilyk nie. Die agt Valtra-trekkers op die Rossouw-familie se plaas by Delmas kan daarvan getuig. “Ons is altyd besig om iets te vervoer op die plaas of tussen die plaas en die voerfabriek. Dit is ’n permanente deel van ons daaglikse bedrywighede,” sê Joe du Plessis, boerderybestuurder. Op die oomblik is een van die hooftake van die ses Valtra T171-trekkers om die pas gestroopte mielies aan te ry na die silo by die voeraanleg.

Mielies word ook van naburige plase aangery en die rooi Valtra-trekkers met hulle dubbelbak-sykantelwaens (twin bin tippers) is ’n algemene gesig op die plaaspaaie rondom Delmas en Eloff. Die 131 kW-trekkers doen elk die werk van ’n vragmotor met al die bykomende voordele van trekker-wees.

Joe sê vir langafstandvervoer gebruik hulle steeds vragmotors, maar op en om die plaas kraai Valtra koning.

“Met die vierwiel-aandrywing is nat toestande geen probleem nie. Veral wanneer mis uitgery moet word, is dit baie makliker om ’n trekker in te span en hy ry ewe gerieflik in die kraal as op die pad, waar hy gemaklik 45 km per uur volhou.”

Die Valtra se skittereienskap wat van hom ’n ster in die aanrybedryf maak, is die feit dat hy, net soos ’n gevorderde vragmotor, ’n kompressor het wat sy lugdruk-remstelsel aandryf en lug voorsien vir lugdrukvering op die vooras. Hierdie lugvering is so te sê onderhoudvry en dit skakel die lastige kragwip (power hop) wat baie keer voorkom wanneer trekkers swaar vragte sleep, grootliks uit. Wanneer die Valtra by die silo intrek om mielies af te laai, klink dit nes ’n vragmotor se lugdrukremme.

Die groter Valtra-trekkers se kajuite dryf ook letterlik op lugdrukkussings vir die gerieflikste trekkerervaring ooit.

By Sesesonki Farming naby Harrismith vertel James Lesley dat sy trekkerbestuurders baie graag eerder in ’n Valtra wil klim as in enige ander trekker. Hy sê alles aan die trekker hanteer maklik en sag; tot die kragaftakker skop saggies in. Een van die voordele van die vooras se lugdrukvering is dat die trekker se voorwiele altyd stewig op die grond bly vir beter trekkrag en laer brandstofverbruik.

Sesesonki gebruik drie trekkers in die T-reeks, naamlik die T151 (119 kW), T171 (131 kW) en T213 (158 kW). James sê met die EcoPower-eienskap funksioneer die trekkers nog gemakliker en meer ekonomies. Met die druk van ’n knoppie word die enjin se omwentelinge beperk tot 1 800 en die wringkrag word verhoog. Dit beteken brandstofbesparing van tot 10% en natuurlik ’n langer enjinleeftyd.

James sê dit is veral die veelsydigheid van Valtra wat hom beïndruk. “Jy kan enige vragmotorbak agter hom haak om goed aan te ry,” sê hy.

Wanneer die graan en aartappels klaar uitgery en aangery is, word die volgende unieke Valtra-eienskap op Sesesonki ingespan, en dit is die vermoë om net so maklik agtertoe as vorentoe te werk. Dit staan bekend as TwinTrac.

“Vir bonestroop met ’n Pickett is daar nie iets beters nie,” vertel James.

Die Valtra se luggeveerde sitplek draai net om en daar is ’n volledige stel kontroles agter sodat die trekker se werkrigting omgeswaai word sonder die geringste verlies aan beheer. ’n Valtra-trekker se ratkas en laers is spesiaal ontwerp om krag in trurat te lewer vir aanhoudende werk.

Terug by Rossgro moet die grond bewerk word vir die volgende seisoen se aanplantings en daar is Valtra ook ’n groot aanwins om die meer as 3 000 hektaar plantgereed te kry met twee 250 kW-bielies in die S-reeks, naamlik S353.

Joe sê die krag wat die trekkers lewer in verhouding tot brandstofverbruik, is ongelooflik. Daar is nie ’n werktuig wat die S353 sukkel om te sleep nie en die armleuningkontroles maak beheer net so gerieflik soos die sagte rit.

Hy sê toe hy as plaasbestuurder aangestel is, het hy die vloot Valtra’s so bekyk en gewonder watter moeilikheid wag, maar hy is in elke opsig aangenaam verras.

“Ons oudste twee Valtra’s het elk meer as 9 000 uur se werk agter die blad en hulle werk nog elke dag sonder probleme.”

Hy sê die trekkers is robuust, verbasend bestand teen selfs hardhandige hantering en hulle geniet die voordele van Valtrac se legendariese dienslewering.

“Selfs al moet hulle van Parys af ry, het ek nog nooit langer as drie uur gewag vir ’n onderdeel nie en as hulle nie dadelik die trekker kan regmaak nie, bring hulle ’n ander een sodat die werk kan voortgaan,” spog Joe.

Boer slim met Valtrac aan jou sy. Skakel Attie de Villiers by 083-261-9863, 056-817-8006 of stuur n e-pos na attiedev@valtrac.co.za. Besoek ook www.valtrac.co.za vir meer inligting.

Die vermoë om lugdruk vir remkrag en vering te benut plaas Valtra in ’n ander klas.
Die vermoë om lugdruk vir remkrag en vering te benut plaas Valtra in ’n ander klas.
Op die land is die S353 besig om sy pad voor die skotteleg oop te lag. Joe bestel hulle Valtra’s in rooi, sodat hy hulle van ver af kan raaksien voor hulle verby blits.
Op die land is die S353 besig om sy pad voor die skotteleg oop te lag. Joe bestel hulle Valtra’s in rooi, sodat hy hulle van ver af kan raaksien voor hulle verby blits.
Joe du Plessis (regs) by Enoch Sapege wat van vragmotorry na veelsydige Valtra’s bevorder is.
Joe du Plessis (regs) by Enoch Sapege wat van vragmotorry na veelsydige Valtra’s bevorder is.

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Scania ry die lekkerste

Doen dit self: Boer bou beter planter