in ,

Die beginsels van weerstand teen plaagdoders: Troef jou vyand met kennis!

‘n Groot gevaar waarteen die landbouchemiese bedryf en die landbousektor moet waak, is die moontlikheid van insekte wat weerstand teen plaagdoders kan ontwikkel.

Die landbouchemiese bedryf poog voortdurend om met nuwe chemie na vore te kom om plaagbevolkings wat moontlik weerstand teen bestaande chemie mag opbou, teen te werk. Die landbousektor het sonder twyfel doeltreffende chemie nodig om voldoende opbrengste van die regte gehalte te lewer.

Die omskrywing: In elke plaagbevolking is daar sekere enkelinge wat fisiologies beter toegerus is om die werking van ’n besondere aktiewe bestanddeel te kan oorleef. Dit is juis hierdie enkelinge wat sal oorleef en voortplant en dieselfde fisiologiese eienskape aan hulle nageslag oordra.

Volgens hierdie omskrywing is dit duidelik dat die opbou van weerstand in insekte ’n natuurlike verskynsel is. Sekere enkelinge in ’n plaagbevolking is dus beter toegerus om uitdagende spanningsfaktore in die omgewing te hanteer. Dit kom alles neer op natuurlike seleksie, of in die geval van die landbousektor is die term, “kunsmatige seleksie”, dalk beter van pas.

Die probleem: So, wat is die probleem as weerstandbiedendheid per definisie ’n natuurlike verskynsel is?

Die probleem is die vinnige tempo waarteen landbouplae moontlik weerstand teen landboumiddels kan opbou. Die misbruik van landboumiddels kan hierdie seleksieproses versnel.

Landboumiddels word geregistreer en bemark met spesifieke menginstruksies en spuitvolumes. Die doel van hierdie meng- en toedieningsinstruksies is om maksimum doeltreffendheid te verseker en om die tempo waarteen moontlike weerstand in landbouplaagbevolkings opbou tot ’n minimum te beperk.

Sodoende bly die bestaande chemie langer doeltreffend.

Hoekom het verkeerde toediening van landboumiddels so ’n groot uitwerking op die tempo waarteen plaagbevolkings weerstand kan opbou?

Met oormatige toediening van ’n landboumiddel of herhaaldelike gebruik daarvan, word baie swaar kunsmatige druk op die bevolking geplaas. As gevolg van hierdie verhoogde druk sal die voorkoms van die “onfikse” enkelinge skerp afneem en dié van die “fikser” enkelinge sal oorheersend begin toeneem.

Die uiteindelike gevolg is dat die plaagbevolking kort voor lank hoofsaaklik uit die “fikser”, of weerstandige,
enkelinge sal bestaan.

Hierdie is ook die tipiese situasie wat tot ’n chemiese trapmeul lei, waar ’n boer meer en meer van die produk spuit of met korter tussenposes omdat die produk blyk om nie so doeltreffend te werk nie. Die gevolg is dat selfs nóg hoër druk op die plaagbevolking geplaas word en dus word die laaste “onfikse” enkelinge uitgewis. Hulle plek word
ingeneem deur die “fikser” enkelinge.

Die uiteindelike gevolg is dus dat die opvolgende geslagte oorheersend weerstandige enkelinge bevat en dus sal die hele bevolking blyk om fikser te wees en dus nie so maklik vrek tydens bespuitings met die betrokke produk nie.

Hoe vinniger die insekte aanteel, hoe makliker kan weerstand by hierdie insekte ontstaan. Plantluise, byvoorbeeld het meer as een geslag per seisoen, dus kan hulle vinniger weerstand teen ’n besondere middel opbou as ander insekte met ’n laer aanwastempo.

As landboumiddels foutief toegedien word, kan insekte met so ’n vinnige aanwastempo binne een of twee seisoene weerstand teen die betrokke middel opbou.

Vergelyk hierdie tempo met die tyd wat dit verg om ’n nuwe chemiese middel te ontwikkel (meer as 10 jaar) en dit blyk duidelik dat bestandheid ’n wesenlike probleem kan word.

Heelwat is gesê oor wat weerstandbiedendheid is en hoe dit ontwikkel, maar wat is die implikasies vir die boer en die verbruikers?

Uit die aard van die saak sal daar ’n toename wees in die insekskade op gewasse as gevolg van onbehoorlike  beheer. Die gevolg sal ’n afname in voedselbeskikbaarheid wees. Produksiekoste sal hoër wees en die boer se netto inkomste sal laer wees indien nuwe middels duurder is. Weens toenemende insekskade sal die boer nog groter geldelike skade ly indien sy produk nie uitgevoer mag word nie.

Verhoogde produksiekoste sal waarskynlik tot gevolg hê dat kommoditeitspryse aan die verbruiker ook toeneem.

Met oormatige bespuiting word die risiko van ’n besoedelde agro-ekosisteem vergroot, met die gevolg dat  voordelige insekte verlore gaan, wat plaagbeheer nog verder sal bemoeilik. 

Daarom is dit uiters belangrik dat boere moet seker maak dat die korrekte dosis van die produk op die regte tyd, en met die korrekte toerusting, op hulle gewasse gespuit word. Volg die instruksies op die etiket van die produk noukeurig.

Deur dit nie te doen nie, benadeel die boer homself ook.

Onder die insekte wat weerstandbiedend geword het teen sekere chemiese groepe, is sitrusrooidopluis sekerlik een van die belangrikstes.

Hierdie insek is ‘n ernstige plaag in die sitrusbedryf en sonder doeltreffende beheer daarvan kan ‘n boer se opbrengs daal, sy vrugte sal nie uitgevoer kan word nie en bome kan selfs terugsterf.

Organofosfate (chemie-groep 1B) is ‘n breëspektrum-insekdoder wat in die verlede gebruik is om rooidopluis en ander insekplae eenmalig te beheer. Boere het egter so gereeld staatgemaak op ‘n spuitprogram waar organofosfate herhaaldelik gespuit is dat rooidopluis kort voor lank bestand geraak het teen organofosfate en die landbousektor in ‘n penarie gelaat was.

Die probleem is egter oorkom deur insekgroeihormone soos Piriproksifen (groep 7C) in kombinasie met minerale olies te gebruik. Juis omdat Piriproksifen in kombinasie met minerale olies gebruik word, is hierdie groeihormoon al 18 jaar lank doeltreffend teen rooidop-luis, sonder enige bewerings van weerstand.

In die Noorde van die Laeveld tot by die Witriviergebied het blaaspootjies in die laaste 5 jaar weerstand begin toon teen piritroïedes (groep 3), maar in die Oos-Kaap is die insek nog 100% vatbaar vir piritroïedes. 

Vir tamatieboere is een van die grootste kopsere dat witvlieg teen ‘n baie vinnige tempo weerstand opbou teen landboumiddels, juis omdat hierdie insek baie geslagte per seisoen na vore kan bring. Groot getalle van hierdie insek kan veroorsaak dat die plant se blare vergeel en afval, wat uit eindelik tot die plant se dood kan lei.

Witvlieg is egter meer bekend vir sy vemoë om plantvirusse oor te dra, wat groot verliese vir die boer kan meebring. Witvlieg is alreeds bestand teen piritroïedes (groep 3), karbamate (groep 1A) en organofosfate (groep 1B), wat deel is van die eens baie doeltreffende chemie-groepe wat in groot aanvraag was en nog steeds is vir die beheer van ander insekplae. 

Dit is egter belangrik om nie dadelik moed op te gee as ‘n landbouchemiese middel nie werk nie. Daar is ander faktore wat ook ‘n rol in die doeltreffendheid van ‘n produk speel; faktore soos weerstoestande, die tyd van toediening, die spuittoerusting wat gebruik is, die metode van toediening en in sommige gevalle ook die fisiologiese toestand van die gewas wat bespuit word.

Maak eers seker dat al hierdie sake reg is voordat onvoldoende beheer aan weerstandbiedende insekte toegeskryf word.

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Behandel-self-jou-saad-met-GC-Tillage-se-MTS-120-Spray-System

Koop ’n geskenk vir jou voete: Boere staan sterk in Lasón-skoene