in

Boere benodig meer beheer

Die allFresh!-konferensie het vanoggend begin met ‘n bespreking oor die volhoubaarheid van die vrugteboer. Die bespreking is deur Louis von Broembson van Fruit Strategies International ingelei.

Hy sê daar is R20 miljard betrokke by vrugte-uitvoere in Suid-Afrika. Daar is ongeveer 200 000 mense werksaam in die bedryf. Produsente self ontvang egter net
R3,2 miljard van hierdie geld.

Hy sê daar is baie faktore buite beheer van die boer soos wêreldvoorraad, die wisselkoers en subidies wat deur buitelandse regerings betaal word.

Faktore wat wel binne die boer se beheer is, is kultivar- en area keues, sakepraktyke, produksieprosesse en bemarkingsmodelle.

“Jy kan nie die wind beheer nie, maar jy kan jou seile na die wind span,” sê mnr Von Broembsen.

Hy sê daar is verskillende kettings van bemarking en hoe meer beheer die boer oor die proses kan hê, hoe beter.

Mnr Von Broembsen het ‘n volhoubaarheidsdriehoek opgestel waarin ekonomiese faktore, omgewingsfaktore en etiese kwessies ‘n gelyke rol speel.

Met betrekking tot ekonomie het hy verwys na produksiekoste wat aanhoudend styg, hoewel inkomste wisselend bly. Hy het ook verwys na die neiging dat groot korporasies produksie oorneem, maar hy meen daar sal steeds plek bly vir die enkelboer, juis as gevolg van sy persoonlike belang in sy onderneming.

Onder omgewingsfaktore  wat ‘n groot invloed op die bedryf het is onder andere die internasionale regulasies rakende neerslae op vrugte, die gebrek aan ‘n sentrale databasis waarin daar akkurate inligting is oor die stand van alle plantbeskermingschemikalieë, die gevreesde e-koli besmetting, die toenemende eise met betrekking tot die koolstofvoetspoor en eksotiese of vreemde siektes wat die land inkom as gevolg van oop grense.

Van die etiese kwessies wat mnr Von Broembsen aangeraak het is:
–    Veiligheid (3 000 mense is al op plase vermoor).
–    Arbeidskoste en arbeidsregulasies.
–    Grondhervorming, met vrae soos wie baat regtig daarby, wat is die situasie met betrekking tot plaasgrootte en wat van die werkers?
–    Die stadige oordrag van vaardighede na swart boere
–    Onregverdige etiese praktyke in die markte soos die oorheersing deur supermarkte.
–    Die infrastruktuur wat agteruit gaan soos paaie, hawens en duur krag.
–    Gebrek aan ondersteuning van die regering.

Hy het die kongresgangers gevra om na aanleiding van al die faktore self te besluit of daar ‘n volhoubare toekoms vir vrugteboere is. Ten slotte het hy gesê wat noodsaaklik is, is dat meetbare uitkomste gestel word.

ProAgri is ‘n mediaborg van die allFresh!-konferensie.

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Verkeerde-klimaat-oor-grond-kan-probleme-skep

Noordwes-se-landboukundige-van-die-jaar-aangewys