in

Boer slim met jou data

 

“Dit gaan uiteindelik oor die water in die grond en nie oor die blink ding wat daar in die land staan nie.” 

Dit is die kernbeginsel wat Theuns Dreyer van Senter 360 al vir die afgelope 20 jaar handhaaf met elke ontwikkeling aan dié skitterspilpunt wat by Senter 360 se fabrieksaanleg op Klerksdorp gebou word. 

Aanvanklik is die spilpunte onder die vaandel van Senwes gebou en verkoop, maar sedert 2007 is dit ‘n onafhanklike maatskappy. Theuns, wat van die beginjare af by die besproeiingsafdeling betrokke was, het deur ondervinding kosbare lesse geleer wat hy nou met groot vrug toepas om van Senter 360 ‘n suksesverhaal in die landbouwêreld te maak. 

Hy sê die besproeiingsbedryf is ‘n moeilike bedryf, want dit is seisoenaal en sterk gekoppel aan ekonomiese bewegings. Om genoeg voorraad gereed te hê wanneer die dinge begin beweeg, is een van die groot uitdagings. 

Theuns sê: “As ‘n boer reg is om ‘n spilpunt te koop, wil hy hom dadelik hê en dan moet ons reg wees.” 

Senter 360 se fabriek is so ingerig dat die hele proses so glad en vinnig as moontlik, sonder foute, kan verloop. In piektye word daar ‘n nagskof ingebring wat help om produksie feitlik te verdubbel.

Senter 360 spog met die prestasie dat hulle die enigste plaaslike maatskappy is wat binne die spertyd van ‘n maand 330 torings kon voorsien vir ‘n besproeiingsprojek in die Vaalharts-skema.

 

Theuns Dreyer van Senter 360 sê hulle is slaggereed, die boere kan maar bestel. 

Nie net is die fabriek ingerig vir ratse produksie nie, die hele ontwerp van ‘n Senter 360-spilpunt is van so aard dat dit maklik vervoer kan word en vinnig op die plaas opgerig kan word. Die geheim is die modulêre aard van die ontwerp. 

Al die pype is 6,4 meter lank sodat dit maklik op ‘n klein vragmotor gelaai kan word. As ‘n boer sy spilpunt wil uitbrei, is dit ook moontlik om ‘n gedeelte in te las. 

Net so met die beheerkas. Enige uitbreidings of verfyning van die stelsel kan op die bestaande kas gedoen word. 

Theuns sê dit gebeur dikwels dat ‘n boer klein begin met een of twee spilpunte wat maklik met die hand beheer kan word, maar soos die boerdery groei, raak elektroniese beheer deur ’n slimfoon of rekenaar nodig. Die bestaande kas kan net aangepas word. 

“Ons het die voordeel dat ons van die begin af ‘n goeie ontwerp gehad het. Dit beteken dat alle opgraderings ook op ou masjiene gedoen kan word,” sê hy. 

En by Senter 360 is daar voortdurend nuwe ontwikkelings en opgraderings om tred te hou met die jongste tegnologie. So, byvoorbeeld, word intelligente digitale verwerkers deesdae gebruik om die loopspoed van die spilpunt te reguleer. In plaas daarvan dat die boer met ‘n draaiknop moet sukkel om persentasies te stel, kan hy nou vir die masjien sê hoeveel millimeter water geplaas moet word – en die slim knaap pas dan self die spoed aan. 

Weer gaan dit oor die water in die grond en nie die blink ding in die land nie! 

Dit is ook moontlik om die spilpunt aan te pas sodat daar seksie vir seksie presisiebesproeiing gedoen kan word na gelang van grondontledings, maar Theuns meen dit sal ‘n boer meer baat om van die begin af sy grond reg te stel sodat hy oral onder die spilpunt hoë produksie kan hê. 

Gehalte is baas 

Van een ding kan ‘n Senter 360-eienaar seker wees; daar word nie gesnoep op gehalte nie. Die beste moontlike materiaal word vir alles gebruik. Van die internasionaal erkende iWob-sprinkelaarpakkette wat standaard saam met die spilpunt kom, tot die vakwerk van pyp wat die boog ondersteun. Pyp is ligter as hoekyster, wat beteken daar kan meer vakwerkeenhede ingesit word vir ‘n stewiger struktuur. Die pyp het ook minder windweerstand, wat sorg dat ‘n Senter 360 altyd bly staan. 

Dit alles dra by tot die tien jaar waarborg op elke spilpunt, sonder fynskrif of waardevermindering. 

Theuns sê: “Ek kon lankal 10% meer wins gemaak het deur die ontwerpspesifikasies te sny, maar die vraag is, waarheen is ek dan op pad?” 

Senter 360 het reeds die reputasie dat dit die spilpunt is wat bly staan en bly werk en alles in die ontwikkeling- en vervaardigingsproses is daarop gerig om dié reputasie net nog verder uit te bou. 

 

Van Senter 360 se goed opgeleide werkers werk al 20 jaar saam met Theuns.

Skakel Theuns Dreyer by 082-564-5955 of 018-469-1331 of e-pos theuns.dreyer@senter360.co.za om Senter 360 die spil van jou besproeiingsukses te maak. Besoek gerus ook www.senter360.co.za.

 

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Bestuur van ooie tydens laat dragtigheid en vroeë laktasie

Senter 360: SA's word die spil van sukses gebore