in

Boer slim en verdien geld met groente

groente

Met lae winsgrense, pryse wat van dag tot dag wissel en ‘n uiters mededingende mark, kan groenteboere dit nie bekostig om foute te maak nie. Hulle moet slim boer!

Gelukkig hoef hulle ook nie meer aan die agterspeen te suig wanneer dit by produksiehulpmiddels soos toerusting vir grondvoorbereiding, plantwerk, skoffelwerk en oesbekerming kom nie.

Op die Nasionale Groenteboerdag wat onlangs deur Joined Specialised Farming (JSF), die Rebelo Agricultural Group en Zuiderwindt Mechanisation by Bapsfontein net buite Pretoria aangebied is, is van die beste ingevoerde en plaaslik vervaardigde masjinerie gedemonstreer.

groente

Die spogkombinasie van die dag was hierdie klepelmaaier (mulcher) van die bekende Struik-reeks wat gebruik word om groenbemesting, in hierdie geval, bladramenas, fyn te kap en te versap. Die plat klepels is spesiaal ontwerp om nie net fyn te kap nie maar ook die sap uit die plante te druk, want dit versnel die vrylating van die gasse uit die blare wanneer dit die grond ingewerk is.

groente

Die Farmax-grondvoorbereider wat agter volg staan in omgangstaal bekend as ‘n slowspitter, sê Francois Bezuidenhout van JSF. Die masjien werk op sy beste teen 2 km/uur om die grond tot op 40 cm diep los te maak, die pasgekapte groenbemesting in te werk en dan met die roller met vibrerende armpies te sorg dat alle kluite gebreek en die bedding mooi gelyk gelaat word.

Die trekker wat die masjiene laat werk, is ‘n Massey Ferguson 7624. Dit is deel van die 7600-reeks wat onlangs bekend gestel is met pluspunte vir groenteboere soos outomatiese gladde ratskakeling sonder dat die koppelaar getrap hoef te word, ‘n rustige kruipspoed en klein draaisirkels.

groente

‘n Trekker wat ook goed verwelkom is in groentegeledere is die nuwe Valtra A95 van 74 kW met ‘n viersilinder AGCO-enjin en 12 X 12 ratkas wat deur Valtrac in SA versprei word. Een van die groot voordele is die geïntegreerde brandstoftenk wat sorg vir ‘n skoon, gladde hoogloop-onderstel wat nie plantjies of beddings sal seermaak nie. Die model is beskikbaar met of sonder ‘n kajuit en operateurs sal ook die plat, oop vloerruimte waardeer.

groente

Ook uit die Valtrac-stal is die Montana-spuit wat aan die driepunt haak en ‘n onontbeerlike wapen teen peste vir ‘n groenteboer is. Let net daarop dat Montana so pas deur Kuhn uitgekoop is en dat die kenmerkende blou voortaan Kuhn-rooi sal wees.

groente

Tyd is kosbaar en dit is verstandig om twee bewerkings tegelyk te doen, met ‘n werktuig voor en een agter die trekker. Nie alle trekkers is fabrieksgereed daarvoor nie, maar Dirk de Koster van Inttrac Trading sê hulle het ‘n plan. Inttrac is die verspreiders van Sauter se nuttige voorkoppelstelsel bestaande uit ‘n driepunthyser en ‘n kragaftakker. Die Sauter pas aan die meeste soorte trekkers en gaan jou oor die langtermyn baie brandstof en tyd bespaar.

groente

‘n Verskeidenheid saadbedmakers is gedemonstreer en die boere het elkeen se spoor diepgaande bestudeer om seker te maak dit is net reg vir plant.

groente

Die pasbewerkte nat grond het dinge bietjie bemoeilik, maar in ‘n droër strook het die Forigo van die Rebelo-groep homself goed bewys met ‘n deurlugte en sagte, maar ferm saadbed. Die Forigo staan ook bekend as die klipbegrawer, wat uiteraard nuttig is vir boere met klipperige grond.

groente

Vir meganiese skoffelwerk tussen die plantjies het Zuiderwindt Mechanisation se plaaslike patent veral die aandag getrek. ProAgri het ook al ‘n video oor die skoffel gemaak; kliek hier om daarna te kyk.

groente

Groenteplant hoef nie meer soos in die verlede ‘n tydrowende rugbreekwerk te wees nie, maar Jose Rebelo het daarop gewys dat boere seker moet maak hulle kry die regte planter vir hulle gewasse en grond. Daar is byvoorbeeld planters wat beter is om kool te plant as slaai en ‘n boer moet maar besluit waar lê sy grootste inkomste of hy moet twee planters kry.

groente

Sonder water kom groente nie ver nie en Mariska Sonnekus van HMMI kon mooi aan die boere beduie watter voordele hulle aanpasbare, maklik verskuifbare BAUER-kruipspuite die groenteboer bied. Die selfaandrewe spuite benodig nie kragtoevoer in die land nie en daar is ‘n hele reeks verskillende groottes beskikbaar. Die spuit is volversink vir ‘n lekker lang leeftyd en die watertoevoer kan fyn verstel word vir presiese toediening na behoefte. Die groter modelle het ‘n rekenaar vir akkurate, eenvoudige verstellings.

groente

Monosem se presisieplanters is welbekend in die graanbedryf, maar hulle sorg ook vir groenteboere. Gesels gerus met Jacques van der Westhuizen van Monotec, wat die planters versprei.

groente

Presisieboerdery is nie net beperk tot graanboere nie. Charlaine Kok van Ronin sal jou presies kan vertel hoe jy brandstof en tyd kan bespaar en ook jou grond ten beste kan benut met presisiepraktyke vir groenteboerdery.

groente

Victor Sabio van Golden Spring sê hy kan jou help om ‘n sleepwa van voor tot agter te bou na jou behoefte.

groente

Die Rebelo-groep lewer voorwaar ‘n eenstopdiens aan groenteboere; van grondvoorbereiding tot op die winkelrak in ‘n netjiese sak.

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

aartappels

Groentepryse: Aartappel- en tamatiepryse is hoër

Dom Boer se lag vir die dag: