in ,

Beveg weerstand by stronkboorders met toevluggebiede

bt-mielies

This post is also available in: Afrikaans

Weerstandbiedendheid van Busseola fusca in Bt-mielies is in 2006 vir die eerste keer angeteken. In hierdie artikel bespreek Philip Fourie van Pioneer die noodsaak van praktyke om weerstandbiedendheid te bekamp.

Sedert die vroeë 1920’s word mieliestronkboorder, Busseola fusca, as ’n ekonomies belangrike pes deur die hele sub-Sahara Afrika erken. Dit lei tot groot oesverliese in mielies. Die ontwikkeling van geneties gemodifiseerde mielies met die Bt-geen wat stronkboorders doodmaak, was ’n groot oplossing.

Ongelukkig kan insekte weerstand teen Bt-mielies ontwikkel. Weerstandbiedenheid kan omskryf word as “’n genetiese afname in vatbaarheid van ’n veldpopulasie teenoor ’n gifstof terwyl dit daaraan blootgestel word” (Tabashnik, 1994).

Weerstandbiedende plantbevolkings kom regoor die mielieproduksiegebiede van Suid-Afrika voor, maar veral in besproeiingsgebiede en die koel Oos-Vrystaat. Gedurende 2011 is ’n nuwe Btmodifikasie in Suid-Afrika vrygestel om larwes wat weerstand teen MON810 bied te beheer. Die nuwe modifikasie, MON89034, gee uitdrukking aan twee Cry proteine; Cry1A.105 en Cry2Ab. Tans beheer MON89034 B. fusca baie doeltreffend, maar ons moet leer uit die foute wat begaan is.

Swak nakoming van toevlugsaanplantingsvereistes deur boere blyk die grootste rede te wees vir die ontwikkeling van weerstand teen Bt-mielies (Kruger et al, 2009).

Indien die korrekte toevlugsvereistes nie getrou nagevolg gaan word nie, sal die risiko van weerstandbiedendheid van die teikenspesie teenoor MON89034 verhoog. Sub-toksiese dosisse van die proteïen in mielieplante, tesame met boere wat nie lande monitor en ondersoek vir skade nie en net aanneem dat die tegnologie werk, is ’n resep vir mislukking (Kruger et al., 2009). Weerstand kan ook die gevolg wees van laat aanplantings, ’n verlengd planttyd en hoë infestasies.

Lewensiklus van die stronkboorder

’n Goeie kennis van die biologie en lewensiklus is ’n vereiste om die interaksie tussen insek en plant te verstaan. Waarneming van die mot is ’n aanduiding van wanneer die larwestadium (kwesbaarste stadium) sal aanbreek. Motte lê die eiers in pakkies op jong plante tussen die blaarskede van die eerste blare wat styf om die stam pas,  en die stam. ’n Wyfiemot kan enigiets tussen 6 en 8 eierpakkies per siklus lê. Studies het getoon dat B. Fusca mielieplante bo sorghumplante van dieselfde grootte en ouderdom verkies. Die larwes (neonates) broei uit n 7 tot 10 dae en migreer dadelik na die kelk (sappige nuwe groei) van die mielieplant. Vanaf die 3de instar (stadium tussen twee opeenvolgende vervellings) migreer die larwes na die basis van die plant en boor hulle na binne. In gunstige omgewingstoestande van 25°C en relatiewe humiditeit van tussen 50 en 60% vorder B. fusca slegs tot die 5de instar en dit neem maar slegs 35 dae.

Motte verskyn 10 tot 14 dae nadat die papiestadium begin het. Motte kom te voorskyn tussen sonsondergang en middernag en is net gedurende die nag aktief. Slegs wyfiemotte stel feromone vry. Paring vind gedurende die eerste 6 uur van die aand plaas. Manlike motte kan verskeie kere paar, maar slegs een keer per aand. Oviposisie (eierlegging) vind plaas vir 3 of 4 aande van die 5 tot 7 dae wat die mot lewe.

So lyk ’n elektroniese motval.

Die rol van feromoonlokvalle

Die gebruik van feromoonlokvalle neem tyd in beslag, maar dit is noodsaaklik. Deur motlokvalle te gebruik, kan die seisoenale verspreiding van motvlugte duidelik gedokumenteer word. As die lewensiklus van B. fusca hierby ingepas word, kan die stadium van larwale ontwikkeling met redelike sekerheid op lande voorspel word. Dit beteken dat dit nie nodig sal wees om elke dag te gaan soek vir skade nie, maar dat lande op die regte stadiums verken sal word vir die skade wat lyk soos haelskade. Moontlike opbou van weerstandbiedende larwes kan vroegtydig en baie vroeg tydens ewolusie waargeneem word.

Pioneer Hi-Bred het van 2013 tot 2016 vier gebiede se motvlugte gemoniteer. In die grafiek is die seisoenale verskyning van die motte by Grootpan duidelik sigbaar.

Uitbreiding van toegang tot Bt-tegnologie

Sedert 2015 het verskeie saadmaatskappye in Suid-Afrika toegang verkry tot die gebruik van die MON89034-proteïen en soos die eienskap deur middel van teling in die verskillende lyne ingebou word, sal meer kultivars met die dubbelgeen vrygestel word. Dit veroorsaak dat meer hektare tussen die verskillende saadmaatskappye van die dubbelgeen aangeplant gaan word, met ander woorde die bron waar weerstandbiedendheid kan opbou is groter.

pioneer
Grafiek 1: Duidelike motvlugpatrone oor 2 seisoene (2013-14, 2014-15) te Grootpan-besproeiingsgebied.

Praktyke om stronkboorder te beveg, sonder opbou van weerstand:

  1. Spuit kan werk

In sekere gevaargebiede waar motvalle gebruik word, word B. fusca baie goed beheer in selfs nie-Bt-mielies, maar dan word gespuit op grond van die opkomsdatum, die aanvang van die motvlug en as ’n drempelwaarde van gemiddeld twee motte tussen drie valletjies per plek bereik word. Twee bespuitings word twee weke uitmekaar gedoen, op grond van die larwes se ontwikkeling. Die spuitstof is gewoonlik ’n mengsel van ’n kontak- en sistemiese middel, opgevolg met ’n insekdoder wat nie nadelig is vir voordelige insekte nie.

  1. Toevlugsoorde bly die beste

Die bekendste van die strategieë, is die aanplant van toevlugsgebiede. Die beginsel berus daarop dat die aangeplante gewas ’n hoë dosis van die Bt-proteïen besit om die teikeninsek te dood, en dat ’n nie-Bt-toevlugsgebied direk langs die Bt-land aangeplant word. Die nie-Bt-land (toevlugsgebied) dien as bron van nie-weerstandbiedende insekte wat moet teel met die weerstandbiedende volwassenes wat oorleef op die Bt-land. Die nie-weerstandbiedende nageslag sal dan beheer word deur die hoë dosis proteïen binne die Bt-lande.

Die geskiedenis het ons geleer dat besproeiingsgebiede die vinnigste weerstand opbou. Weerstand teen MON810 het opgebou omdat daar nie aan die korrekte toevlugsvereistes voldoen is nie. Aanvanklik is gedink dat ’n baan of paar bane in die middel van lande genoeg sou wees om te voldoen aan die 5%-toevlugsgebied, maar ondertussen het navorsing oor die vlugpatrone van die motte getoon dat die gebiede eerder buite of aan die windkant van die land moet wees.

In Figuur 1 kan gesien word hoe die voorgestelde uitlegte van toevlugsgebiede behoort te lyk, inaggenome die  praktiese uitvoerbaarheid daarvan. Indien daar chemies opgetree moet word om stronkboorderlarwes te beheer, mag die toevluggebiede nie gespuit word nie, sodat meer nieweerstandbiedende motte oorleef. Boere moet dus seker maak dat dit wel prakties uitvoerbaar is.

  1. Toevlugsaad in die sak, of in Engels: Refuge in a bag (RIB)

’n Ander insekweerstandbestuursmeganisme (IWB) wat getoets word, is waar die nie-Bt-saad in dieselfde sak met Bt-mieliesaad gemeng word binne sekere voorafbepaalde verhoudings (“refuge in a bag”). Alhoewel dit prakties maklik uitvoerbaar is, is daar kommer oor die doeltreffendheid om weerstand van hoogs migrerende insekte op so ’n wyse te beperk. Daar is kommer dat groter larwes van nie-Bt-plante na Bt-plante migreer en sodoende blootgestel gaan word aan nie-dodelike dosisse van die proteïen. Die heterosigotiese indiwidue sal dan oorleef op die Btproteïen en sal bydra tot vervroegde weerstandewolusie.

Gevolgtrekking:

Enige insek besit die vermoë om weerstand op te bou, maar alles word bepaal deur ekologiese, biochemiese en genetiese prosesse en of die jong larwes vinnig ontwikkel met meer as een geslag in ’n seisoen. Die strategie van ’n toevluggebied berus daarop dat die motte sal paar met weerstandbiedende motte afkomstig van Bt-mielielande. Die resultaat is ’n afname in weerstandbiedende stronkboorders en ’n volgehoue vatbare bevolking van die insekte (Gould, 1998; Timari and Youngman, 2010).

Ons word genoodsaak om beter beheer en regulatoriese programme in plek te stel, dalk met ernstiger gevolge vir die nie-wetgehoorsames. Dit is tot elkeen se voordeel om toevlugvereistes noukeurig na te volg en te onderhou. Motlokvalle is nog ’n meganisme wat ons moet gebruik om bestuursbesluite en navorsing te vergemaklik en vroeë waarneming van probleemgevalle te identifiseer. Die gebruik van ’n stapelgeen soos MON89034, tesame met die nakoming van die toevlugsoordvereistes, is tans die enigste oplossing vir die bestuur van Bt-weerstandbiedende stamboorderbevolkings in Suid-Afrika.

Figuur 1: Die korrekte uitlegte van toevlugsgebiede.

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Australiё spog met reuse avokado’s

Bogballe-strooiers nou nog vinniger, sterker en slimmer