in

Beperking van grondeienaarskap sal ekonomiese ramp wees

This post is also available in: Afrikaans

Agri SA is baie bekommerd oor die onlangse kommentaar van die ANC se voorsitter, Gwede Mantashe. Mantashe het volgens berigte voorgestel dat ‘n beperking op grondeienaarskap ingestel word, wat wit boere tot 12 000-hektaar grond sal beperk. Hy het verder voorgestel dat die oorblywende deel van die grond aan die regering sonder vergoeding oorhandig moet word. Suid-Afrikaanse eiendomsregte moet ten volle beskerm word vir die ekonomie om te groei en so ‘n beperking sal net werkskepping kniehalter.

“Die stelling is irrasioneel en nie weldeurdag nie,” sê Dan Kriek, president van Agri SA. “‘n One-size-fits-all benadering druis in teen gevestigde landboubeginsels siende dat bedrywe en boerderypraktyke in terme van grondgebruik verskil. Verskillende gewasse of diere vereis verskillende grootte plase om finansieel volhoubaar te wees. ‘n 12 000-hektaar plaas in die Karoo sal skaars haalbaar wees.”

“Agri SA se landbouhervormingsplan is met die nasionale ontwikkelingsplan belyn en sal transformasie in die sektor bespoedig.”

Breë voorstelle wat op onteiening sonder vergoeding gemik is sal ‘n negatiewe impak op voedselsekerheid hê en voedselinflasie laat toeneem. Boere het eiendomsregte nodig om produksielenings te verkry en onsekerheid oor eiendomsregte sal voedselproduksie smoor.

“’n Grondplafon sal ‘n negatiewe invloed op eiendomswaardes hȇ,” sê Omri van Zyl, uitvoerende direkteur van Agri SA. “Wanneer eiendomspryse wesenlik val word produksielenings onbekostigbaar. Banke sal etlike miljarde Rande moet afskryf; die landbousektor het ‘n geraamde R160-miljard leningsboek.”

Grondplafonne is sedert 2011 onder bespreking, toe die Groenskrif op Grondhervorming gepubliseer is.

“Verskeie kenners het oor die negatiewe gevolge van grondplafonne verslag gelewer,” sê Annelize Crosby, Agri SA se Hoof vir Sentrum van Uitnemendheid: Grond. “Dit sal nie armoede verlig nie.”

Agri SA sal enige vorm van onregmatige inperking van eiendomsregte teenstaan vir alle boere.

Bron: Agri SA

What do you think?

-1 points
Upvote Downvote

Total votes: 1

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 1

Downvotes percentage: 100.000000%

ProAgri 222

Goeie begin vir bokhaarmark