in

Agri Securitas help boere misdaad voorkom

Die boerderygemeenskappe van Utrecht in KwaZulu-Natal, asook Vaalharts en Namakwaland in die Noord-Kaap het pas finansiële hulp van die Agri Securitas Trustfonds ontvang om deur die aanwending van tegnologie, as ‘n bykomende hulpmiddel, misdaad in hulle gebied te voorkom. Vrystaat Landbou se veiligheidslessenaar wat behulpsaam is met die inwerkingstelling en koördinering van die landelike beveiligingstrategie is ook finansieel ondersteun.

“Die Trustfonds streef daarna om boerderygemeenskappe finansieel te help om die misdaadaanslag teen te werk. Deur die gemeenskappe te help om hulle veiligheid te verbeter poog die Trustfonds om ‘n bydrae te maak tot die landbousektor se produksievermoë om voldoende voedsel en vesel aan die verbruiker beskikbaar te stel en sodoende ook by te dra tot stabiliteit in die land.  Dit is ‘n omvangryke taak wat die Trustfonds op hom neem om boere, plaaswerkers en hulle gesinne se veiligheid te help verbeter,” sê Japie Grobler, voorsitter van die Trustfonds.

Kamerastelsels is handige tegnologie om die beweging van voertuie en persone in en uit ‘n gebied te monitor. Die stelsels word in samewerking met die polisie bedryf sodat verdagte voertuie en persone wat die gebied inkom spoedig opgespoor kan word. Die stelsels word aanvullend gebruik tot die aanwending van plaaspatrollies om ‘n wye dekkingsgebied onder waarneming te plaas en verder dien dit ook as afskrikmiddel vir misdaad. In die Utrecht-geval sal die nagsigtoerusting aangewend word in die stryd teen veediefstal wat in dié gebied ‘n groot probleem is.

Die Trustfonds probeer om met dié hulp die veiligheidsvraagstuk te verbeter, en die gemeenskappe se paraatheid te verskerp. In gevalle waar bydraes reeds gemaak is, word positiewe terugvoer ontvang oor die bekamping van misdaad. Versoeke om hulp word deur provinsiale organisasies oorweeg waarna dit vir goedkeuring aan die Raad van Trustees voorgelê word.

Die Trustfonds gee erkenning aan sy sakevennote, Nissan SA, Sanlam, CrisisOnCall en Sonfin wat deurlopend finansiële bydraes lewer ter ondersteuning van die oogmerke van die Trustfonds.  Die behoefte aan ondersteuning in die stryd teen misdaad en die aansprake op finansiële hulp deur die Trustfonds word al groter en daarom word ‘n beroep op die private sektor gedoen om finansieel betrokke te raak by die Trustfonds se werk.

Uitgereik deur Agri SA

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Dom Boer se lag vir die dag:

Top ten wines of Wellington honoured at Quest for the Best 2016