in

Agri SA verwelkom kleiner toename in rouwaterkoste vir besproeiingsektor

This post is also available in: Afrikaans

Agri SA verwelkom die kleiner rouwaterprystoenames wat die Departement van Water en Sanitasie voorgestel het vir die besproeiingsektor vir die 2021/2022 finansiële jaar.

Die departement het sy voorgestelde rouwatertariefstygings tydens ‘n virtuele vergadering met nasionale belanghebbendes op 20 Augustus 2020 voorgehou. Die departement sal nou by Minister Lindiwe Sisulu, minister van menslike nedersettings, water en sanitasie, aanbeveel dat waterhulpbronbestuurstarief-stygings vir die besproeiingsektor vir die komende finansiële jaar beperk word tot 1,2% vir alle waterbestuursgebiede (behalwe die Oranjerivier-bestuursgebied waar ‘n toename van 10% ingevolge die bestaande Nasionale Prysingstrategie voorgestel word).

Met betrekking tot waterinfrastruktuurskoste, sal die voorgestelde tariefstygings vir die besproeiingsektor beperk word tot 10%. Stygings van tot 50% was aanvanklik voorgestel tydens die vroeër rondtes van die departement se provinsiale en sektor-spesifieke konsultasies. Die departement het dit egter duidelik gestel dat die beperkte stygings wat voorgestel is hoofsaaklik bepaal is in die lig van die ernstige ekonomiese gevolge van die huidige Covid-19 pandemie.

Dit sal outomaties lei tot ‘n inkrimping van die departement se bedryfsbegroting en – besteding in die komende finansiële jaar. “Met groot dele van die binnelandse en globale ekonomie wat geweldig geraak is deur Covid-19, asook die huidige droogtetoestande in groot dele van Suid-Afrika, voorsien Agri SA dat besproeiingsboere toenemend onder ernstige finansiële druk sal verkeer.

Die voorgestelde kostes sal grootliks bydra om sommige van die huidige en verwagte ekonomiese laste te versag,” sê Wayman Kritzinger, voorsitter van Agri SA se Sentrum van Uitnemendheid: Natuurlike Hulpbronne.

“Hoewel Agri SA die voorgestelde tariewe verwelkom, is ons steeds bekommerd oor die gebrek aan deursigtigheid rondom die kosteverhaling, begroting en besteding ten opsigte van hierdie kostes,” sê Janse Rabie, hoof van Agri SA se Sentrum van Uitnemendheid: Natuurlike Hulpbronne.

“Ons is diep bekommerd oor die hoë historiese uitstaande skuldvlakke soos aan ons voorgehou deur die departement. Wetsgehoorsame verbruikers moet nie hoef te betaal vir ondoeltreffende verhaling deur die regering nie. Terwyl ons waardering het vir die stappe wat die regering geneem het om hierdie situasie aan te spreek, soos aan ons verduidelik, is dit duidelik dat verdere drastiese optrede noodsaaklik is.”

Waar die landbou die grootste verbruiker van water in Suid-Afrika is, beloop die historiese uitstaande bedrae wat hierdie sektor aan die regering verskuldig is minder as 10% van die departement se R18-miljard debiteurerekening. Munisipaliteite en water-rade tesame skuld die regering ‘n verbysterende R13 miljard (72%), met maatskappye en ander staatsdepartemente aanspreeklik vir die res.

Agri SA sal voortgaan om met die regering te skakel om te verseker dat water bekostigbaar bly, maar ook dat die bestuur en regulering daarvan verbeter word met die oog op gehalte watervoorsiening.

Bron: Agri SA

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Kyk wat bied Valtrac die boer: Net die beste werktuie en net die beste diens

PlusNet bied deurlopende nuutskeppings vir boere