in

Agri SA reageer op Minister Nkwinti se jongste grondplafonplanne

Die minister van Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, Gugile Nkwinti, het tydens ‘n grond-oorhandigingseremonie in die Nasionale Kruger-wildtuin gesê dat perke van tussen 1 000 hektaar en 12 000 hektaar op grondeienaars toegepas sal word en dat die regering die grond wat meer is as die vasgestelde plafon, sal koop en herverdeel. Minister Nkwinti het vroeër tydens sy begrotingsrede gesê dat die Wetsontwerp op die Regulering van Grondbesit, in terme waarvan die hoeveelheid grond wat enige indiwidu of entiteit mag besit, beperk sal word, gedurende Junie in die Parlement ter tafel gelê sal word. 

Die wetsontwerp sal ook die besit van grond deur buitelanders verbied. Die Minister het reeds verlede jaar aangekondig dat hy voortgaan met sodanige wetgewing. Tot op datum is die wetgewing nog nie gepubliseer vir kommentaar of ingedien by die Parlement nie, het Johannes Möller, president van Agri SA in Upington gesê.

“Daar is al sedert 2011 met die bekendstelling van die Groenskrif op Grondhervorming sprake van sogenaamde grondplafonne. Agri SA het van meet af aan, sterk standpunt hierteen ingeneem en deurgaans goed-gemotiveerde ekonomiese-, voedselsekerheids- en grondwetlike argumente teen grondplafonne op die tafel geplaas. Daar is ‘n werkgroep deur die Minister gestig waaraan Agri SA ook deelgeneem het en onafhanklike kundiges is getaak om hierdie werkgroep te adviseer. Die meerderheid van hierdie kundiges het ook teen die instel van grondplafonne gewaarsku,” het Johannes bygevoeg.

“Internasionale ervaring met grondplafonne dui onder andere daarop dat dit allerlei negatiewe gevolge gehad het, soos die fragmentasie van landbougrond, negatiewe invloed op produktiwiteit, swak winsgewendheid van landbou-ondernemings, min tot geen positiewe invloed op armoede-verligting, hoë administrasiekoste en ‘n negatiewe invloed op belegging in die sektor. Ons kan verseker nie bekostig om te eksperimenteer met iets wat internasionaal so klaaglik misluk het nie, ons dobbel met ons voedselsekerheid,” het Johannes verder gesê.

“Agri SA wag die publikasie van die wetsontwerp af en sal dit onmiddellik deur senior regslui laat nagaan.”

Uitgereik deur Agri SA

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

NAMPO-nuus: Van plastiek tot staal

Dom Boer se lag vir die dag: