in

Agri SA omarm die vierde nywerheidsrewolusie

Dan Kriek is vir ‘n derde termyn as die president van Agri SA verkies op die organisasie se jaarlikse kongres.

This post is also available in: Afrikaans

deur Jaco Cilliers

“Daar is hoop ondanks uitdagings.” Dit was die hoofboodskap van Agri SA op hulle 2019-kongres wat op 10 en 11 Oktober in Pretoria gehou is. Die tema van die kongres was “Die ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse landbou-omgewing in die era van die vierde nywerheidsrewolusie.” Die klem was op nuwe ontwikkeling in meganisasie, outomatisering, biotegnologie en nanotegnologie.

Dan Kriek het in sy presidentsrede probleme geïdentifiseer wat nie net die land nie, maar veral die landboubedryf kortwiek. Hy lys hierdie uitdagings as:

  • Beleidsonsekerheid
  • Plaasaanvalle en -geweld
  • Klimaatsverandering
  • Waterskaarste en -gehalte
  • Stygende insetkoste
  • Arbeidsverhoudings
  • Tekort aan subsidies en ondersteuning
  • Bio-sekuriteit
  • Geweld teen vervoermaatskappy

Mnr Kriek het baie sterk uitsprake gemaak teen die voorgestelde verandering van die Grondwet wat grondeiening sonder vergoeding wettig sal maak. Hy sê dat daar meer as 20 alternatiewe voorstelle in die verslag is, wat vir president Cyril Ramaphosa oor grondhervorming saamgestel is. Dit is dus nie nodig om die ekonomiese risiko’s te neem wat deur onteiening sonder vergoeding veroorsaak word nie.

Die Agri Gauteng lede en hulle medewerkers was ook sterk tydens die Agri SA kongres teenwoordig.

Verder het hy plaasaanvalle sterk veroordeel en Agri SA het hulle ondersteuning aan die SAPS se nuwe landelike-veiligheidstrategie gegee. Agri SA glo dat hierdie strategie die beste manier is om die geweld en algemene misdaad op plase stop te sit.

Mnr Kriek het sy toespraak afgesluit deur te sê dat inklusiwiteit en samewerking tussen die verskeie groepe die toekoms van landbou in Suid-Afrika sal verseker en tot stabiliteit in die land sal bydra. Dit is ‘n standpunt wat die minister van Landbou, Thoko Didiza ook in  haar toespraak uitgedra het.

Die minister se boodskap was dat daar steeds hoop en groeipotensiaal in Suid-Afrikaanse landbou is, ondanks al die uitdagings wat dit in die gesig staar. Sy reken dat die sleutel tot sukses daarin lê dat alle betrokke partye saam sal werk om ‘n goeie toekoms te verseker. Minister Lindiwe Sisulu van die Departement Water en Sanitasie was ook teenwoordig om na die probleme te luister wat die landboubedryf ondervind.

Die verkiesing van Agri SA se nuwe raad het ook plaasgevind. Dan Kriek is weer as president verkies met Pierre Vercueil en Phenias Gumede as die onderpresidente. Cornie Swart, Doug Stern en Francois Wilken dien as verteenwoordigers van die algemene sakekamer. Jaco Minnaar, Niёl Joubert en SK Makinana verteenwoordig die kommoditeitskamer. Gerhard Diedericks, Rossouw Cillié en Nic Bronkhorst dien as korporatiewe kamerverteenwoordigers. Dr Charlotte Nkuna en Dr Kathy Hurley is as onafhanklike direkteure verkies.

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

BOKS-VIR-‘n-BOERVROU in droogtegebiede

TLU SA wens VSA geluk met sanksies teen Guptas – Versoek verdere aksies