in

Agri-Expo Livestock en die Groot Plaasproe bars uit sy nate

Die 2018 BKB-Vleisbeeskoningin, Milagro Amy 1471, tydens Agri-Expo Livestock saam met Danwill Daniels (hanteerder), Andrew Masterson (eienaar van Milagro-plaas, Oesterbaai), Amy en Colette Masterson, en Niel Jordaan (BKB Bestuurder Lewende Hawe en Afslaersdienste Westelike streek).

This post is also available in: Afrikaans

Die vyfde jaarlikse Agri-Expo Livestock-tentoonstelling en die Groot Plaasproe-fees, wat van 11 tot 13 Oktober 2018 gelyklopend op Sandringham buite Stellenbosch aangebied is, het vanjaar byna 16 000 boere en kosliefhebbers gelok. Besoekers kon meer as 150 uitstallings besoek, 300 plaasdiere ontmoet en boonop topdiere van verskeie rasse sien meeding met sowat 20 telersgenootskappe wat betrokke is.

Volgens Johan Ehlers, hoof uitvoerende beampte van Agri-Expo, is hulle aangenaam verras deur die groei in besoekersgetalle en die positiewe terugvoering van die bedryf én die publiek.

“Die waarde van Livestock en die Groot Plaasproe lê daarin dat dit oor die afgelope vyf jaar uitgebou is tot een van die min geleenthede waar die publiek die totale waardeketting van ‘n verskeidenheid van landboubedrywe op ‘n toeganklike wyse kan ervaar,” sê Ehlers. “Vanjaar se bywoning onderstreep ons sukses om die boer en die publiek nader aan mekaar te bring deur net sowat 30 km buite die stad 20-geleenthede-in-een aan te bied waartydens besoekers die plaaslewe van nader kan leer ken.”

20ste Nasionale Holstein-kampioenskappe

Die 2018 SA Holstein Nasionale Kampioen, CS Puttergill & Seuns se Holstein-koei Damion Iona 12077 saam met Brett Puttergill.

‘n Hoogtepunt by vanjaar se skou was die 20ste nasionale kampioenskappe van die SA Holstein- beestelersgenootskap wat slegs vir die derde keer in die genootskap se 106-jarige bestaan in die Wes-Kaap aangebied is. Telers van verskeie provinsies het byeengekom vir dié skou, wat ook ‘n funksie ingesluit het waar aan legendes in die bedryf hulde gebring is. CS Puttergill & Sons se Holstein-koei Damion Iona 12077 is as die Nasionale Kampioen aangewys.

Hannes Pretorius, nuutverkose president van SA Holstein, het die skou as een van die bestes ooit beskryf. “Ons waardeer die professionele standaard waarmee Agri-Expo die Livestock-tentoonstelling beplan en uitvoer, asook die bydrae wat hulle met hierdie platform tot landbou in sy geheel maak,” sê Pretorius.

Jersey as FNB-suiwelkoningin gekroon

Die 2018 FNB-suiwelkoningin, Tierwil Dimension’s Abbigail 13010, tydens Agri-Expo Livestock op Sandringham buite Stellenbosch. Van links na regs: Gratia Snyman (FNB Landbou Bemarking), Lize Loots (FNB Landbou Bemarking en Geleenthede), Arno Cloete (Streekshoof Wes- en Oos-Kaap FNB Landbou), Rikus van Wyk (eienaar van Tierwil Jerseys, Porterville) en Theuns Bruwer (hanteerder).

Livestock is veral gesog vir sy suiwel-interrasskou wat deur die grootste drie suiwelrasse, die Holstein-, Ayrshire- en Jersey-telersgenootskappe, ondersteun word. ‘n Hoogtepunt by vanjaar se suiwelskou, die grootste in Suid-Afrika, was die deelname van die internasionale beoordelaar Brian Carscadden van Kanada, moontlik gemaak deur Semex Suid-Afrika en die Holstein-telersgenootskap van Kanada.

Tierwil Dimension’s Abbigail 13010 van Rikus van Wyk van Tierwil Jerseys buite Porterville is as die 2018 FNB-suiwelkoningin, die hoogste eer aan ‘n teler, gekroon. Volgens Van Wyk was dit ‘n “ongelooflike voorreg” om deel te wees van Agri-Expo Livestock 2018.  Hy beskryf die geriewe en organisering as “van internasionale gehalte, met ‘n uitsonderlike atmosfeer”.

BKB-vleisbeeskoningin ‘n eerste vir Simmentaler

In die vleisbees-interraskampioenskappe, die grootste in sy soort in Suid-Afrika, het 12 rasse in ses verskillende klasse meegeding, met die Brahman, Simmentaler-, Angus- en Hereford-rasse wat koning gekraai het. Die kampioenskappe is vir die eerste keer in die vyfjarige bestaan van die skou deur ‘n Simmentaler gewen. Die titel BKB-Vleisbeeskoningin is aan Milagro Amy 1471, van Andrew Masterson van die Oos-Kaap, toegeken. Dit is die tweede jaar in ‘n ry dat Masterson in die interraskampioenskappe seëvier.

Masterson beskryf Livestock as die “beste bemarkingsgeleentheid vir die bedryf” met “eersteklas geriewe en ‘n “hemelhoë standaard waar jy jouself teen die beste meet”. Masterson sê die groot hoeveelheid besoekers bied nie net uitstekende produkblootstelling nie, maar “bring ook gewone mense in aanraking met ons diere sodat hulle eerstehands kan ervaar hoe goed die diere behandel word”.

Basie Erasmus van Joyce’s Angus-stoet is aangewys as die wenner van die tweede jaarlikse Landbouweekblad-uitdaging vir versorgers en hanteerders. Ander hoogtepunte het die grootste skoleprogram by ‘n landbouskou met sowat 3 000 leerders ingesluit, asook die SA Skaaphondveiling waar ‘n werkende skaaphond vir R30 000 verkoop is, die Wes-Kaapse Boerboelskou, die Kaapse Konynklub se Lentekampioenskap-skou en Internasionale Pinotage-dagvieringe.

Agri-Expo Livestock en die Groot Plaasproe vind volgende jaar van Donderdag 10 tot Saterdag 12 Oktober 2019 plaas. Vir meer inligting, besoek www.livestock.org.za of www.diegrootplaasproe.co.za of kontak Agri-Expo by 021-975-4440 of admin@agriexpo.co.za.

Bron: Agri-Expo

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

PIONEER® Weigh and Win 2018: Irrigation soybean winner is . . . a lady!

kuhn

Valtrac: Bale better with the new Kuhn LSB 1270 DX big pack baler