in

AfriForum

Onregmatige arrestasie en aanhouding: Het ek ’n siviele eis?

afriforum

deur Hein Gonzales

’n Inhegtenisname wat deur wetstoepassingsbeamptes uitgevoer word moet altyd binne die raamwerk van nasionale wetgewing wees, meer spesifiek moet dit strook met die grondwetlike regte soos verskans in die Suid-Afrikaanse Grondwet.

Indien die beampte nie reg optree nie, is jy geregtig op geldelike vergoeding vir die skade wat jy gely het. Onregmatige inhegtenisname is die skending en inperking van ʼn persoon se reg op vryheid. Benewens die ontneming van jou reg op vryheid, is dit ook onbehoorlike misbruik van die stelsel, ʼn aanslag op jou menswaardigheid en ’n kwaadwillige aksie.

Wat moet jy doen?

Die eerste stap is om binne ses maande ná die voorval ’n aanmaningskrywe, opgestel deur jou prokureur, aan die SAPD te stuur kragtens die Wet op die Instel van Regsgedinge teen sekere Staatsorgane van 2002. Daarna word ʼn dagvaarding uitgereik wat die besonderhede van die eis uiteensit. Die vermoede bestaan dat die inhegtenisname en aanhouding prima facie onregmatig is. Die eiser in die siviele saak hoef nie onregmatigheid te bewys nie. Die bewyslas berus by die arresterende beampte en die staat om die hof te oortuig dat die inhegtenisname regmatig en geregverdig was.

Indien die arresterende beamptes ʼn behoorlike lasbrief het, kan dit as ʼn volkome verweer teen jou siviele eis gebruik word. As die eiser beweer dat die lasbrief foutief is, rus die onus op hom rus om die hof te oortuig dat die lasbrief nie aan die wetlike vereistes voldoen nie. Die oortuiging van die arresterende beampte dat die onregmatige inhegtenisname en aanhouding wel regmatig is, is nie ʼn verweer wat jou eis sal “troef” nie.

(Bron: “Amler’s Precedents and Pleadings”)

Skade: Hoeveel kan ek eis?

’n Hof gaan verskeie faktore soos die tydperk van aanhouding, status- en/ of reputasieskade, beserings tydens inhegtenisname en aanhouding en nog meer in ag neem om te bepaal hoeveel skade jy gely het.

Howe het al die volgende bedrae aan eisers toegeken:

  • ʼn 48-jarige sakeman wat sewe dae in onregmatige aanhouding was: R136 000
  • ʼn 41-jarige sakeman wat onregmatig in hegtenis geneem en twee uur aangehou is: R24 000
  • ʼn Sakeman wat onregmatig in hegtenis geneem en drie uur aangehou is: R16 978
  • ʼn 65-jarige sakeman wat 49 dae onregmatig in aanhouding was en saam met misdadigers toegesluit is: R102 000
  • ʼn Professionele persoon wat in hegtenis geneem en 24 uur in ʼn polisiesel aangehou is: R52 000.

Het die arresterende beampte ʼn verweer?

Die wetstoepassingsbeampte wat jou in hegtenis geneem en aangehou het, kan die eis teen hom verdedig deur twee verskillende vorms van verweer te opper. Eerstens kan hy jou feite in dispuut plaas. Dit beteken dat die beampte vir die hof sê dat jou feite oor die aangeleentheid verkeerd is, waarna hy dit kan weerlê deur sy eie getuienis voor die hof te bring. Laasgenoemde kan gedoen word by wyse van getuies te roep, foto’s aan te bied, video’s en/of beëdigde verklarings te openbaar.

Tweedens is die beste verweer teen jou eis dat die arresterende beampte bewyse voor die hof plaas dat die inhegtenisname wel aan die wetlike voorskrifte voldoen het. Die “kinkel in die kabel” vind ons in art 55(1) van die Suid-Afrikaanse Polisiedienswet, Wet 68 van 1995. Hierdie artikel stipuleer duidelik dat indien daar ’n lasbrief uitgereik word wat foutief is in vorm en proses, sal die arresterende beampte nie aanspreeklik wees vir ʼn siviele eis nie, op voorwaarde dat die betrokke arresterende beampte nie bewus was en/of is van die fout nie.

As hy wel bewus was van die fout en voortgaan met die inhegtenisname, sal hy wel aanspreeklik gehou kan word. Art 55(2) van die wet gaan egter verder. Indien die arresterende beampte wat kragtens ʼn lasbrief die magtiging het om iemand in hegtenis te neem, op redelike gronde glo dat hy die regte persoon in hegtenis neem, maar in werklikheid die verkeerde persoon arresteer, is hy ook gevrywaar van enige aanspreeklikheid.

Wat beteken dit in die praktyk?

Indien jy ʼn slagoffer van ʼn inhegtenisname was moet jy onmiddellik jou prokureur raadpleeg om vas te stel of jou inhegtenisname binne die wetlike vereistes val. Indien jou prokureur van mening is dat jy ʼn sterk saak het, kan hy begin met die proses om regsaksie teen die betrokke polisiebeampte en die SAPD in te stel.

Daar moet in gedagte gehou word dat siviele litigasie groot geldelike uitgawes vir jou kan inhou. Waak teen prokureurs wat ʼn betreklike “swak” sake aanvaar ter wille van geldelike gewin. Indien jou siviele aksie onsuksesvol is, kan jy ʼn kostebevel teen jou kry om die regsonkoste van die SAPD ook te betaal. Probeer so ver moontlik met die betrokke prokureur onderhandel vir ʼn gebeurlikheidsfooi-ooreenkoms. Dit beteken kragtens wetgewing dat die prokureur dubbel sy normale fooi kan vra, maar beperk is tot 25% van die eisbedrag soos vanaf die SAPD ontvang indien jou eis suksesvol is. (Wet op Gebeurlikheidsgelde 1997).

Artikel verskaf deur Maroela Media

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

GSI

GSI sit wip in springmieliemaatskappy se sukses

trijicon

Sien raak om raak te skiet: Trijicon het ’n optiese teleskoop vir jou