in

Aartappel is koning

Aartappels was nog altyd baie gewild onder Suid-Afrikaners, maar met vele hedendaagse diëte staan dit bo aan die “verbode”-lysie. Navorsers het nou bepaal wat die voedingswaarde van verskillende kultivars aartappels is.

Die gewildheid van aartappels gaan terug na die 16de eeu toe dit ’n stapelvoedsel op skepe was tydens lang ontdekkingsreise. Vandag word daar jaarliks meer as 300-miljoen metrieke ton aartappels deur meer as 1-miljard mense regoor die wêreld geëet. Boere glimlag van oor tot oor hieroor. Saam met rys, koring, mielies en sorghum, is aartappels stapelvoedsel veral in ontwikkelende lande.

Die gewildheid van diëte wat juis aartappels uitsny en die steeds stygende prys van aartappels weens die droogte, het wel daartoe gelei dat minder mense aartappels begin koop het.

Vroeëre dieetriglyne vir Suid-Afrika het aanbeveel dat koolhidrate, wat gesien word as die liggaam se hoofbron van energie, tussen 45% en 65% van ’n persoon se daaglikse energie-inname moet uitmaak. Deesdae meen voedingkundiges aan dat dit beter is om minder koolhidrate te eet om gewig te verloor.

Prof Hettie Schönfeldt, Carmen van Niekerk en Nicolette Hall, navorsers aan die Universiteit van Pretoria het die voedingswaarde van verskillende aartappelkultivars bepaal om vas te stel of daar beduidende verskille tussen hulle is.

Hulle bevinding was dat hierdie styselgroente se voedingswaarde hoër is as dié van baie ander Suid-Afrikaanse stapelvoedsels soos mieliemeel, rys, brood en pasta. Sommige aartappelkultivars vergelyk goed met gewilde en voedsame voedselsoorte soos tamaties en bone.

Kultivars

Daar word meer as 80 aartappelkultivars in SA verbou. Baie daarvan word aan Suid-Afrikaners verkoop, maar drie uit elke vier verbruikers is heeltemal onbewus van hoe die inhoud van voedingstowwe van die produkte wissel.

Die mark word oorheers deur die kultivars Mondial en Sifra. Die Mondial-aartappel is ovaalvormig, terwyl Sifra-aartappels ronder en hul vlees meer botteragtig is. Lanorma-aartappels het eers onlangs hul verskyning gemaak en raak gewilder.

In Europa is Maris Peer-aartappels die gewildste en Amerikaners verkies die Russet Burbank-aartappel.

Die navorsers het as deel van hulle studie na die verskillende soorte aartappels in Suid-Afrika gekyk en gefokus op die natuurlike biodiversiteit en die uitwerking daarvan op menslike diëte. Hulle het bevind dat daar beduidende verskille tussen die voedingswaardes van verskille soorte aartappels is.

Dié verskille verklaar waarom sommige aartappels nie sag kook nie, terwyl ander spontaan disintegreer terwyl hulle gekook word. Benewens die aartappel self, is die voedingsinhoud daarvan ook met dié van ander groentesoorte vergelyk.

Die aartappelnavorsing het aan die lig gebring dat wat gesondheidswaarde betref, baie aartappelsoorte goed met die ander sogenaamde superkossoorte vergelyk. Piesangs is byvoorbeeld alombekend as ’n uitstekende bron van kalium – iets wat help om bloeddruk te reguleer.

Cavendish is die gewildste piesangsoort wat in Suid-Afrika te koop is en bevat 432 mg kalium.

Daarenteen bevat ’n middelslag-Darius-aartappel sowat 698 mg kalium, terwyl die Fianna-aartappel in meer as 60% van ’n persoon se daaglikse dieetvereiste vir mangaan kan voorsien. Mangaan is noodsaaklik vir die vorming en instandhouding van ’n sterk en gesonde beenstelsel.

Tamaties is bekend daarvoor dat hulle ‘n hoë inhoud van vitamien C het, maar ’n aartappel bevat minstens 4 mg meer as ’n tamatie. Aartappels bevat meer as net vitamien C en minerale.

Een porsie aartappels bevat 24 g koolhidrate, 2,5 g proteïen en amper geen vet nie, terwyl ’n ewe groot porsie rys 21 g koolhidrate en 2 g proteïen bevat.

’n Verdere voordeel van aartappels is dat ’n porsie sowat 2,6 g veselstowwe bevat. Aartappels bevat ook minder kalorieë as mieliemeel, Suid-Afrikaners se belangrikste stapelvoedsel.

Aartappels is ryk aan voedingstowwe en ‘n wye verskeidenheid disse kan daarvan gemaak word. Dié gewas gaan nog lank deur boere geplant word en verslankers moet miskien twee keer dink voor hulle dit summier van die tafel af vee!

Bron: theconversation.com en netwerk24

Skrywers van hierdie navorsingstuk: Prof Hettie Schönfeldt, Carmen van Niekerk en Nicolette Hall, navorsers aan die Universiteit van Pretoria.

What do you think?

-1 points
Upvote Downvote

Total votes: 1

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 1

Downvotes percentage: 100.000000%

Dom Boer se lag vir die dag:

Dom Boer se lag vir die dag