in

50ste NAMPO Oesdag is sterk op dreef

Graan SA is verras met die positiewe bywoningsyfer van die eerste twee dae van sy 50ste NAMPO Oesdag naby Bothaville. Die reën wat verlede week in die graanproduksiegebiede van die land geval het, het die oesdagterrein behoorlik afgestof en is gevolg deur ideale oesdagweer en aangename temperature wat tans voorkom.

Die eerste dag se bywoningsyfer het verlede jaar s’n verbygesteek en die tweede dag was tot dusver behoorlik bedrywig. Hoewel Graan SA gewonder het hoe die afgelope seisoen se droogte die NAMPO Oesdag gaan beïnvloed, lyk dit nie in dié stadium of die bywoning wesenlik van dié van vorige jare gaan verskil nie.

“Die reën wat die graanproduksiegebied onlangs gekry het, het produsente se gemoedstoestand goed gedoen. Dit het nie geld of graan gereën nie, maar hoop,” het Jannie de Villiers, uitvoerende hoofbestuurder van Graan SA, gesê.

Hy sê verder hoewel graanboere nog nie klaar gestroop het nie, hulle volstoom besig is om te beplan vir die volgende oes. Die positiwiteit onder boere is opmerklik en bemoedigend.

Hier is nog nuus van uitstallers:

Agrico

Agrico1

Agrico het onlangs aangekondig dat die maatskappy voortaan net op sy besproeiingsafdeling gaan konsentreer en dat AFGRI die meeste van die ander toerusting in die kleinhandelsafdeling, asook die John Deere-agentskap, gaan oorneem. Hulle erns met betrekking tot besproeiing is gedemonstreer met die bekendstelling van hulle nuwe Internetbeheerstelsel wat ‘n boer se spilpuntbeheer in sy sak plaas. Dewet Burger van Agrico sê die nuwe stelsel wat met Agrico se Advanced Rain-beheerpaneel kommunikeer is eenvoudiger, meer betroubaar en gebruikersvriendelik.

 

Agrico2

 ‘n Boer kan met sy selfoon sy spilpunte aan- of afskakel, van rigting laat verander en seker maak alles is reg.

RFID

RFID1

RFID se hommeltegnologie het besoekers gaande gehad. André Vermeulen sê hulle het besluit om, in teenstelling met ingevoerde modelle wat dikwels net tot 20 minute in die lug kan bly, die klem te laat val op lang vliegtyd en ‘n wye gebied. Met ‘n reikafstand van 30 km en die vermoë om langer as ‘n uur in die lug te bly, kan ‘n wildsboer nou die hele plaas uit die lug dophou. Daar is selfs ‘n petrolmodel wat tot vier uur aaneen kan vlieg. Die gewig van die petrol word eweredig verdeel onder die skroewe en die hommel kan tot 12 kg dra. Die hommel kan geprogrammeer word om gemerkte wild op te spoor en te volg of om roetes te volg om byvoorbeeld al die grensdrade na te gaan. Indien die hommel sy beheersein verloor, vlieg hy terug op sy roete totdat hy dit weer optel.

Staalmeester

Staalmeester1

Staalmeester is lank reeds bekend vir sy reeks JF-kuilvoerkerwers. Die nuwe JF MIX 8000-voermenger het egter ons oog gevang by Nampo. Die selflaaier skraap kuilvoer uit die bunker en laat weer ‘n netjiese, vasgedrukte hoop agter. Die gryproller kan ook ‘n baal op die grond uitmekaar haal en net soveel hooi as wat nodig is invoer. Bale kan egter ook van bo af ingegooi word saam met die kuilvoer, vertel Rafael Prado van JF. ‘n Elektroniese skaal met drie vragsensors laat weet met ‘n luide piep wanneer die regte gewig van die verskillende voerkomponente bereik is.

staalmeester2

Dit is ‘n swaardiensmasjien met ‘n stewige uitlaaiband. Drie horisontale awegare doen die kerf- en mengwerk. Kyk hier na die werking van ‘n  soortgelyke model.   

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

NAMPO is propvol nuwe werktuie

Groter en beter by NAMPO 2016